MYNMANNE

 

‘Myners’ Dis wat alle mense wat op ‘n myn werk deur die man op straat genoem word….en dit maak nie saak watse werk jy op ‘n myn doen nie, vir hulle is die persoon wat op ‘n myn werk ’n myner, iemand wat elke dag ondergrond gaan en sy lewens brood verdien deur steenkool of goud, of watter mineraal ook al onder uit die maag van die aarde haal. Amper soos ‘n rower beroof jy moeder aarde van haar skatte om die stadsmens in die winter lekker warm te laat kry en help om ‘n warm bord kos in hul mae te kry. Dit is ook nie net vir die mense hier in die liewe Suiderland vir wie die myners sorg nie, nee dit is oor die hele wêreld. Die Suid Afrikaanse somer is ‘n goeie seisoen vir die antrasiet myne want dan soek die Europese huisvrouens antrasiet vir hulle stofies om hulle koue Europese huise warm te hou. Die steenkool word in kragstasies, staal fabrieke en hospitale gebruik…oral sien of voel ‘n mens die hand van ‘n ‘myner’.

“Myner” is die versamel naam van die myner, die ambagsman, die operateur en die administrateur… elkeen in die ketting van mynbou produksie.

Annet, Vroutjie-doutjie se beste vriendin uit haar skooldae, het jare terug, een maal in ’n brief gevra “…en hoe gaan die met jou man? Hy is seker teen die tyd ‘n mynkaptein?” Dit vra sy terwyl ek in my hele lewe seker nog net twee maal ondergrond was en dit om net te sien hoe dit daar lyk.

Maar nie te min, ons is almal trots daarop om “Myners” genoem te word.

Ek wil graag vir julle vertel van ’n hengel kompetisie wat jaarliks, spesiaal vir manne wat op myne werk gereël word. Die kompetisie word die “MYNMANNE” Hengel Kompetisie genoem. Dit is ’n jaarlikse roof vis hengel kompetisie by Sodwana aan die Natalse Noordkus. Die kompetisie strek oor een week en elke myn stuur ’n span of paar spanne. Om die regverdig te maak sodat almal wat belang stel die geleentheid te gee om te gaan, word die belangstellendes jaar vir jaar op ’n roterende basis toegelaat om te gaan… ek noem dit net vir ingeval daar iemand is wat dink daar gaan nie produksie op die myne wees terwyl die manne visvang nie.

Ek het onlangs verneem dat die kompetisie eenmaal Mosambiek toe verskyf is, dit was glo nie so ’n sukses nie en vind sedertdien weer op Sodwana plaas.

Ek is eenmaal deur ’n paar vriende genooi om saam met hulle die week op Sodwanna mee te maak. Man, ek was opgewonde en senuweeagtig oor die uitnodiging. Vir ’n kantoor-mannetjie soos ek het die “Mynmaane” al te veel na ’n rowwe storie geklink! Stories oor wat gedurende die week van die “Mynmanne” gebeur… sal ek eerder nie hier sal noem nie. Laat ek die nou onomwonde stel – niks van daardie stories is waar nie – ek het die nou self belewe! Ek kan vir elke vroutjie wat moet tuisbly en wonder hoekom word daar nie ‘n ‘Myn Mense’ gehou word, eerder as ‘n “Myn Manne” wat uitsluitlik vir mans is nie, verseker daar niks wat in die eerbare huwelik as taboe beskou gebeur nie.

En kyk dit gaan nie net oor hengel nie, dit gaan oor visvang ook. Kyk, die manne is stout, maar dit is stout in ‘n goeie sin. Aan poets bakkery is daar geen tekort nie. Bo en behalwe dit, vloei die voggies lustig. Die cliché ‘brandewyn het nie brieke nie’ kom tot sy reg by die “Mynmanne”. Die manne hengel hard en hulle kuier hard.

Ek self is nie ‘n hengelaar nie maar het gedurende die week een keer as lid van ‘n boot se bemanning uit gegaan. Ek was ook so gelukkig om ‘n Barrakuda van sowat nege kilogram te vang. Dit is nou nie groot in ’n hengelaar taal nie maar vir my was dit ‘n reuse prestasie.

Die kompetisie vind baie georganiseerd plaas… daar is baie manne en die verg baie organiesasie. Daar is ’n komitee wat die kompetisie organieseer en koordineer. Die verg egter ook baie organisasie deur die individuele spanne van die myne af. Daar word voor die tyd by die myn vergaderings deur die verskillende Ski-boot klubs gehou. Op hierdie vergaderinge word daar bepaal wie die verskillende bemanning vir die bote sal wees. Daar word ook ’n paar ekstra manne wat nie noodwendig bemanning gaan wees nie, saamgeneem. Uit hierdie ‘nie bemanning’ word dan die kampkommandant, die sjef en die helpers met hulle onderskeie pligte gekies.

Tydens die kompetisie is die program dan soos volg. Soggens van so ongeveer drie uur word die bemanning deur die Kamp Kommandant wakker gemaak. Die Sjef moet dan ook begin met ontbyt, vir die wat so vroeg wil eet, en daar word padkos gemaak vir die bemanning wat die dag op die bote uitgaan. Die helpers moet met eerste lig help om die bote in die water te kry.

Wanneer die bote eers uit is begin die goeie tye vir die mense wat agter bly. Dit is die tye wat ek verkies want, hoewel ek bevoorreg is om nie seesiek te word nie, is daar nie baie wat my opgewonde maak oor om diepsee hengel nie. Die genot daaraan om ‘n vis te vang word heeltemal oorskadu deur die ongerief van die warm son en die groen gesigte van ‘n ander ouens wat siek word. Dit is ook heeltemal te beknop en daar is geen ablusie geriewe behalwe die mooie see nie.

Ek sal eerder varswater dam of rivier gaan swartbaars of forel hengel, dit is tog opwindend en jy bly die heel tyd besig. Selfs om in ‘n meer soos byvoorbeeld St. Lucia te gaan Knorhaan (Grunter), of iets dergeliks vang is vir my lekkerder as diepsee hengel. Veral as jy langs die kanaal in Richardsbaai ‘Crackers’ gepomp het vir aas om by St Lucia te gebruik. ‘n Cracker is ‘n tipe aas wat amper soos ‘n garnaal lyk. Behalwe dat hy net een groot voeler/knyper het. Jy pomp dit met ‘n silinder tipe apparaat deur die silinder oor die gat wat die Cracker in die nat sand maak te hou en dan met ‘n pomp aksie hom uit die gat te suig. ’n Grunter los nie ’n Cracker uit nie! Grunter is vir my die lekkerste eetvis wat jy van die strand of rotse af kan vang.

Om terug te keer tot die “Mynmanne” en my storie van die helpers wat op die strand agter bly nadat die ski-bote die see in is… dit is nou tyd vir die helpers om te gaan stort, ‘n lekker ontbyt te geniet en dan die res van die oggend na hartelus te ontspan deur rond te loop, fotos te neem of te snorkel.

Om te snorkel by Sodwana is ‘n belewenis. Dit was die eerste keer dat ek gesnorkel het maar volgens kenners is Sodwana van die beste snorkel gebiede, met van die mooiste onderwater natuur in die wêreld. Ek het spesiaal vir hierdie “Mynmanne” ‘n goeie snorkel en duikbril gekoop. Later her kuiermense se stout kind gehuil om met die bril te speel. Omdat ek die goeie gasheer wou wees het ek ingestem en tot my spyt het ek die volgende oggend stukke van my duikbril in die tuin opgetel. Ek het my vriend se seuntjie nooit vergewe nie en as ek hom nou moes sien, hy is seker al die in die twintig, sou ek hom graag ‘n knyp of skop wou gee oor my bril wat hy in die tuin laat lê het.

Die snorkel is veral baie goed by Mabibi. Dit is sowat twintig kilometer noord van Sodwana. In die dae toe vier by vier voertuie nog op die strand toegelaat was, was slegs twintig voertuie per dag toegelaat om strand langs na Mabibi toe te ry. Om een van die twintig voertuie te wees moes ‘n mens vroeg opstaan en by die Parke Raad se kantoor gaan toustaan vir ‘n permit. Die natuurskoon en die wonder van die ondersee tonele by Mabibi maak dit egter die moeite werd om tou te staan vir die permit.

Die helpers kon net tot twaalfuur in die middag ontspan. Teen twaalfuur moes almal wat nie op die bote uit was nie weer op die strand wees om die inkomende bote te help. Daar moet reggestaan word met koue bier en koeldrank vir die bemanning en die bote moet gewas word en die vis wat gevang is moet skoongemaak word. Dit is ongelooflik maar die bemanning, selfs na ‘n harde dag op see, help net so hard as die helpers aan die boot en vis skoonmaak.

So teen vieruur is almal gestort en rustig om die kampvuur. Dan is daar klaar gewerk en dan begin die kuier. Ek onthou van die een ou wat ‘n tuna gevang het en so gekuier het dat hy vergeet het om die vis skoon te maak en dit net daar langs die kamp laat lê het. ‘n Ander ou het later met sy 4 X 4 daar aangekom en per ongeluk oor die man se tuna gery. Die volgende oggend het die man onthou van sy tuna en daarna gaan soek. Hy het geskok met die plat tuna by die kamp ingekom en gevra “Wie het van my Tuna ’n sole (tongvis) gemaak?” .

Die sjef wat ons kamp gehad het was ook die sjef van ons spyseniers by die myn. Hy, ‘n ex-Rhodesier, was baie goed gekwalifiseerd en ‘n absolute kenner op die gebied van voedselvoorbereiding en onthaal. Die ontbyt was elke oggend beter as die in baie hotelle… ’n prestasie as jy in ag neem dat hy dit in ’n veldkombuis moes voorberei. Die aand etes was egter nog beter. Ons is getrakteer op spyskaarte met voorgereg, hoofgereg en nagereg vir ‘n fynproewer.

Dit is met een so ‘n aandete dat daar vir ons Mosselssop voorgesit is wat die beste is wat ek nog ooit geëet het. Gelukkig was die sjef nie ‘n ou wat sy resepte geheim hou nie en hy het afskrifte van die resep die volgende week aan almal wat gevra het uitgedeel.

Die Mynmanne se Mossel Sop

1 koppie fyn gekapte ui

2 knoffel huisies – fyn gekap

250 g. margarien

1 lt. vars melk

250 ml vars room

2 tl meelblom gemeng met water

Geursel na smaak

1 koppie wit wyn

of

1 dop brandewyn

1 blik mossels (900 g.)

1 tl gekapte pietersielie vir garnering

Smelt die margarien in ’n pot

Voeg die uie en knoffel by en braai tot deurskynend

Voeg die melk by en bring tot by kookpunt

Skei die mossels van die vloeistof in die blik en voeg die vloeistof by die melk mengsel in die pot

Voeg die meelblom by om die mengsel te verdik

Voeg die wyn of brandewyn en die room by

Roer die mossels (met die skulpe en al) liggies by die mengsel

Voeg die geursel by.

Garneer met gekapte pietersielie

NATAL TOE

 

In 1988 is ek deur my werkgewer oorgeplaas Natal toe. Ons het Empangeni toe getrek. Daar het ons ‘n pragtige huis in ‘n mooi omgewing gekry en ons het besonderse mense ontmoet. Hoewel ons vir die daaropvolgende dertien jaar, as gevolg van my buitengewone werk omstandighede wat ek hier onder verduidelik, ‘n baie abnormale familie lewe gehad het, het die ontspanne en gemaklike tipe vriende wat ons in Natal ontmoet het, die lewe vir ons baie makliker gemaak.

Die myn waarheen ek oorgeplaas plaas was… Zululand Anthracite Colliery, beter bekend as ZAC… was ‘n klein antrasiet steenkool myn, in die middel van Zululand geleë. Met in die middel van Zululand bedoel ek ongeveer veertig kilometer van Ulundi af. Vir die mense wat op ‘n kaart wil kyk waar dit meer presies is, kan ek die aanwysings so gee: Jy ry van Johannesburg af deur Piet Retief na Vryheid, vanaf Vryheid ry jy in Empangeni/Richardsbaai se rigting – voor jy Melmoth kry draai jy links na Ulundi. Net voor jy Ulundi ingaan draai jy regs af na die Mangosuthu Buthelezi Lughawe. Die myn is dan twee en veertig kilometer van Ulundi af in die rigting van die Umfolozi Wildtuin se Okhukhu hek. As jy van Empangeni se kant af na die myn toe ry is dit vyf en negentig kilometer as jy die spoorweg grondpad langs die Richardsbaai spoorlyn vat. Hoewel dit net vyf en negentig kilometer is, ry jy sowat een en ‘n halfuur daaraan want die pad is baie sleg en ‘n mens ry selfs twee plekke deur ‘n drif om die uMfolozi rivier te kruis. In die reën seisoen neem dit langer want, as die rivier afkom is dit nie moontlik om deur die driwwe te ry nie moet jy die langpad oor Melmoth ry. Oor Melmoth is die reistyd vanaf Empangeni tot by die myn sowat twee en ‘n half uur.

Omdat dit so vêr is, regverdig dit nie die koste om elke dag myn toe en terug huis toe te ry nie en gevolglik bly die mynwerkers vanaf Maandag tot Vrydag by die myn. Met wegbreke Woensdag aande om te gaan kyk of alles tuis nog goed gaan… dit is nou die mense wat op Empangeni of Vryheid bly, die wat vêrder bly soos byvoorbeeld op Dundee of New Castle gaan net naweke huis toe.

Hierdie dertien jaar was ‘n groot toets vir ons gesinslewe… en ons het hierdie toets met vlieënde vaandels geslaag het. In die week het ons hard gewerk, ek by die myn, vroutjie-doutjie in haar winkeltjie wat sy in Empangeni begin het en die kinders in die skool. Naweke was vir ons een groot vakansie. Ons het dan by die huis om die swembad gekuier of uitgery en iewers gaan visvang of braai.

Ons gunsteling plekkie om ‘n potjie langs die see te bou was Mission Rock. Mission Rock is so vyftien kilometer van St. Lucia af in die rigting van Cape Vidal. Die hele strand bestaan net uit massiewe rotse. Die see is pragtig blou en die omgewing is nog van die min plekke langs die Suid Afrikaanse kuslyn wat ongerep is.

Met die kuiertjies Mission Rock toe het daar vir my ‘n lekker groot plat rots uitgesoek en terwyl die kinders vissies in die poele tussen die rotse vang en vroutjie-doutjie klippe optel vir haar stokperdjie… sy verf diere op die klippe… het ek ‘n lekker potjie gebou. Vir vuur moes ek gas gebruik. Vuurmaak met hout of kole is by Mission Rock verbode en ek het geen probleem daarmee nie want daar is min dinge so lelik as ‘n half uitgebrande vuur om natuurskoon te bederf nie.

Soos ek reeds genoem het, ZAC se omstandighede was ‘n groot toets vir ‘n gesinsverband. Wanneer daar ‘n krisis by die huis was moes vroutjie –doutjie dit oplos. Ek kon maar net oor die telefoon raad gee. Een van die mynbestuurders het gedurende my onderhoud gesê dat die mense wat op ZAC werk is ‘n spesiale tipe mens, want om onder sulke omstandighede te werk, en steeds ‘n hegte gesinsverband te hou, moet jy ‘n spesiale mens wees.

Omdat die omstandighede vir die meeste werknemers op ZAC so buitengewoon was het ons baie spesiale vriende gemaak met van die mense wat saam met my gewerk het en veral die mense in ons kerk. Ons het nie mekaar se drumpels deurgetrap nie want ons was baie suinig met ons vrye tyd saam met ons gesinne. Ek dink dit is daarom dat vroutjie-doutjie en ek steeds eerder mense tuis onthaal as om te gaan kuier. Ons eie huis is vir ons die lekkerste kuierplek op aarde.

Daar is van die vriende wat ons so gemaak het wat spesiale vermelding in enige boek verdien. Een mens wat in hierdie boek ere vermelding verdien omdat hy ‘n goeie vriend was maar ook omdat hy net soos ons baie van kosmaak gehou het, is André van Wyk. André is ‘n paar jaar gelede oorlede maar sy kwinkslae en bydrae tot ons resepte versameling het en sal ons nog baie jare plesier gee.

Pork Belly

Een van André se gunsteling resepte was die Pork Belly. Dit is nie die vark maag, soos n maatjie van ons dogter, wat een naweek by ons gekuier het, gedink het nie. Die kind het die aand niks van ons braaivleis geëet nie. Die Pork Belly is die gedeelte van die vark tussen waar die ribbes eindig en die middel van die maag. Vra net jou slagter vir n pork belly en enige slagter wat sy sout werd is sal onmiddellik weet waarvan jy praat. Sorg dat dit n stuk is wat meer vleis as vet het. Vra ook die slagter om die vel te ‘scor’. Dit beteken hy moet lang snye, so tien millimeter van mekaar af, in die harde vel sny, let wel, hy moet net die vel breek en nie dwarsdeur sny nie.

Vryf dan die vel goed in met n sout, olyfolie en witpeper mengsel. Gebruik soveel van elk as wat jy self dink sal genoeg wees. Braai nou die belly op n lekker hoender vuurtjie tot dit deur gaar is en die vel krakerig ‘crackling’ is.

Draai dit gereeld om en pasop dat dit nie brand nie. Vark wat brand is geneig om meer bitter te wees as ander vleis soorte wat gebrand is. Met ander vleis soorte kan n mans nog die brand afsny maar met vark kan mens die gebrand deur die hele stuk vleis proe.

Sit hierdie pork belly voor saam met soet-suur kool en een van die aartappel geregte in die boek.

Ek kan my nog een van André se gunsteling resepte in herinnering roep. Toevallig ook n vark resep. Dit is heerlik en net so maklik as pork belly. Dit is vark tjops.

Vark Tjops met Wit Uie Sop

Besprinkel die vark tjop met die wit uie sop poeier en klap dit liggies met jou hand sodat die sop nie afval in die gaarmaak proses nie. Gebruik weer jou hoender vuurtjie om dit gaar te maak.

Daardie tjoppies is ook heerlik saam met ‘n aartappel gereg.

Ek dink, om op ZAC te werk voel soos dit voel om by ‘n afgeleë vakansieoord te werk. Gedurende die dag werk jy hard maar in die aand is die enigste alternatief om by die vloei van die ander vakansiegangers in te val. Daar was in elk geval geen alternatief as om hard te werk nie. Dit is ‘n klein myntjie wat alewig op die drumpel van sluiting gestaan het. Elke werknemer is deur ‘n goeie bestuurspan betrokke laat voel en almal het geveg vir die myn se oorlewing. Ek kan onthou dat kort na ek daar aangekom het vir my gesê is dat die myn nog net vier jaar lewe oor het. Toe ek egter dertien jaar later daar weg is was die voorspelling steeds dat die myn vier jaar lewe oor het. Jy het dus deurentyd alles in jou vermoë gedoen om te help om die myn te laat oorleef.

In die aande moes die manne ontstres en aan moontlikehede vir ontlading was daar nie ‘n tekort nie. Daar was ‘n pragtige kroeg met tafeltennis en snoeker geriewe, ‘n baie lekker dam in die omgewing met ‘n goeie voorraad kurpers en swart baars. Jy kon skyf skiet of kleiduif skiet, of jy kon vlugbal of muurbal speel, of jy kon sommer net langes die swembad ontspan. Ek praat soms oor ZAC in die verlede tyd want ek was jare gelede laas daar en is nie seker of die plak nog dieselfde is nie.

Sowat twaalf kilometer van die myn is die Ohkuku hek van die Umfolozi Wild Reservaat. Dit is nou aan die agterkant van die reservaat soos jy van Ulundi se kant af kom, nie aan die voorkant wat bereikbaar is van die Pongola Empangeni/Richardsbaai pad af nie. Van die werknemers by ZAC was ere-wildbewaarders en die myn het ook baie bygedra tot die onderhoud en instandhouding van die reservaat. Nie amptelik kon van die myn personeel so nou en dan op georganiseerde besoeke reservaat toe gaan. Dit het veral gebeur as gaste van hoofkantoor of die ouditeure die myn besoek het. Ons het dan gewoonlik ‘n middag besoek gereël en dan sommer in die aand by een van die kampe gebraai en lekker gekuier.

Een van die groot lekkertes van die ZAC aande was wanneer ons na werk sommer net om ‘n braaivleis vuurtjie gesit en stories uitruil het. Aan stories was daar nooit ‘n tekort nie. Ek dink byvoorbeeld nou aan die een ou, ek sal, om hom baie gespot te spaar in die res van die boek ‘Krater’ noem.

Krater het met die geringste aanmoediging, die vermoë gehad om besondere stories te vertel. So het hy ons een aand van sy pa se Pitt Bull Terier vertel. Dit was nou in die tyd, so ‘n paar jaar gelede dat Pitt Bull Terriërs die in ding was. Hy vertel toe dat sy pa op ‘n plaas naby Steelpoort gebly en die huis was baie na aan die hoofpad. Die Pitt Bull het soms so langs sy pa op die stoep gelê en ewe skielik sonder enige provokasie begin knor en bewe. Die hond sou so lê en bewe en knor en niks sou hom kalmeer nie! So tien minute later sal jy dan die persoon op die fiets die pad sien afkom. Dan het die Pitt Bull hom al tienminute vroeër gehoor of geruik. Dit was voorwaar ‘n besonderse hond net ‘n ongekende haat vir mense op fietse.

Sy pa het ook ‘n ander hond gehad, ‘n Fox Terier. Dit was sy pa se gunsteling en sy pa sou nêrens gaan sonder die hondjie. Hulle was spreekwoordelik ‘onafskeidbaar’. Die hond het egter ‘n probleem gehad, hy kon nie, soos ander honde, vorentoe spring soos byvoorbeeld oor ‘n heining nie. Hoewel hy baie hoog kon spring, kon hy net op en af spring. Om die rede kon die hond, tot sy eie frustrasie, nooit op die bakkie spring as Krater se pa iewers heen wou ry nie en wanneer sy pa in die bakkie klim en die bakkie aanskakel het die hond verskriklik gehuil en op en af gespring. Krater se pa het toe ‘n slim plan beraam. Hy het in die bakkie geklim en dit so getrek dat die agterkant naby aan Foxie is. Hy het dan die sy kans afgewag en sodra Foxie hoog in die lug was het hy gou agtertoe getrek, reg onder Foxie in. So kon Foxie dan saam met sy pa dorp toe of die hele plaas vol ry.

Ek wil nog net een storie oor Krater se pa en sy wonder diere vertel. Die honde was baie goeie vriende met die huiskat. Oral waar die honde gegaan het, het Huiskat saam gegaan. Wanneer sy pa gaan eende jag het, was Huiskat daar saam met die honde. Wanneer sy pa dan ‘n eend in volle vlug skiet, het die honde die eend gaan soek en by sy pa se voete kom neersit, met Huiskat altyd saam.

Eendag het Huiskat egter weggeraak. Krater se ma het oral gesoek maar kon Huiskat nêrens vind nie. Die honde se gedrag het net so skielik verander. Hulle het nog saam met Krater se pa gaan jag maar anders as gewoonlik het hulle nie meer die dooie eend by sy pa se voete kom neersit nie, maar daarmee in die populier bos op die plaas verdwyn.

Krater se pa het op ‘n dag besluit om hierdie besondere eienaardige gedrag van sy getroue diere na te vors. Hy volg toe die honde die populierbos in en hier kom hy op ‘n besonderse toneel af. Huiskat het in die populierbos kleintjies gekry en die honde vat die eend na hulle kat vriendin om saam met haar kleintjies te eet! Is die nou nie besonders nie?

Behalwe vir stories vertel, het Krater ook baie daarvan gehou om te kook. Nie altyd higiënies nie en ek het meer as eenmaal baie langtand aan Krater se geregte geëet, maar Krater het baie goeie idees en aanvoeling vir kos voorbereiding gehad. Soos met die meeste van ons wat van kosmaak hou, kon jy dit aan Krater se lyf sien. Een van Krater se resepte wat ek al met groot sukses vir gebruik het, is die Bees Filet in die Skottelskaar.

Bees Filet in die Skottelskaar

1 Filet (heel)

12 – 20 klein uitjies

12-20 klein aartappeltjies

250 g knopie sampioene

1 pakkie bruin uie sop

2 kelkies rooiwyn

olie

Maak bietjie olie in die skottelskaar baie warm. Rol nou die filet stadig in die skottelskaar om en om tot dit aan alle kante geseël is. Verminder nou die hitte tot baie laag, daar moet net ‘n paar flou kooltjies onder die skaar brand. Indien jy die skottelskaar op gas gebruik moet jy sorg dat daar ‘n baie klein vlammetjie onder die skaar is. Versprei nou jou uie, aartappels en sampioene om die filet en sprinkel die uie sop oor. Gooi nou die twee kelkies rooiwyn oor. Bedek alles nou met aluminium foelie en druk die foelie om die kante van die skaar vas. As die foelie te smal is en jy moet twee velle gebruik, laat die so bietjie oorvleuel. Moet nie bekommer oor die bietjie stoom wat tussen die twee velle foelie sal uitkom nie. Laat die filet nou oor baie lae hitte vir een uur gaar stoom-kook.

Verwyder die filet van die vuur en laat dit so vyftien minute rus.

Sny die filet in netjiese skuins skywe en sit voor.

Van storie vertellers was daar nooit ‘n tekort op ZAC nie en een man se storie moes altyd die ander oortref. Daar was byvoorbeeld ou Chuck Norris wie se honde, en dan veral sy Pit Bul, baie sterker en aggressiewer was as Krater se pa se hond. Hy kon byvoorbeeld nie die hond in die erf hou as daar fiets in die straat gery het nie. Hy het al probeer om die hek met ‘n slot te sluit maar sy Pit Bull ruk die slot met sy bek uitmekaar dat jy net bloed en stukke slot sien lê.

Chuck het ook nooit ‘n meganiese swembad-skoonmaker nodig gehad nie, sy hond kon nie ‘n vuil swembad verdra nie en as daar ‘n blaartjie in de swembad geval het, het die hond onmiddellik ingespring en die blaar uitgehaal.

Met so langs die vuurtjie sit en vleisie braai moes ‘n man ook darem ‘n bykossie maak. Op ZAC was die gunsteling bykos ‘n ZAC-SAMIE.

ZAC-Samie

‘n ZAC-Samie het nie verskil van ander mense se braai broodjies nie behalwe dat dit nie uit twee snye brood, of ‘n halwe sny brood bestaan nie, nee, dit moet vier snye brood wees. Die broodjies is deur die spyseniers op ZAC gemaak maar die resep is heel eenvoudig. Smeer ‘n brood aan albei kante.

Sit dan in lae;

Ui dun gesny

Tamatie dun gesny (gesout en gepeper)

En baie cheddar kaas (gerasper)

Sit nou nog ‘n sny brood (aan albei kante gesmeer) bo-op.

Braai op ‘n hoender vuurtjie, of sommer so langs jou vleis tot mooi bruin. Maak seker die vuur is nie te warm nie want dan is die kaas nie behoorlik gesmelt nie.

Die rede vir die vuur snye brood in dat jy een van jou samies kan eet as voorgereg terwyl jy wag dat die vleis gaar word. Die ander een eet jy dan saam met die vleis.

Een van die lekkerste lekkers op ZAC was die steak eet so om die kampvuur. Die manne het die kuns bemeester om daardie steak so ‘n medium gaar te maak. Hulle het die steak dan op ‘n groot hout bord – die Zulu vrouens verkoop die borde langs die pad – in repies gesny. Daar is dan in die een hoek van die bord ‘n hopie sout gegooi en in die ander hoek, ‘n dammetjie Tabasco. Die bord word dan om die vuur gestuur en elke ou sleep vir hom so stukkie steak, eers deur die sout en dan deur die Tabasco. Dit gaan heerlik af saam met die bier.

Hoewel daar drie etes per dag wat deur die spyseniers voorberei is, vir die manne op ZAC beskikbaar was, het nie almal altyd al drie etes geëet nie. Vra maar vir ‘n man wat in ‘n koshuis was of ‘n verteenwoordiger wat van hotel tot hotel moet lewe, hoe gou word ‘n mens moeg vir spyseniers kos. Baie van die manne het maar hulle eie ontbytgraan en so ietsie saamgebring om gaar te maak wanneer hulle so voel. Daar was kookgeriewe in elke wooneenheid en jy kon kook soos jy wou. Die wooneenhede het as ‘Kimbo’s’ bekend gestaan. Dit is nou wat die Amerikaners ‘Park Homes’ noem. Dit het bestaan uit drie klein slaapkamers – die grootste was so drie by twee en ‘n half meter – ‘n badkamer en ‘n oopplan sitkamer, eetkamer en kombuis. Jy het dan sommer ook al die gerei en toebehore wat by die huis rondlê en nooit gebruik word nie, myn toe gebring waar dit nut sou hê. So was van ons Kimbo kombuise baie goed ingerig.

Uit hierdie kombuisie het van die lekkerste disse voorgekom waaraan ‘n mens kon dink. Die manne wat nie die voorreg gehad het om in ‘n Kimbo te bly nie, het in eenslaapkamer eenhede, wat net ‘n wasbak gehad het, gebly. Die eenhede was ‘Ski Cabins’ genoem. Hulle het hierdie ‘Ski Cabin’ ook gewoonlik vindingryk verander deur self ‘n klein kombuisie en ‘n toilet te installeer. Ek dink nou byvoorbeeld aan oorlede At Lazenby wat in hierdie kombuisie ‘n heerlike kerriesult voorberei het. Hy het ook by al sy resepte ‘n bietjie Lazenby worcestersous by gegooi en dan gesê hy gooi so bietjie van Ouma Elizabeth se sousies by.

Ek het ‘n Kimbo met my groot vriend Gerhard Coetzee gedeel. Gerhard is, gelukkig vir my, ook lief vir kook en kon wildsvleis soos min ander mense voorberei. Een wat ek spesifiek onthou is sy vlakvark potjie.

‘n Gereg wat ek so nou in dan vir ons voorberei het was ‘n hoender noedel gereg. Die gereg het ek in ‘n elektriese braaipan voorberei.

Hoender Noedel Gereg

1 Hoender in stukke opgesny

Olie om in te braai

Hoenderspeserye na smaak

1 ui fyngekap

1 t tamatie pasta

1 knoffelhuisie gekneus

2 medium aartappels – in skywe gesny

1 koppie gemengde groente (sommer gevriesde gemengde groente)

1 koppie skulp noedels

1 hoender sous blokkie in 250 ml kook water opgelos.

Braai die ui en knoffel in die olie tot glaserig. Skep die ui uit en braai die hoender in dieselfde olie tot ligbruin. Besprinkel die hoender met die hoender speserye voor jy die braai. Ek vind dat wanneer ‘n mens jou speserye so bietjie saam met die hoender braai, kom die geur beter uit.

Wanneer die hoender bruin is, draai die hitte van die plaat af na medium en gooi die uie terug. Gooi nou in lae, die gemengde groente, die aartappels en die noedels. Meng die tamatie pasta met die hoender blokkie-water mengsel en gooi dit bo-oor alles in die pan. Sorg dat die noedels net-net bedek is. Sit die deksel op en laat dit teen ‘n lae temperatuur vir sowat een uur prut.

Nog iemand wat bygedra het tot ons skatkis van resepte, was oorlede Bean, ‘n Indiër man wat in die salaris afdeling by ZAC gewerk het. Hy is onlangs aan ‘n hartaanval oorlede. Sy bydrae was ‘n  Breyani resep wat ons al so bietjie aangepas het vir ons eie smaak.

Bean se Breyani

8 tot 10 hoender borsies – ontbeen, onvel in dobbelsteentjies gesny.

1 t kerrie pasta

Sap van een suurlemoen

1 k jogurt (ongegeur)

1 t tamatie pasta

2 uie – gesnipper

½ k olie

6 medium aartappels (geskil en in dobbelsteentjies gesny)

2 gekookte eiers (afgedop en fyngekap)

1 k lensies – gekook

2 koppies rys – gekook

1 eetlepel margarien of botter

Gooi die hoenderblokkies in ‘n mengbak en voeg die kerrie, jogurt, tamatiepasta en suurlemoensap by en meng tot die hoenderstukkies heeltemal bedek is. Laat dit eenkant om te marineer.

Braai die uie in die olie en verwyder wanneer dit goudkleurig is. Braai nou die aartappel blokkies in dieselfde olie tot dit ook goudbruin is en skep ook uit.

Meng nou die uie by die hoender en marinade mengsel en skep dit dan in die pot waaring die oorblywende olie is. Skep die aartappels en die gesnipperde eiers bo op die vleis. Daarna volg die lensies en dan die rys. Heel laaste skep jy die lepel margarien bo op die rys, bedek en laat die vir ‘n uur stoom.

Bedien met ‘n mengel slaai.

TERUG IN ERMELO

 

Dit was toe ons terug getrek het Ermelo toe dat ons vir Francois en Amelia ontmoet. Dit is besonderse mense, albei was op hulle manier baie uniek, eksentriek en baie, baie lief vir mekaar en vir hulle twee kinders.

Hulle was ook baie lief vir kuier en onthaal.

Francois en Amelia se gunsteling was ‘n roerbraai. Hulle het dood eenvoudig hope vars groente in repies gesny. In hul skottelskaar, waarin hy bietjie olie goed warm laat word het, het hulle repies steak of repies hoender borsies gebraai. As die vleis so naby gaar was het hulle die groente bygegooi en na so rukkie se braai is die geurmiddels en sout bygegooi. Francois se geurmiddels het sonder uitsondering Tabasco ingesluit. Om die waarheid te sê, ek dink Francois het Tabasco saam met sy graanvlokkies want hy het Tabasco saam met enigiets geëet.

Hierdie kuiertjies saam met Francois en Amelia sal ons altyd bybly oor die komiese insidente wat gereeld plaasgevind het as Francois in die omgewing was. Met een geleentheid het Amelia vir ‘Sois’, soos sy Francois altyd genoem het, mooi gevra om nie te veel Tabasco in die kos te gooi nie. Dit was asof sy ‘n knoppie op Francois se skouer gedruk het om sy lus vir Tabasco te aktiveer. Elke keer as Amelia daardie aand haar rug gedraai het, het Francois nog ‘n paar skudde Tabasco bygegooi. Daardie aand het ek aan die kos gepeusel en die vrouens en kinders kon dit glad nie eet nie. Die enigste een wat dood onskuldig weggelê het aan die kos was Francois. Amelia se kenmerkende vermaning van “Ai ‘Sois’ het stil stil verby gegaan.

Op ‘n ander keer het ons die roerbraai by ons huis gehou. Dit het verskriklik gereën en ons moes dit nood gedwonge in die kombuis doen, Met koerant papier op die vloer versprei om te keer dat die vet nie die teëls bemors nie het ons aan die braai gegaan. Francois was baie lus vir kuier en hy wou nie eet toe die kos gaar was nie. “Wie eet nou op ’n nugter maag?” het hy altyd gevra. Toe hy later besluit hy wil nou eet was, dit wat van die kos oorgebly het na die ander geëet het, steeds in die skaar en yskoud. Francois moes die gas weer aansteek en sy korrel was nie meer wat dit moes wees nie. Toe hy uiteindelik die vuurhoutjie by die gas bring het die gas wat onder die skaar geakkumuleer het ontplof. Francois het vir die volgende paar weke met weggeskroeide wenkbroue geloop.

Amelia het altyd heerlike mayonnaise broodjie saam met ‘n braai gemaak. Ons noem dit Amelia se Cheesas. Dit is maklik om te maak en ons gebruik die resep veral as ons vir gaste ‘n vinnige ontbyt moet maak.

Amelia se Cheesas (per persoon)

1 sny brood gesmeer

100 g kaas

Kwart ui (baie fyn gesnipper)

50 ml mayonnaise

Meng die kaas, mayonnaise en ui

Skep dit in die middel van die brood en druk dit effens plat met die lepel (dit sprei uit as die kaas smelt)

Plaas dit op ’n oond rakkie en bak dit in die oond tot die kaas eweredig gesmelt het.

Saam met die mayonnaise mengsel kan jy jou verbeelding gebruik. Vroutjie-doutjie en ek het al die volgende bygevoeg:

Gebraaide sampioene, gebraaide spek (bacon), tuna, gesnyde ham, groen rissie, gaar gesnipperde hoender en gesnipperde pepper dews.

Daar is nog een episode saam met Francois wat ek nie mag uitlaat nie. Dit is die dag met Hannes se Potjie kos ete.

Hannes was die kantoor bestuurder van een van ‘n bekende versekering maatskappye se takke in Ermelo. Toevallig dieselfde kantoor waar Francois gewerk het. Een jaareinde besluit Hannes om al die personeel uit te nooi na ‘n potjie kos-ete by sy huis.

Maar laat my toe om eers die een en ander oor Hannes sê. Hannes was ‘n deeglike man. Sy kar, huis en tuin kon jy altyd deur ‘n ring trek. Veral sy tuin. Op ‘n Saterdag oggend het Hannes nie gaste ontvang nie. Hy het ook nie gehuiwer om dit te sê nie, want Hannes het van vroeg Saterdag oggend af sy kar gewas en in sy tuin gewerk. Hy het geen hulp in die tuin gehad nie en dit was een van die beste tuine in Ermelo.

Nou terug na die jaareinde funksie: Omdat Hannes so deeglik was, het hy al weke voor die tyd beplan aan die Potjie Ete. Hy vou byvoorbeeld twee vleis geregte voorsit, een hoender en een skaap. Dan wou hy ook ‘n nagereg voorsit wat in ’n potjie voorberei is.

Omdat hy besef het hy sal die al die potjies kon hanteer en ook die gaste onthaal nie, het hy my gevra om die hoenderpotjie vir hom te voor te berei.

Ons het so teen tien uur die oggend begin en saam met die eerste rooi word van die kole het die eerste bottel wyn en biere sommer ook oopgegaan. Net so om te seker te maak dat die gehalte reg is.

’n Hoender potjie, waarvan ek die resep later sal gee, was maklik om te maak en ek het dus nie gesukkel nie. Met Hannes se skaap het dit egter nie die heeltyd soos beplan verloop nie. Die vleis was te veel vir die potjie en teen die tyd dat die laaste groente moes by kom kon die deksel nie meer op nie en moes die deksel op geforseer word. Die pot het naar gelyk met die sous wat oor die kante van die pot geloop het elke keer wanneer die deksel op geforseer was. Die heel laaste bykomstigheid was gehalveerde lemoen pampoentjies. Net die helfte van die lemoen pampoentjies kon in die pot pas en Hannes het dit wat oor was in ’n bord langs die vuurmaakplek gelos.

Met Hannes se poeding het dit vir veel beter gegaan nie. Hy het ‘n gekookte poeding beplan. Die tipe poeding het my ma ook so nou en dan gemaak… met meer sukses moet ek noem. In die tipe poeding gooi jy jou aangemaakte deeg in die kokende suikerwater. Die deeg kook dan gaar en die suiker water word ’n heerlike bruin sous vir die poeding.

Alles was reg beplan maar toe Hannes die deeg in die water gooi, maak hy die fout om dit te roer. Die poeding verander toe in ‘n bruin soet sous.

Op die ou einde, was die potjies, behalwe die poeding wat ons nie kon eet nie, nie te sleg nie. Van die poeding wat nie gewerk het nie, het niemand geëet nie en dit het langs die vuur bly staan.

Francois egter, wou weer eens nie op ‘n nugter maag eet nie en terwyl die ander gaste geëet het, het hy homself rustig met ‘n drankie besig gehou. Na vele vermaninge van Amelia, en nadat al die gaste klaar geëet het, het hy vir homself begin kos inskep. Eers rys… toe van Hannes se skaap – die hoender was teen daardie tyd al op geëet – vir groente sien hy die rou lemoen pampoentjies daar staan en… hy het seker gedink dit is gaar pampoentjies wat uit die pot geskep is… hy skep toe maar vir homself daarvan in. Omdat die vleis droog was en daar nie sous vir die rys was nie, skep hy… tot al die gaste se verbasing… vir hom van die bruin sous wat uit vir poeding potjie kom op sy rys.

Tot almal se verbasing het Francois heerlik aan die bord kos wat hy vir homself ingeskep het, weggelê het. Amelia het egter nie gedink dit was snaaks nie! Sy het opgevlieg, die rou pampoentjie uit haar Sois se bord gegryp en doer in Hannes se mooi tuin gegooi. Daar het vir ’n oomblik ’n doodse stilte neergedaal tot breek Francois die ys met ’n “Ag nee man! Hoekom gooi jy my kos weg?”

Uittog Na Middelburg

Van Ermelo af is ons vir ‘n baie kort tydjie Middelburg en toe weer terug Ermelo toe. Dit was tydens hierdie tyd in Middelburg dat ek vir Gerhard van der Merwe ontmoet het.

Gerhard het oorspronklik van die Kalahari af gekom. By hom en sy vrou, het ons ‘n besonderse andersheid in kosvoorbereiding aangetref. Dit het my weereens laat besef dat, soos met baie ander dinge, kosvoorbereiding streeks gebonde is. Soos mense in verskillende lande, verskillende maniere, gewoontes en voorliefdes het, het mense in verskillende streke ook verskille. Dit is nie noodwendig so radikaal verskillend van streek na streek soos dit is van land na land of kontinent na kontinent nie, maar dit is tog treffend.

Gerhard het aan my bewys dat my geloof dat wildsvleis doodgegooi moet word met speserye en kruie verkeerd is. Die ander geloof dat wildsvleis net gekook moet word en dan ook so gekook moet word dat dit naderhand uit mekaar val omdat dit van nature taai is, is ook deur Gerhard verkeerd bewys.

Gerhard het eendag vir ons koedoe steak op ‘n vuur voorberei wat sonder enige wilde smaak was. Gerhard se steak nie na beesvleis geproe nie! Dit het steeds ‘n besonderse smaak gehad waarna Gerhard verwys het as die werklike smaak van Koedoe. Die vleis was sag, geurig en besonder.

Ek het ‘n hekel daarin dat mense wildsvleis voor berei deur dit so te dokter en beneuk dat dit amper nie meer na vleis proe nie. Dan spog hulle nog agterna daarmee dat so lekker voorberei is dat jy nie sal sê dit is wild nie. Wie wil nou wildsvleis eet wat na bees of skaap proe? Jy eet dit dan juis omdat dit wildsvleis is! Ongelukkig het ek nooit Gerhard se koedoe steak resep by hom gekry nie en ons lewens het oor die jare in verskillende rigtings geloop, met die gevolg dat ons totaal kontak verloor het.

Wanneer Gerhard en ek bymekaar gekom het, het die ons so lekker gesels en dit gewoonlik oor ‘n paar biere, dat die tyd verby gevlieg het. Buitendien het bier, gelukkig of ongelukkig, die uitwerking om jou geheue en jou sin vir tyd, selektief uit te vee. Dink nou byvoorbeeld aan hoe die tyd in ‘n kroeg kan vlieg. Jy gaan sit met ‘n paar vriende en drink ‘n vinnige paar biere en as jy jouself kom kry, is jy laat by die huis. Wanneer vroutjie-doutjie dan vra waaroor jy so lank is die kroeg sit en gesels, kan jy gewoonlik nie veel detail onthou nie. Die rede daarvoor is dat dit nie vir die menslike brein moontlik is om soveel intellektuele detail te stoor nie en jy onthou dus net oppervlakkig.

Dit is nou nie dat die drank jou dom maak en jy dus nie kan onthou nie! Nee, drank maak jou juis slimmer! So het ‘n kenner my eendag in ‘n kroeg meegedeel. “Jy sien” het hy verduidelik “Dit werk so. Drank veroorsaak dat daar van ‘n mens se breinselle doodgaan. Maar die swak breinselle gaan eerste dood. Dit is soos die natuur, as ‘n leeu ‘n trop buffels jaag, dan is die trop buffels wat weghardloop so stadig as die stadigste buffel. Wanneer die leeu dan die stadigste buffel agter die trop vang, beweeg die trop buffels ‘n bietjie vinniger want die swakste buffel is gevang en die trop beweeg so vinnig as die tweede stadigste buffel. Wanneer ‘n leeu dan die tweede stadigste buffel vang beweeg die trop nog ‘n bietjie vinniger soos die derde stadigste buffel. So word die stadigste buffels geëlimineer en die trop word al vinniger. Net so val drank die swakste breinselle eerste aan en soos die swak breinselle doodgaan word jy al slimmer!”

Vroutjie-doutjie vra ook altyd hoe ek so lank op die ongemaklike kroegstoeltjie kan sit? Nou kom ek vertel jou van een van die wonders van die lewe! Daar is niks op die aarde so sag soos ‘n kroegstoel nie! Die kan van hout of staal gemaak wees, maar dit bly heerlik sag!

So het ons een aand vir Gerhard en sy vrou, genooi om by ons te kom braai. Vroutjie-doutjie het soos gewoonlik ‘n hele dag spandeer aan kosvoorbereiding, tafeldek en al die goed wat ek gewoonlik dink is tydmors. My vrou glo egter nie daaraan dat jy sommer ‘n vleisie op die vuur gooi en dan sommer so langs die vuur eet, of nog erger, sommer so van die vuur af eet nie. Nee, sy glo daar moet tafel gedek word met al die fênsie goedjies soos gevoude servette, blomme en so aan.

Dit was ‘n baie koue wintersaand en terwyl die vrouens binne gesels het, het ek en Gerhard buite langs die rooster gesit om die vleis dop te hou. Natuurlik met ‘n biertjie in die hand om ons warm te hou en ons slim te maak. Die vleis het baie stadig aangestap en ons wou dit nie aanjaag nie want vleis wat op die vuur aangejaag word in onsmaaklik en taai. Die biere het naderhand opgeraak en ek moes noodgedwonge ‘n bottel Blanc De Noire nader trek. Later… baie-baie later het vroutjie-doutjie uitgekom om te kyk hoekom bly ons so lank weg met die vleis. Volgens haar het ek en Gerhard heerlik op die stoep gesit en gesels, met leë glase in die hand en ek met die bak koue braaivleis op my skoot… vrouens het mos maar ‘n alternatiewe manier om die wêreld te sien.

Ek en Gerhard het aan tafel nie veel gesels nie en was minder lus vir eet. Miskien was ons versadig van die bier en wyn of dalk was dit die koue. Nodeloos om te sê , die vrouens was nie bietjie vies nie! Van vroutjie-doutjie se harde werk om bykosse en slaaie te maak het net die twee vrouens so liggies aan gepeusel. Gerhard se vrou het, as bydrae tot die ete, ‘n groot bak aartappel gereg saam gebring waarvan ons die volgende dag geëet het. Dit was heerlik. Ons gebruik die resep nog gereeld en wanneer ons dit eet dan dink ons aan die ‘Blanc De Noir’ braai.

Aartappel en Spek Gereg (Gerhard van der Merwe se vrou sin)

6 medium Aartappels (gekook en geskil)

1 Groot ui (gesnipper)

30 ml olie

250 g gesnipperde spek

250 g sampioene (in skyfies gesny)

Witsous (resep onder)

125 g gerasperde kaas

Braai die uie, spek en sampioene saam in die olie.

Haal van die stoof af en laat eenkant staan terwyl jy die witsous maak.

Meng die witsous met die ui, spek en sampioene

Sny die aartappels in skyfies

In ‘n kasserol oondbak doen die volgende:

Pak ‘n laag aartappels gevolg deur die witsous mengsel. Herhaal tot al die aartappels gebruik is.

Sprinkel die kaas oor die laaste witsous laag en bak in oond tot die kaas mooi bruin is.

Basiese Witsous:

60 ml margarien

60 ml meel

500 ml melk

½ t mosterd

Sout en peper na smaak

Smelt die margarien in ‘n pot oor lae hitte

Voeg dan die melk bietjie vir bietjie by en roer aanhoudend met ‘n houtlepel of draadklitser sodat dit nie klonte maak nie. Maak seker al die klonte is uitgeroer voor jy die volgende bietjie melk byvoeg. (Onthou die moet ‘n lae hitte wees en moet nooit ophou roer nie. Eintlik sou dit lekker werk as jy vier arms en hande gehad het maar nou moet jy maar klaarkom met wat jy het!) Die mengsel moet ‘n dikkerige pasta vorm maar nie te dik nie! Dit moet nog loperig wees. As jy dink dit is te dik, voeg nog melk by. As jy sien die mengsel kook te vinnig en jy kan nie byhou nie, haal die so bietjie van die plaat af.

Ermelo se Dae

Dit is belangrik dat ‘n mens, as dit vir ‘n keuse tussen sport en kosmaak kom, jou prioriteite reg moet hê. Dit het byvoorbeeld op Ermelo met my gebeur dat my liefde vir rugby en veral vir my span, Transvaal (nou die ‘Magtige Leeus’), die oorsaak was dat ek ‘n hele ribbetjie verloor het.

Ek het die vuurtjie reggekry en my ribbetjie opgesit. Ek het my stoel in die gesinskamer so voor die televisie geposisioneer dat ek ‘n ogie oor die braaier kan hou om te red as die vet van die ribbetjie skielik vlamme veroorsaak. Die braaier was so skuins voor die skuifdeur van die gesinskamer. Alles was gunstig, die kole was net reg, die weer was heerlik en die ribbetjie was besig om op sy tyd gaar te word. Die enigste probleem was dat my span so op die randjie van verloor was. So teen halftyd kon ek sien die ribbetjie sal teen die einde van die wedstryd net reg wees en dit was ‘n vertroosting vir die senuwees. Die tweede helfte was ek my span se enigste ondersteuner. Almal was teen hulle… die opposisie (Noord-Transvaal) die skare en die skeidsregter. Ek moes al my ondersteuning en aandag aan die wedstryd gee en het skoon van die ribbetjie vergeet.

My verbasing was baie groot toe ek na die wedstryd by die braaier kom en my ribbetjie was skoonveld. Daar, so ‘n ent van die braaier af het Bertus, ons ses maande oue boerboel, wat toevallig na my beste vriend vernoem was, rustig aan die ribbetjie gestaan en smul.

Die ribbetjie wat Bertus so rustig aan gesmul het was ‘n skaapribbetjie wat ek soos volg voorberei het

Ribbetjie

‘n Ribbetjie is een van daardie ‘no nonsens’ dinge wat ‘n mens vinnig kan voorberei. Dit is van die min vleissnitte wat ek nie omgee dat dit eers gevries was nie. Dit is dus ideaal om ‘n ribbetjie vir ‘n noodgeval in die vrieskas te hou.

Wanneer jy ‘n keuse moet maak oor ribbetjie jy gebruik is daar ‘n paar dinge wat jy in gedagte moet hou.

Skaap ribbetjie:

n Skaap ribbetjie is van nature geneig om vetterig te wees, daarom is dit belangrik om jou ribbetjie maer te kies. Die voorbereiding van die ribbetjie is net so belangrik as die gaarmaak proses.

Jy moet jou slagter die ribbetjie laat knak. Dan moet jy die vel kant met ‘n baie skerp mes deur sny tot op die been. Sny dit in vyf sentimenter vierkantige blokkies. Smeer nou die ribbetjie met ‘n mengsel van olie, sout en witpeper. Braai die ribbetjie met die beenkant eerste na onder op ‘n hoender vuurtjie. ‘n Hoender vuurtjie is ‘n vuur wat nie te warm is nie. Draai die ribbetjie baie om. Die ribbetjie moet lank en stadig gebraai word om soveel moontlik van die vet uit gebraai te kry.

Vark ribbetjie:

‘n Vark ribbetjie is nie so vetterig soos ‘n skaap ribbetjie nie en as dit reg gekies word is daar baie meer vleis aan.

Die vark ribbetjie se vel moet ook deur gesny wees maar nie so diep as die van die skaap ribbetjie nie, die vel moet net gebreek word. Dit moet ook nie in blokkies gesny wees nie maar in lang repies al langs die beentjies af. Smeer die ribbetjie ook met ‘n mengsel van olie en sout maar gebruik swart peper. Terwyl die ribbetjie gaar word meng jy sowat twee eetlepels heuning wat jy sommer in die mikrogolfoond bietjie warm gemaak het met een eetlepel aangemaakte mosterd. Dit smeer die oor die ribbetjie so vyf minute voor jy die ribbetjie van die vuur afhaal. Wees versigtig, die mosterd-heuning mengsel brand maklik, so bly by die vuur en haal dit af sodra jy dink die geur het lekker deur getrek.

Bees rib:

Vir bees rib gebruik jy plat rib wat in ‘n strook van tien sentimeter oor die dwarste van die been gesny is. Marineer die strokies bees in die volgende marinade –

Marinade vir beesvleis:

3 groot uie (gekap)

3 t. olie

6 t. Tamatie sous

6 t. woestersous

6 t. soet wyn

6 t. bruin suiker

3 t. blatjang

1 takkie roosmaryn

1 t. tiemie blare

2 t. pietersielie

Sout en peper na smaak.

Indien jy nie vars kruie het nie kan jy gedroogde gemengde kruie gebruik.

Laat die rib vir ‘n dag in die marinade lê en braai dit dan stadig oor die hoender vuurtjie.

Wanneer dit gaar is kan jy dit dan tussen die ribbebene deur sny om tien sentimeter lengte, enkel beentjies te kry.

Jy kan ook die ribbetjie, of selfs chuck of steak in dieselfde marinade gaarmaak deur dit op die stoof, stadig te laat prut of in die oond, in ‘n toe kasserol bak, te braai-kook.

Braai in die winter het vir my ’n besonderse andersheid

Wanneer dit by braai kom het elke man maar sy gewoontetjies en maniere. Dit is ook altyd raadsaam om aandag te skenk aan wat jou gasheer om en op die braai doen, ‘n mens kan net iets by leer – hoewel sommige kuiermense die gewoonte het om die braai-vurk, by jou eie huis, uit jou hande te vat en die vleisie op sy manier gaar te maak. Ek het so byvoorbeeld geleer dat as jy jou rooster met ‘n deurgesnyde ui smeer voor jy braai, sit jou vleis nie op die rooster vas nie. Jy kan dan sommer die ui in die vuur gooi. Daardie geur van die ui wat in die vuur braai is altyd aangenaam.

Met ’n potjie is dit natuurlik ’n ander saak. Daar doen ek my ding en bewaar die man wat sy neus, wat staan nog sy vinger, in my pot kom steek. ’n Interessante storie wat ek onlangs gehoor het is van ’n ou wat sy potjie die vorige dag al maak. Dit is nou omdat ’n potjie altyd die volgende dag beter smaak. Voor die gaste dan die volgende dag opdaag, maak hy sy vuurtjie en gooi die kos in en laat die lekker kook so asof hy vroeg al die potjie aanmekaar geslaan het.

Ek het ‘n twee groot probleme met die ‘tegniek’ – die eerste is dat dit jou van die saam kuier om die potjie ontneem. Die twee is dat die bestanddele wat laaste bygevoeg moet word om die potjie af te rond, soos room of klappermelk of sop, nie gekook, of lank gekook moet word nie en dit dus die potjie sy unieke smaak ontneem of aanbrand. Onthou my tog om later in die boek te vertel van McGyver en die potjie by die kerk.

Een van hierdie goeie herinneringe in ons ‘begin dae’ was ons ‘Een Pot vir Twee’.

(In ‘n hele paar van ons resepte gebruik ons suurlemoenskil. Hierdie resep was miskien die oorsprong van die gewoonte.)

Een Pot vir Twee

½ kg stowe biefstuk of chuck in 2 cm blokkies gesny

1 suurlemoen

1 pakkie groente soppoeier

1 medium ui – fyn gesny

½ soetrissie – fyn gesny

2 aartappels in blokkies gesny

1 handvol bevrore of vars ertjies

1 handvol bevrore of vars wortels (klein worteltjies of dobbelsteentjies)

1 vleis aftreksel blokkie in ‘n koppie kookwater opgelos

olie om in te braai.

sout na smaak en so bietjie vars roosmaryn (sowat een teelepel) as jy nie roosmaryn het nie, staan nou op en gaan kwekery toe en gaan koop ‘n plantjie want elke huis moet ‘n roosmaryn struik in die tuin hê.)

2 lepels blatjang

Braai die ui in olie tot deurskynend. Voeg die soetrissie en vleis by en braai tot bruin. Rasper die skil van die suurlemoen – (wees versigtig om nie die wit onder die skil ook te rasper nie. Dit is bitter en sal jou gereg ook bitter maak). Voeg nou die volgende by: Die suurlemoen skil en die sap van die helfte van die suurlemoen, die sop (in bietjie water opgelos), vleis aftreksel en blatjang. Voeg nou die sout by maar wees hier ook versigtig om nie te veel in te gooi nie want die vleis aftreksel en die soppoeier is reeds sout. Kook vir sowat een uur tot die vleis sag is. Bedien met rys.

Nog een van hierdie ‘met min klaarkom resepte is ‘Prima rib met aartappels en uie’

PRIMARIB (of chuck) MET AARTAPPELS EN UIE

Primarib (genoeg vir die gaste)

Aartappel (genoeg om die vleis te bedek)

1 of 2 groot uie

Gemengde speserye

Sout en vars gemaalde swartpeper

Olie om in te braai

250 ml vleis aftreksel.

Braai die primarib sommer in die kasserol bak op die stoof tot bruin. Die primarib moet net genoeg wees om ’n enkellaag in die kasserolbak te vul

Sny die aartappel en uie in skywe. Sit eers ’n laag ui op die vleis, dan ’n laag aartappel en dan weer ’n laag ui.

Geur met sout peper en gemengde speserye.

Voeg die vleis aftreksel by, bedek en plaas in oond teen 180º vir ’n uur.

Bedien met groente en slaai.

Dit is juis hier in Ermelo waar ons die idee gekry het om ons eie lewer en netvet te maak. Party mense noem dit ook pofadders en ander noem dit weer skilpadjies.

Die lewer en netvet wat ‘n mens by die slaghuis koop is na my mening net gemaak om dit so vinnig moontlik afgehandel te kry en so veel moontlik wins mee te maak. Die meeste slaghuise maal nie die lewer nie en dan sit jy met hompe lewer in die netvet. Ek het ook al by meer as een geleentheid lewer en netvet gekoop wat of te veel sout in het of wat glad nie sout het nie.

Lewer en Netvet

Een mooi skaap lewer

Een ui

Twee snye brood

½ t. fyn kruie naeltjies

Sout en wit peper na smaak

Een of twee netvette, afhangende van hoeveel en hoe groot jy die porsies maak.

Maal die lewer met ‘n vleis meul

Na die lewer maal jy die ui wat jy in kwarte gesny het en die brood. Die brood sal dan sommer die oorblywende lewer en ui uit die meulletjie druk.

Meng nou die naeltjies, sout en peper met die lewer, ui en brood mengsel.

Sny die netvet in blokkies van ongeveer tien vierkante sentimeter.

Skep die lewer mengsel lepel gewys in die netvet blokkies. Pasop vir te veel lewer, dit druk uit die netvet in die gaarmaak proses.

Vou dit toe en steek vas met ‘n tande stokkie.

Plaas dit vir sowat ‘n uur in die yskas om te set voor jy dit gaarmaak. Braai oor ‘n matige hitte.

Van kleins af kyk ons kinders saam met my rugby. Ek kan ook met trots sê dat ek my kinders so positief beïnvloed het dat hulle dieselfde span as ek ondersteun. Ons dogter het byvoorbeeld so by vierjarige ouderdom saam met my voor die televisie kom sit en dood ernstig gevra “Pappa vir watter kleur skree ons vandag?”

Wanneer ‘m mens so rugby kyk moet jy darem altyd ‘n ou ietsie hê om aan te peusel en wat kan nou lekkerder wees as ‘n hoendervlerkie. Jy moet dan ook nie vir ‘n man wat rugby kyk ‘n Buffalo Wing wat souserig en taai is gee om te eet nie, nee jy gee hom ‘n lekker krakerig-hard gebak wees.

Hoendervlerkies

Ek was my hoedervlerkies mooi skoon en gooi hulle dan goed met sout, witpeper, so ‘n titseltjie peri-peri en hoeder speserye. Ek pak hulle dan so ‘n halfuur voor die rugby begin mooi in gelit in ‘n oond pan en sit hulle in ‘n oond wat vooraf tot 180º C verhit is. Wanneer die rugby dan begin is die eenkant reg kan jy dit omdraai sodat die anderkant kan gaar word. So teen die helfte van die eerste helfte kan jy gou die vlerkies uit die oond haal en sommer so in die oond pan TV kamer toe neem. As jy wil kan jy dan sommer ook ‘n bakkie Soet Rissie Sous, saam vat om die vlerkie deur te sleep vir ekstra geur. (Die Soet Rissie Sous resep gee ek later)

Groen Mielies in die Mikrogolf

Nog ‘n ding wat lekker is om so voor die TV te eet terwyl jy rugby kyk is ‘n vars groen mielie. ‘n Baie lekker manier om ‘n groen mielie gaar te maak is in die mikrogolfoond.

Mikrogolf Groen Mielies

Jy trek die mielie se blare af maar los die laaste paar blare wat die pitte bedek. Mikrogolf dan die mielies op 100 persent krag vir vier minute vir die eerste mielie en twee minute vir elke bykomende mielie. Wanneer jy ’n mielie met die blare wat jy op die mielie los in die mikrogolf gaarmaak het die mielie baie meer van sy natuurlike geur as wanneer jy dit sou kook.

Jy kan nou sout en botter op die mielie sit of jy kan Marmite op hom smeer vir ekstra geur.

Dit is daar in Ermelo, en nie in die Kaap nie, waar ‘n mens regtig kennis maak met rooiwyn, of osbloed soos my ou vriend Bertus, die een na wie die hond vernoem is, dit genoem het. Dit was daar waar ‘n mens jouself op ‘n koue wintersaand, langs jou vuurtjie, met ‘n kelkie osbloed teen die koue probeer verweer.

Dit was so ‘n winter Saterdag dat vroutjie-doutjie my en Bertus opdrag gegee het om vleis vir ‘n potjie te gaan koop. Ons is toe af na ou Peet se slaghuis toe. Dit was daardie tyd die bekendste slagter in die omgewing. By ou Peet gekom, het ons in die slaghuis rondgedraai en nie geweet wat ons moet koop nie. Vir ‘n skaap potjie was ons al moeg en ons het nie geweet of die gaste almal hoender eet nie. Dit was toe dat Peet vra hoekom ons nie bees skenkel probeer nie. Hy het die skenkels gewys en ons het gedink dit is net die ding.

By die huis gekom was vroutjie-doutjie baie kwaad Hoe kan ons dan nou sopvleis, want dit was al waarvoor ons in daardie dae bees skenkel gebruik het, wil gebruik om ‘n potjie mee te maak! Bertus en ek het al die skuld op Peet gepak want hy is die kenner wat mos moes weet dit is sopvleis. Ons het uit nood ‘n resep saamgeflans wat op die ou ent nie net lekker was nie maar ook een van ons gunstelinge geword het.

Bees Skenkel Potjie

1 kg skenkel

12 klein uitjies geskil

12 klein aartappeltjies

250 g. sampioene

2 knoffel huisies gekneus

2 t. bruin suiker

botter en olie om in te braai

1 eetlepel tamatie pasta

2 kelkies rooi wyn

sout, peper en ander speserye waarvan jy hou.

125 ml room

Verhit die olie en botter in jou potjie. Gooi nou die uie, knoffel en suiker by en braai dit. Moet nie te veel roer nie want die uie moet heel bly. Die suiker sal die uie ‘n mooi goudbruin kleur gee. Skep nou die uie uit en braai die skenkel wat in kleiner stukke gesny is in dieselfde olie/botter mengsel tot bruin. Gooi nou jou sout, peper en speserye by en braai vir nog sowat ‘n minuut. Gooi nou die uie terug, gevolg deur die sampioene en aartappels. Meng nou die tamatie pasta met die rooiwyn en gooi dit by en as die vog te min lyk gooi nog ‘n bietjie wyn of water by. Laat dit kook vir sowat twee ure of tot die vleis sag is. Roer die room in net voor die potjie van die vuur afgehaal word.

Ons het in die ou dae in Ermelo nie veel van ‘n keuse gehad van watter restaurant jy wil besoek nie. Dit was, of een van die bekende franchise restaurant, die Holiday Inn (wat in daardie tyd nog in Ermelo bestaan het) of Carl se restaurant. Carl se restaurant was die uithang plek waar slegs gegaan het wanneer daar ’n spesiale geleentheid was of wanneer ’n ander ou betaal het. Dit is hier by Carl se restaurant waar ons met die Patesca kennis gemaak het. Die voorgereg het my so beïndruk dat ek dit nooit vergeet het nie. Kyk, hierdie voorgereggie was warm! So warm dat jy dit amper nie wou eet nie, maar so lekker dat jy nie kon ophou eet nie!

Ek het baie pogings aangewend om dit na te maak maar was nooit suksesvol nie. ’n Vriend vertel my toe op ’n dag van ’n gastehuis waar hy gewoonlik tuisgaan dat daar by die gastehuis buiten gewone lekker disse bedien word. Hy noem ook dat die gasheer se naam Carl is en dat Carl voorheen ’n restaurant in Ermelo bedryf het. Ek het onmiddellik aan my Patesca gedink en hom gevra om met sy volgende besoek, die Patesca resep te kry. Ek het getwyfel of ek die resep sou kry want sulke wonderlike resepte word nie maklik uitgegee nie. My verbasing was egter groot toe die vriend eendag die resep voor my neersit.

Patesca (voorgereg vir vier mense)

400 gram Bees Filet (In baie klein blokkie gesny)

1 Ui

1 hoogvol teelepel Peri-peri (Nie vir die sensitiewes onder ons nie!)

½ t. Paprika

Sout en peper na smaak

250 ml Room

Hier moet jy nou improviseer soos nog nooit tevore nie want soos jy, het ek ook die resep sonder hoeveelhede of ’n metode ontvang. Ek het dit maar soos volg aanmekaar geslaan!

Braai die uie (gesnipper) in olie tot deurskynend

Braai die bees filet in vinnig in dieselfde pot tot bruin. Ek het vir vier mense net sowat 400 gram filet gebruik want dit is ’n voorgereg.

Voeg nou die sout, peri-peri en paprika by en braai nog sowat een minuut.

Draai die hitte heeltemal af en roer die room by.

Dit moet warm wees! Dit is die hele idee!

KUIER OM DIE FONDUE POTJIE

 

‘n Maklike manier om redelik goedkoop te onthaal is fondue.

Die fondue kan lekker informeel wees, met goeie beplanning is daar nie ure se voorbereiding nodig nie.

Jy kan sommer gemaklik op die sitkamermat, om die veranda tafel of selfs op ‘n piekniek kombers op die grasperk sit. Fondue is ‘n lang en laat kuier manier van onthaal, so wees versigtig wie jy nooi. Jou gaste moet almal mense wees wat lekker klaarkom en daarvan hou om lank in mekaar se geselskap te wees. Die een groot voordeel van so plat sit en kuier is dat jy nie vêr sal val as die wyntjies te veel praat nie.

Vir fondue gebruik ons verkieslik blokkies steak. Filet, wat ideaal is, is duur so as jy rump gebruik, sorg dat die sag is want, veral omdat die steak die basis van die fondue is, bederf ‘n taai stuk steak maklik die aand. Die vleis moet in 1.5 cm tot 2 cm blokkies gesny wees en die senings moet uitgesny wees. Saam met die steak kan jy die volgende voorsit – vars knopie-sampioene, snoep worsies (cocktail sausages), klein aartappeltjies in die skil wat gekook is maar nog ferm is (andante), wortels wat in strokies gesny is, murg pampoentjies wat ook in strokies gesny is en nog sommer enigiets anders wat lekker in die fonduepotjie sal braai. As bykos bedien ons bakkies met dwerg-agurkies, blokkies kaas en klein (cocktail) broodrolletjies. Hierby saam bedien jy ‘n fyn mengelslaai en baie, baie wyn!

Die beste souse vir jou fondue is die souse wat met min moeite en baie verbeelding gemaak word. Vandag is daar ‘n verskeidenheid souse te koop wat is houertjies aangebied word wat mooi genoeg is om net so, in die houertjie, aan tafel aangebied te word. Ons hou egter nie van die winkel souse nie en maak maar ons eie mengsels. Dit is goedkoop en maklik om jou eie sousie aanmekaar te slaan en dit maak die aand soveel interessanter.

Jy kan byvoorbeeld ’n kwart koppie mayonnaise, meng met ’n kwart koppie Bulgaarse- of Griekse jogurt. Hierby gooi jy dan ’n bietjie Worcestersous en rooipeper. Jy kan ook Mayonnaise met so ‘n skud tamatie sous meng en ’n bietjie worcestersous bygooi.

Hier volg ’n paar van ons gunsteling fondue souse:

Onthou: Jy kla nie as jy nie vars kruie het nie. Jy klim nou in jou kar! Ry kwekery toe en koop ‘n paar kruie plantjies. Ek sal later in die boek die een en ander oor gebruik kruie en versorging van die kruie tuin vertel!

Fondue Souse

Kruiesous

¼ koppie mayonnaise

¼ koppie Griekse jogurt

2 tl fyn gekapte ui

¼ koppie vars gekapte kruie soos roosmaryn, tiemie, marjolein of oreganum.

2 tl suurlemoen sap

Meng dit net saam en gebruik.

Salami en Sampioen Doopsous

100 gr sampioene

100 gr salami

25 ml botter

25 ml meel

250 ml melk

1 klein ui

12.5 ml olie

sout en peper na smaak

Maak die ui, sampioene en salami in ‘n voedsel verwerker fyn.

Dit is beter om van jou idees eers te probeer voor jy gaste oornooi vir die fondue want nie alles slaag in die fondue potjie nie. ’n Voorbeeld is skaapvleis blokkies. Dit is ’n GROOT NEE!. Jare gelede het ‘n kollega, wie se pa ‘n skaapboer was, ons genooi om by hulle te kom fondue. Die enigste vleis op die tafel was blokkies skaapboud. Om een of ander rede het wou die vleis net nie behoorlik gaar word nie en dit het ‘n gekookte skaapvleis reuk afgegee. Ek moet erken na die eerste paar glase wyn sou die geur nie meer gepla het nie, die enigste probleem was dat die enigste bottel wyn op die tafel, die een was wat vroutjie-doutjie en ek saam geneem het.

Sorg altyd dat jy na jou fondue, hoe moeg jy ook al mag wees, die skottelgoed minstens kombuis toe gedra is en die leë wynbottels in die vullisblik gegooi is. Ons eerste fondue in ons vroeë huwelikdae was ‘n groot sukses. Die kos was baie lekker en daar was meer as genoeg rooiwyn. Na die gaste weg is het ons alles net so gelaat vir die ‘Goeie Fee’. Daardie nag het die ‘Goeie Fee’ nie opgedaag nie maar wel ‘n tipiese hoëveld storm. Die volgende oggend het ons geskok, deur rooi-bewynde oë, gesien hoe ons woonstel se hele vloer onder water was. Die water het by die voordeur ingespoel en by die agterdeur uit. In die eetkamer het die tafel met die vuil skottelgoed en leë bottels wyn ons begroet.

Die Begin

 

Ons het nog altyd ‘n voorliefde om mense te onthaal. Rondry- en kuiermense is ons nie eintlik nie. Ons geniet dit meer om by ons huis te kuier en onthaal. In die meeste gevalle is daar gewoonlik ‘n lang redekawel oor hoe formeel die onthaal gaan wees. Vroutjie-doutjie hou voet by stuk dat daar tafel gedek moet word met blomme en kerse en die hele gedoente. Ek voel dat die informele om die vuur eet die lekkerste is. Dit is seker nodeloos om te sê dat ek die geveg gewoonlik verloor en ons mense meer formeel onthaal as wat ek sou verkies. Ek sal dit nou nie hardop erken nie maar met nabetragting moet ek gewoonlik erken dat sy tog reg was. As daar nou een ding is waarmee ek nie regkom nie is die om met ‘n papierbord op my skoot te eet.

In, wat ons graag na verwys as die ou dae, toe ons as brandarm pasgetroude paartjie in ‘n woonstel in Middelburg gebly het, het ons graag van die ander woonstel bewoners genooi vir ete. Omdat die woonstelblok se inwoners almal jonggetroude paartjie of afgetrede mense van die laer inkomstegroep was en dit almal net so skraps soos ons gehad het, kon ons sonder op duur te onthaal, ons verbeelding en vindingrykheid gebruik om armoede ‘n verrassende ete saam te flans wat baie geniet is sonder dat iemand gedink het dit is minderwaardig. In daardie dae was die Allegaartjie ‘Mixed-grill’ ‘n groot gunsteling. Dit het dan bestaan uit ‘n eier, stukkie boerewors, steak, skaaptjop, aartappelskyfies en ‘n mengelslaai. As jy bietjie moeite met die voorbereiding doen soos om die steak eers bietjie te marineer of ’n lekker peper sousie daarmee saam te maak of die tjoppie te dokter met ‘n kruie en parmesaan-kombersie kan dit ‘n gewone ‘Mixed-Grill’ omtower in iets besonders.

Hier is ’n lekker resep vir ‘m Peper Sous vir die steak en die Kruie en Parmasaankombersie vir die skaap tjops:

PEPER SOUS vir STEAK

1 eetlepel botter of margarien

1 koppie room

1 eetlepel mosterd

1 eetlepel vars gemaalde swart peper

1 dop branderwyn

Bietjie meel in kouewater opgelos as die sous te dun is.

Maak die sous sommer in die pan waarin jou steak gaargemaak is of as jy die vleis op die vuur gaan gaarmaak, steel so stukkie vleis van die grootste stuk steak af en braai dit vooraf met jou botter of margarien in jou pan waarin jy die sous wil maak.

Draai die hitte op medium en roer die peper, mosterd en brandewyn daarin vir so twee na drie minute daarin om al die geur uit die pan op te tel. Roer die room by, laat die ’n rukkie prut.

Gooi dit oor die steak net voor jy dit voorsit.

KRUIE EN PARMASAANKOMBERSIE VIR SKAAPTJOP

1 teelepel Parmasaan per tjop

1 teelepel vars basilkruid per tjop

1 teelepel pietersielie per tjop

1 teelepel harde roosterbrood (dit is sowat een sny vir vier tjops)

Maat alles in jou voedsel verwerker fyn.

Braai die skaaptjop soos jy en jou gaste daarvan hou, skep die mengsel oor die tjops en sit voor.


In my jongdae het ek my altyd vervies vir die mense wat die ou dae so geheilig het. Vandag is ek een van die mense wat terug dink aan die goeie ou dae! Vroutjie-doutjie en ek het al meer as eenkeer terug verlang na die ou dae, toe ons pasgetroud en brandarm was en tog heerlike geregte vir net ons twee kon opdis.

Ek het middae by die huis gekom en aangesit aan ‘n tafel met kos voorberei vir ‘n koning. Die vleis was smaak voorberei en die groente is voorgesit is ‘n vlekvryestaal opskepbakkie met afskortings vir elke groentesoort. So nou en dan het ‘n lekker nagereg die ete afgerond.

In retrospeksie die begin dae van ons huwelikslewe lag ons baie oor die innoverende metodes wat ons gebruik het om dinge te doen!

Omdat daar net nie geld was om elke nou en dan ‘n koeldrank te koop nie moes ons maar ‘n alternatief prakseer. In vroutjie-doutjie se ou skool boekprysresepteboek was ’n maklike gemmerbier resep. Hierdie resep het ons lank gebruik om gemmerbier te maak. Later het ons ‘n bietjie moeg geraak vir gemmerbier, maar weereens, aan vindingrykheid het ons nie tekort geskiet nie. Ons het gou uitgevind dat die roomysverkoper, wat elke middag met sy fiets met die groot roomys kas voorop, by die woonstelblok verby geklokkie het, ‘n groot liefde vir gemmerbier gehad het. Hy het glad nie gehuiwer om ‘n paar roomyse vir ‘n liter gemmerbier te ruil nie. Op warm dae het ons sommer ‘n hele karton met sowat tien roomyse vir ‘n liter gemmerbier geruil.

Gemmerbier

3 koppies suiker

3 lt. kook water

3 lt. koue water

3 tl Jamaikagemmer

1 koekie saamgepersde suurdeeg

Los die suiker in die 3 lt. kookwater op. Gooi die koue water by en roer deur. Indien dit nog baie warm is, laat afkoel tot lou. Voeg die Jamaikagemmer en suurdeeg by en roer tot die suurdeeg opgelos is. Laat staan vir twaalf ure op ‘n warm plek om te gis. Moet nie die bottel in die gis proses toe kurk of ‘n prop op draai nie. Die bottel sal ontplof.

Later het ons nog ‘n makliker gemmerbier resep gekry wat net soos Ouma se gemmerbier geproe het –

Sweeto Gemmerbier

1 botteltjie Sweeto (200ml)

2 koppies suiker

8 liter lou water

1 25g koekie saamgeperde suurdeeg

2 stokkies kaneel

2 hande vol rosyntjies

Los die suiker en die suurdeeg in die lou water op. Voeg die res van die bestanddele by en roer goed. Laat vir 24 uur op ‘n warm plek staan. Gooi deur ‘n moeselien doek, verkoel en drink. Pasop weereens om nie die bottel in die gistings proses toe te kurk of toe te draai in. Sit eerder ‘n stukkie plastiek sak liggies oor.