KUIER OM DIE FONDUE POTJIE

 

‘n Maklike manier om redelik goedkoop te onthaal is fondue.

Die fondue kan lekker informeel wees, met goeie beplanning is daar nie ure se voorbereiding nodig nie.

Jy kan sommer gemaklik op die sitkamermat, om die veranda tafel of selfs op ‘n piekniek kombers op die grasperk sit. Fondue is ‘n lang en laat kuier manier van onthaal, so wees versigtig wie jy nooi. Jou gaste moet almal mense wees wat lekker klaarkom en daarvan hou om lank in mekaar se geselskap te wees. Die een groot voordeel van so plat sit en kuier is dat jy nie vêr sal val as die wyntjies te veel praat nie.

Vir fondue gebruik ons verkieslik blokkies steak. Filet, wat ideaal is, is duur so as jy rump gebruik, sorg dat die sag is want, veral omdat die steak die basis van die fondue is, bederf ‘n taai stuk steak maklik die aand. Die vleis moet in 1.5 cm tot 2 cm blokkies gesny wees en die senings moet uitgesny wees. Saam met die steak kan jy die volgende voorsit – vars knopie-sampioene, snoep worsies (cocktail sausages), klein aartappeltjies in die skil wat gekook is maar nog ferm is (andante), wortels wat in strokies gesny is, murg pampoentjies wat ook in strokies gesny is en nog sommer enigiets anders wat lekker in die fonduepotjie sal braai. As bykos bedien ons bakkies met dwerg-agurkies, blokkies kaas en klein (cocktail) broodrolletjies. Hierby saam bedien jy ‘n fyn mengelslaai en baie, baie wyn!

Die beste souse vir jou fondue is die souse wat met min moeite en baie verbeelding gemaak word. Vandag is daar ‘n verskeidenheid souse te koop wat is houertjies aangebied word wat mooi genoeg is om net so, in die houertjie, aan tafel aangebied te word. Ons hou egter nie van die winkel souse nie en maak maar ons eie mengsels. Dit is goedkoop en maklik om jou eie sousie aanmekaar te slaan en dit maak die aand soveel interessanter.

Jy kan byvoorbeeld ’n kwart koppie mayonnaise, meng met ’n kwart koppie Bulgaarse- of Griekse jogurt. Hierby gooi jy dan ’n bietjie Worcestersous en rooipeper. Jy kan ook Mayonnaise met so ‘n skud tamatie sous meng en ’n bietjie worcestersous bygooi.

Hier volg ’n paar van ons gunsteling fondue souse:

Onthou: Jy kla nie as jy nie vars kruie het nie. Jy klim nou in jou kar! Ry kwekery toe en koop ‘n paar kruie plantjies. Ek sal later in die boek die een en ander oor gebruik kruie en versorging van die kruie tuin vertel!

Fondue Souse

Kruiesous

¼ koppie mayonnaise

¼ koppie Griekse jogurt

2 tl fyn gekapte ui

¼ koppie vars gekapte kruie soos roosmaryn, tiemie, marjolein of oreganum.

2 tl suurlemoen sap

Meng dit net saam en gebruik.

Salami en Sampioen Doopsous

100 gr sampioene

100 gr salami

25 ml botter

25 ml meel

250 ml melk

1 klein ui

12.5 ml olie

sout en peper na smaak

Maak die ui, sampioene en salami in ‘n voedsel verwerker fyn.

Dit is beter om van jou idees eers te probeer voor jy gaste oornooi vir die fondue want nie alles slaag in die fondue potjie nie. ’n Voorbeeld is skaapvleis blokkies. Dit is ’n GROOT NEE!. Jare gelede het ‘n kollega, wie se pa ‘n skaapboer was, ons genooi om by hulle te kom fondue. Die enigste vleis op die tafel was blokkies skaapboud. Om een of ander rede het wou die vleis net nie behoorlik gaar word nie en dit het ‘n gekookte skaapvleis reuk afgegee. Ek moet erken na die eerste paar glase wyn sou die geur nie meer gepla het nie, die enigste probleem was dat die enigste bottel wyn op die tafel, die een was wat vroutjie-doutjie en ek saam geneem het.

Sorg altyd dat jy na jou fondue, hoe moeg jy ook al mag wees, die skottelgoed minstens kombuis toe gedra is en die leë wynbottels in die vullisblik gegooi is. Ons eerste fondue in ons vroeë huwelikdae was ‘n groot sukses. Die kos was baie lekker en daar was meer as genoeg rooiwyn. Na die gaste weg is het ons alles net so gelaat vir die ‘Goeie Fee’. Daardie nag het die ‘Goeie Fee’ nie opgedaag nie maar wel ‘n tipiese hoëveld storm. Die volgende oggend het ons geskok, deur rooi-bewynde oë, gesien hoe ons woonstel se hele vloer onder water was. Die water het by die voordeur ingespoel en by die agterdeur uit. In die eetkamer het die tafel met die vuil skottelgoed en leë bottels wyn ons begroet.

Advertisements

2 thoughts on “KUIER OM DIE FONDUE POTJIE

  1. Hello DaarEk en my vrou dink you blog is nogal heel cool. Ons het ook so bietjie van n “oeps” aand gehaat met n Fondue.Ek was so simple gewees om die burner oor die mat vol te maak (vir die refill – lekker gewyn)en nie besef dat ek te veel in gooi nie. So ver as wat ek loop drip die spirits oor die mat. Toe ek daai burner aan die brand steek toe vat daai spirits vlam soos n bliksem straal oor die tafel in n streep oor die mat tot waar ek vol gemaak het en begin die besigheid ernstig brand.Ma kyk, toe is ons almal nugter.

    Like

  2. Ons het lekker gelag oor die groter fiasko as ons eie. Dankie vir die inloer. Ons het sopas klaar nuwe huis gebou so jy sal verstaan dat ons maar wienig by die bloggery uitkom. Ons het ‘n heerlike sous resep om saam met varktjops te bedien. Sodra ek kans kry dal ek dit pos.Geniet die naweek en stuur gerus nuus en idees na ons e-mail adres jenbbonthuys@gmail.comGroete

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s