FOCACCIA (2)

Ons focaccia was ’n groot sukses en baie lekker!

 

Hier is die resep! Soos julle ons seker teen die tyd ken het ons weer ’n paar veranderinge (volgens ons ‘verbeteringe’)  aan die resep aangebring!

 

500 g koekmeel

1 pakkie droë gis

2 t sout

100 ml olyf olie

1 koppie warm water

4 t fyngekerfde knoffel

10 Peppadews (gehalveer)

10 swart olywe (ontpit en halveer)

8 t vars roosmaryn (fyngekap)

½ k gerasperde mozzarella kaas

50 ml parmesaan kaas (fyn)

Bietjie growwe sout

 

Meng die meel, 2 t sout en die gis. Meng die olie en water saam en voeg dan bietjie vir bietjie by die meel terwyl jy dit meng. Hou aan meng en water/olie bygooi tot die mengsel sag is maar nie meer aan die kante van die skottel klou nie. Knie nou die deeg goed. Tien minute as jy ’n menger gebruik of 20 minute as jy met die hand knie. Maak nou die deeg ’n mooi balletjie en sit dit in ’n olie gesmeerde bak om te rys. Op ’n lekker warm plek sal dit sowat twee ure neem om dubbel die oorspronklike grote te rys.

 

Knie dit nou net af en druk dit effens plat Versprei nou die helfte wan die  roosmaryn, Peppadews, olywe en knoffel bo-oor en knie dit weer vir so een minuut tot alles nou mooi deur die deeg versprei het. Nou rol jy die deeg uit sodat dit in ’n vierkantige oondpan pas. Plaas dit op die oondpan en sit dit op ’n plek waar dit vir nog ’n uur kan rys. Strooi nou die res van die roosmaryn, knoffel, olywe, Peppadews en die kaas oor. Druk met jou vinger duike in die deeg en sprinkel olyfolie en die growwe sout oor. (Ek het sommer fynsout daarvoor ook gebruik want ek is bang die growwe sout smaak te sterk.)

 

Bak dit nou in ’n vooraf verhitte oond (220° C) vir 30 minute.

 

Lekker eet!  

Advertisements

FOCACCIA

Vroutjie-doutjie en ek probeer vandag ‘n focacia uit ‘n tydskrif wat sy by die dokter se ontvangsdame gebedel het. (Vra eerder die tydskrif as om skelm die blaai uit te skeur en dan die half verkeurde tydskrif daar te los. Gesteelde resepte werk soms maar jy sal nooit lekker aan die kos van ‘n gesteelde resep eet nie want jou tande sal die heel tyd vir jou vertel jy was skelm!). Die deeg is nou besig om te rys.

Ons het al voorheen ‘n focaccia probeer maar ek was te baldadig met die growwe sout! Hierdie keer gaan ek versigtiger wees met die sout. Die resep het peppadews in. Ek sien  daarna uit om te sien hoe dit werk!

Ons het ook al ‘n ciabatta probeer maar dit was vir my nie ‘n sukses nie. Ek soek eweredige rysgate in my ciabatta. Die rysgate moet aan die groterige kant wees. Die smaak was ook net nie soos die Italianers sin nie! Ek het alles tipes suurdeeg behalwe aartappel suurdeeg probeer. Tot ‘n suurdeeg wat ek self van meel en water begin groei het. Dit was net nie die ware Jakob nie. Ek wens ek kon Italiaans praat dan het ek met ‘n Italiaanse tannie op die net kontak gemaak vir ‘n resep!

Hou julle op hoogte van my focaccia.