NATAL TOE

 

In 1988 is ek deur my werkgewer oorgeplaas Natal toe. Ons het Empangeni toe getrek. Daar het ons ‘n pragtige huis in ‘n mooi omgewing gekry en ons het besonderse mense ontmoet. Hoewel ons vir die daaropvolgende dertien jaar, as gevolg van my buitengewone werk omstandighede wat ek hier onder verduidelik, ‘n baie abnormale familie lewe gehad het, het die ontspanne en gemaklike tipe vriende wat ons in Natal ontmoet het, die lewe vir ons baie makliker gemaak.

Die myn waarheen ek oorgeplaas plaas was… Zululand Anthracite Colliery, beter bekend as ZAC… was ‘n klein antrasiet steenkool myn, in die middel van Zululand geleë. Met in die middel van Zululand bedoel ek ongeveer veertig kilometer van Ulundi af. Vir die mense wat op ‘n kaart wil kyk waar dit meer presies is, kan ek die aanwysings so gee: Jy ry van Johannesburg af deur Piet Retief na Vryheid, vanaf Vryheid ry jy in Empangeni/Richardsbaai se rigting – voor jy Melmoth kry draai jy links na Ulundi. Net voor jy Ulundi ingaan draai jy regs af na die Mangosuthu Buthelezi Lughawe. Die myn is dan twee en veertig kilometer van Ulundi af in die rigting van die Umfolozi Wildtuin se Okhukhu hek. As jy van Empangeni se kant af na die myn toe ry is dit vyf en negentig kilometer as jy die spoorweg grondpad langs die Richardsbaai spoorlyn vat. Hoewel dit net vyf en negentig kilometer is, ry jy sowat een en ‘n halfuur daaraan want die pad is baie sleg en ‘n mens ry selfs twee plekke deur ‘n drif om die uMfolozi rivier te kruis. In die reën seisoen neem dit langer want, as die rivier afkom is dit nie moontlik om deur die driwwe te ry nie moet jy die langpad oor Melmoth ry. Oor Melmoth is die reistyd vanaf Empangeni tot by die myn sowat twee en ‘n half uur.

Omdat dit so vêr is, regverdig dit nie die koste om elke dag myn toe en terug huis toe te ry nie en gevolglik bly die mynwerkers vanaf Maandag tot Vrydag by die myn. Met wegbreke Woensdag aande om te gaan kyk of alles tuis nog goed gaan… dit is nou die mense wat op Empangeni of Vryheid bly, die wat vêrder bly soos byvoorbeeld op Dundee of New Castle gaan net naweke huis toe.

Hierdie dertien jaar was ‘n groot toets vir ons gesinslewe… en ons het hierdie toets met vlieënde vaandels geslaag het. In die week het ons hard gewerk, ek by die myn, vroutjie-doutjie in haar winkeltjie wat sy in Empangeni begin het en die kinders in die skool. Naweke was vir ons een groot vakansie. Ons het dan by die huis om die swembad gekuier of uitgery en iewers gaan visvang of braai.

Ons gunsteling plekkie om ‘n potjie langs die see te bou was Mission Rock. Mission Rock is so vyftien kilometer van St. Lucia af in die rigting van Cape Vidal. Die hele strand bestaan net uit massiewe rotse. Die see is pragtig blou en die omgewing is nog van die min plekke langs die Suid Afrikaanse kuslyn wat ongerep is.

Met die kuiertjies Mission Rock toe het daar vir my ‘n lekker groot plat rots uitgesoek en terwyl die kinders vissies in die poele tussen die rotse vang en vroutjie-doutjie klippe optel vir haar stokperdjie… sy verf diere op die klippe… het ek ‘n lekker potjie gebou. Vir vuur moes ek gas gebruik. Vuurmaak met hout of kole is by Mission Rock verbode en ek het geen probleem daarmee nie want daar is min dinge so lelik as ‘n half uitgebrande vuur om natuurskoon te bederf nie.

Soos ek reeds genoem het, ZAC se omstandighede was ‘n groot toets vir ‘n gesinsverband. Wanneer daar ‘n krisis by die huis was moes vroutjie –doutjie dit oplos. Ek kon maar net oor die telefoon raad gee. Een van die mynbestuurders het gedurende my onderhoud gesê dat die mense wat op ZAC werk is ‘n spesiale tipe mens, want om onder sulke omstandighede te werk, en steeds ‘n hegte gesinsverband te hou, moet jy ‘n spesiale mens wees.

Omdat die omstandighede vir die meeste werknemers op ZAC so buitengewoon was het ons baie spesiale vriende gemaak met van die mense wat saam met my gewerk het en veral die mense in ons kerk. Ons het nie mekaar se drumpels deurgetrap nie want ons was baie suinig met ons vrye tyd saam met ons gesinne. Ek dink dit is daarom dat vroutjie-doutjie en ek steeds eerder mense tuis onthaal as om te gaan kuier. Ons eie huis is vir ons die lekkerste kuierplek op aarde.

Daar is van die vriende wat ons so gemaak het wat spesiale vermelding in enige boek verdien. Een mens wat in hierdie boek ere vermelding verdien omdat hy ‘n goeie vriend was maar ook omdat hy net soos ons baie van kosmaak gehou het, is André van Wyk. André is ‘n paar jaar gelede oorlede maar sy kwinkslae en bydrae tot ons resepte versameling het en sal ons nog baie jare plesier gee.

Pork Belly

Een van André se gunsteling resepte was die Pork Belly. Dit is nie die vark maag, soos n maatjie van ons dogter, wat een naweek by ons gekuier het, gedink het nie. Die kind het die aand niks van ons braaivleis geëet nie. Die Pork Belly is die gedeelte van die vark tussen waar die ribbes eindig en die middel van die maag. Vra net jou slagter vir n pork belly en enige slagter wat sy sout werd is sal onmiddellik weet waarvan jy praat. Sorg dat dit n stuk is wat meer vleis as vet het. Vra ook die slagter om die vel te ‘scor’. Dit beteken hy moet lang snye, so tien millimeter van mekaar af, in die harde vel sny, let wel, hy moet net die vel breek en nie dwarsdeur sny nie.

Vryf dan die vel goed in met n sout, olyfolie en witpeper mengsel. Gebruik soveel van elk as wat jy self dink sal genoeg wees. Braai nou die belly op n lekker hoender vuurtjie tot dit deur gaar is en die vel krakerig ‘crackling’ is.

Draai dit gereeld om en pasop dat dit nie brand nie. Vark wat brand is geneig om meer bitter te wees as ander vleis soorte wat gebrand is. Met ander vleis soorte kan n mans nog die brand afsny maar met vark kan mens die gebrand deur die hele stuk vleis proe.

Sit hierdie pork belly voor saam met soet-suur kool en een van die aartappel geregte in die boek.

Ek kan my nog een van André se gunsteling resepte in herinnering roep. Toevallig ook n vark resep. Dit is heerlik en net so maklik as pork belly. Dit is vark tjops.

Vark Tjops met Wit Uie Sop

Besprinkel die vark tjop met die wit uie sop poeier en klap dit liggies met jou hand sodat die sop nie afval in die gaarmaak proses nie. Gebruik weer jou hoender vuurtjie om dit gaar te maak.

Daardie tjoppies is ook heerlik saam met ‘n aartappel gereg.

Ek dink, om op ZAC te werk voel soos dit voel om by ‘n afgeleë vakansieoord te werk. Gedurende die dag werk jy hard maar in die aand is die enigste alternatief om by die vloei van die ander vakansiegangers in te val. Daar was in elk geval geen alternatief as om hard te werk nie. Dit is ‘n klein myntjie wat alewig op die drumpel van sluiting gestaan het. Elke werknemer is deur ‘n goeie bestuurspan betrokke laat voel en almal het geveg vir die myn se oorlewing. Ek kan onthou dat kort na ek daar aangekom het vir my gesê is dat die myn nog net vier jaar lewe oor het. Toe ek egter dertien jaar later daar weg is was die voorspelling steeds dat die myn vier jaar lewe oor het. Jy het dus deurentyd alles in jou vermoë gedoen om te help om die myn te laat oorleef.

In die aande moes die manne ontstres en aan moontlikehede vir ontlading was daar nie ‘n tekort nie. Daar was ‘n pragtige kroeg met tafeltennis en snoeker geriewe, ‘n baie lekker dam in die omgewing met ‘n goeie voorraad kurpers en swart baars. Jy kon skyf skiet of kleiduif skiet, of jy kon vlugbal of muurbal speel, of jy kon sommer net langes die swembad ontspan. Ek praat soms oor ZAC in die verlede tyd want ek was jare gelede laas daar en is nie seker of die plak nog dieselfde is nie.

Sowat twaalf kilometer van die myn is die Ohkuku hek van die Umfolozi Wild Reservaat. Dit is nou aan die agterkant van die reservaat soos jy van Ulundi se kant af kom, nie aan die voorkant wat bereikbaar is van die Pongola Empangeni/Richardsbaai pad af nie. Van die werknemers by ZAC was ere-wildbewaarders en die myn het ook baie bygedra tot die onderhoud en instandhouding van die reservaat. Nie amptelik kon van die myn personeel so nou en dan op georganiseerde besoeke reservaat toe gaan. Dit het veral gebeur as gaste van hoofkantoor of die ouditeure die myn besoek het. Ons het dan gewoonlik ‘n middag besoek gereël en dan sommer in die aand by een van die kampe gebraai en lekker gekuier.

Een van die groot lekkertes van die ZAC aande was wanneer ons na werk sommer net om ‘n braaivleis vuurtjie gesit en stories uitruil het. Aan stories was daar nooit ‘n tekort nie. Ek dink byvoorbeeld nou aan die een ou, ek sal, om hom baie gespot te spaar in die res van die boek ‘Krater’ noem.

Krater het met die geringste aanmoediging, die vermoë gehad om besondere stories te vertel. So het hy ons een aand van sy pa se Pitt Bull Terier vertel. Dit was nou in die tyd, so ‘n paar jaar gelede dat Pitt Bull Terriërs die in ding was. Hy vertel toe dat sy pa op ‘n plaas naby Steelpoort gebly en die huis was baie na aan die hoofpad. Die Pitt Bull het soms so langs sy pa op die stoep gelê en ewe skielik sonder enige provokasie begin knor en bewe. Die hond sou so lê en bewe en knor en niks sou hom kalmeer nie! So tien minute later sal jy dan die persoon op die fiets die pad sien afkom. Dan het die Pitt Bull hom al tienminute vroeër gehoor of geruik. Dit was voorwaar ‘n besonderse hond net ‘n ongekende haat vir mense op fietse.

Sy pa het ook ‘n ander hond gehad, ‘n Fox Terier. Dit was sy pa se gunsteling en sy pa sou nêrens gaan sonder die hondjie. Hulle was spreekwoordelik ‘onafskeidbaar’. Die hond het egter ‘n probleem gehad, hy kon nie, soos ander honde, vorentoe spring soos byvoorbeeld oor ‘n heining nie. Hoewel hy baie hoog kon spring, kon hy net op en af spring. Om die rede kon die hond, tot sy eie frustrasie, nooit op die bakkie spring as Krater se pa iewers heen wou ry nie en wanneer sy pa in die bakkie klim en die bakkie aanskakel het die hond verskriklik gehuil en op en af gespring. Krater se pa het toe ‘n slim plan beraam. Hy het in die bakkie geklim en dit so getrek dat die agterkant naby aan Foxie is. Hy het dan die sy kans afgewag en sodra Foxie hoog in die lug was het hy gou agtertoe getrek, reg onder Foxie in. So kon Foxie dan saam met sy pa dorp toe of die hele plaas vol ry.

Ek wil nog net een storie oor Krater se pa en sy wonder diere vertel. Die honde was baie goeie vriende met die huiskat. Oral waar die honde gegaan het, het Huiskat saam gegaan. Wanneer sy pa gaan eende jag het, was Huiskat daar saam met die honde. Wanneer sy pa dan ‘n eend in volle vlug skiet, het die honde die eend gaan soek en by sy pa se voete kom neersit, met Huiskat altyd saam.

Eendag het Huiskat egter weggeraak. Krater se ma het oral gesoek maar kon Huiskat nêrens vind nie. Die honde se gedrag het net so skielik verander. Hulle het nog saam met Krater se pa gaan jag maar anders as gewoonlik het hulle nie meer die dooie eend by sy pa se voete kom neersit nie, maar daarmee in die populier bos op die plaas verdwyn.

Krater se pa het op ‘n dag besluit om hierdie besondere eienaardige gedrag van sy getroue diere na te vors. Hy volg toe die honde die populierbos in en hier kom hy op ‘n besonderse toneel af. Huiskat het in die populierbos kleintjies gekry en die honde vat die eend na hulle kat vriendin om saam met haar kleintjies te eet! Is die nou nie besonders nie?

Behalwe vir stories vertel, het Krater ook baie daarvan gehou om te kook. Nie altyd higiënies nie en ek het meer as eenmaal baie langtand aan Krater se geregte geëet, maar Krater het baie goeie idees en aanvoeling vir kos voorbereiding gehad. Soos met die meeste van ons wat van kosmaak hou, kon jy dit aan Krater se lyf sien. Een van Krater se resepte wat ek al met groot sukses vir gebruik het, is die Bees Filet in die Skottelskaar.

Bees Filet in die Skottelskaar

1 Filet (heel)

12 – 20 klein uitjies

12-20 klein aartappeltjies

250 g knopie sampioene

1 pakkie bruin uie sop

2 kelkies rooiwyn

olie

Maak bietjie olie in die skottelskaar baie warm. Rol nou die filet stadig in die skottelskaar om en om tot dit aan alle kante geseël is. Verminder nou die hitte tot baie laag, daar moet net ‘n paar flou kooltjies onder die skaar brand. Indien jy die skottelskaar op gas gebruik moet jy sorg dat daar ‘n baie klein vlammetjie onder die skaar is. Versprei nou jou uie, aartappels en sampioene om die filet en sprinkel die uie sop oor. Gooi nou die twee kelkies rooiwyn oor. Bedek alles nou met aluminium foelie en druk die foelie om die kante van die skaar vas. As die foelie te smal is en jy moet twee velle gebruik, laat die so bietjie oorvleuel. Moet nie bekommer oor die bietjie stoom wat tussen die twee velle foelie sal uitkom nie. Laat die filet nou oor baie lae hitte vir een uur gaar stoom-kook.

Verwyder die filet van die vuur en laat dit so vyftien minute rus.

Sny die filet in netjiese skuins skywe en sit voor.

Van storie vertellers was daar nooit ‘n tekort op ZAC nie en een man se storie moes altyd die ander oortref. Daar was byvoorbeeld ou Chuck Norris wie se honde, en dan veral sy Pit Bul, baie sterker en aggressiewer was as Krater se pa se hond. Hy kon byvoorbeeld nie die hond in die erf hou as daar fiets in die straat gery het nie. Hy het al probeer om die hek met ‘n slot te sluit maar sy Pit Bull ruk die slot met sy bek uitmekaar dat jy net bloed en stukke slot sien lê.

Chuck het ook nooit ‘n meganiese swembad-skoonmaker nodig gehad nie, sy hond kon nie ‘n vuil swembad verdra nie en as daar ‘n blaartjie in de swembad geval het, het die hond onmiddellik ingespring en die blaar uitgehaal.

Met so langs die vuurtjie sit en vleisie braai moes ‘n man ook darem ‘n bykossie maak. Op ZAC was die gunsteling bykos ‘n ZAC-SAMIE.

ZAC-Samie

‘n ZAC-Samie het nie verskil van ander mense se braai broodjies nie behalwe dat dit nie uit twee snye brood, of ‘n halwe sny brood bestaan nie, nee, dit moet vier snye brood wees. Die broodjies is deur die spyseniers op ZAC gemaak maar die resep is heel eenvoudig. Smeer ‘n brood aan albei kante.

Sit dan in lae;

Ui dun gesny

Tamatie dun gesny (gesout en gepeper)

En baie cheddar kaas (gerasper)

Sit nou nog ‘n sny brood (aan albei kante gesmeer) bo-op.

Braai op ‘n hoender vuurtjie, of sommer so langs jou vleis tot mooi bruin. Maak seker die vuur is nie te warm nie want dan is die kaas nie behoorlik gesmelt nie.

Die rede vir die vuur snye brood in dat jy een van jou samies kan eet as voorgereg terwyl jy wag dat die vleis gaar word. Die ander een eet jy dan saam met die vleis.

Een van die lekkerste lekkers op ZAC was die steak eet so om die kampvuur. Die manne het die kuns bemeester om daardie steak so ‘n medium gaar te maak. Hulle het die steak dan op ‘n groot hout bord – die Zulu vrouens verkoop die borde langs die pad – in repies gesny. Daar is dan in die een hoek van die bord ‘n hopie sout gegooi en in die ander hoek, ‘n dammetjie Tabasco. Die bord word dan om die vuur gestuur en elke ou sleep vir hom so stukkie steak, eers deur die sout en dan deur die Tabasco. Dit gaan heerlik af saam met die bier.

Hoewel daar drie etes per dag wat deur die spyseniers voorberei is, vir die manne op ZAC beskikbaar was, het nie almal altyd al drie etes geëet nie. Vra maar vir ‘n man wat in ‘n koshuis was of ‘n verteenwoordiger wat van hotel tot hotel moet lewe, hoe gou word ‘n mens moeg vir spyseniers kos. Baie van die manne het maar hulle eie ontbytgraan en so ietsie saamgebring om gaar te maak wanneer hulle so voel. Daar was kookgeriewe in elke wooneenheid en jy kon kook soos jy wou. Die wooneenhede het as ‘Kimbo’s’ bekend gestaan. Dit is nou wat die Amerikaners ‘Park Homes’ noem. Dit het bestaan uit drie klein slaapkamers – die grootste was so drie by twee en ‘n half meter – ‘n badkamer en ‘n oopplan sitkamer, eetkamer en kombuis. Jy het dan sommer ook al die gerei en toebehore wat by die huis rondlê en nooit gebruik word nie, myn toe gebring waar dit nut sou hê. So was van ons Kimbo kombuise baie goed ingerig.

Uit hierdie kombuisie het van die lekkerste disse voorgekom waaraan ‘n mens kon dink. Die manne wat nie die voorreg gehad het om in ‘n Kimbo te bly nie, het in eenslaapkamer eenhede, wat net ‘n wasbak gehad het, gebly. Die eenhede was ‘Ski Cabins’ genoem. Hulle het hierdie ‘Ski Cabin’ ook gewoonlik vindingryk verander deur self ‘n klein kombuisie en ‘n toilet te installeer. Ek dink nou byvoorbeeld aan oorlede At Lazenby wat in hierdie kombuisie ‘n heerlike kerriesult voorberei het. Hy het ook by al sy resepte ‘n bietjie Lazenby worcestersous by gegooi en dan gesê hy gooi so bietjie van Ouma Elizabeth se sousies by.

Ek het ‘n Kimbo met my groot vriend Gerhard Coetzee gedeel. Gerhard is, gelukkig vir my, ook lief vir kook en kon wildsvleis soos min ander mense voorberei. Een wat ek spesifiek onthou is sy vlakvark potjie.

‘n Gereg wat ek so nou in dan vir ons voorberei het was ‘n hoender noedel gereg. Die gereg het ek in ‘n elektriese braaipan voorberei.

Hoender Noedel Gereg

1 Hoender in stukke opgesny

Olie om in te braai

Hoenderspeserye na smaak

1 ui fyngekap

1 t tamatie pasta

1 knoffelhuisie gekneus

2 medium aartappels – in skywe gesny

1 koppie gemengde groente (sommer gevriesde gemengde groente)

1 koppie skulp noedels

1 hoender sous blokkie in 250 ml kook water opgelos.

Braai die ui en knoffel in die olie tot glaserig. Skep die ui uit en braai die hoender in dieselfde olie tot ligbruin. Besprinkel die hoender met die hoender speserye voor jy die braai. Ek vind dat wanneer ‘n mens jou speserye so bietjie saam met die hoender braai, kom die geur beter uit.

Wanneer die hoender bruin is, draai die hitte van die plaat af na medium en gooi die uie terug. Gooi nou in lae, die gemengde groente, die aartappels en die noedels. Meng die tamatie pasta met die hoender blokkie-water mengsel en gooi dit bo-oor alles in die pan. Sorg dat die noedels net-net bedek is. Sit die deksel op en laat dit teen ‘n lae temperatuur vir sowat een uur prut.

Nog iemand wat bygedra het tot ons skatkis van resepte, was oorlede Bean, ‘n Indiër man wat in die salaris afdeling by ZAC gewerk het. Hy is onlangs aan ‘n hartaanval oorlede. Sy bydrae was ‘n  Breyani resep wat ons al so bietjie aangepas het vir ons eie smaak.

Bean se Breyani

8 tot 10 hoender borsies – ontbeen, onvel in dobbelsteentjies gesny.

1 t kerrie pasta

Sap van een suurlemoen

1 k jogurt (ongegeur)

1 t tamatie pasta

2 uie – gesnipper

½ k olie

6 medium aartappels (geskil en in dobbelsteentjies gesny)

2 gekookte eiers (afgedop en fyngekap)

1 k lensies – gekook

2 koppies rys – gekook

1 eetlepel margarien of botter

Gooi die hoenderblokkies in ‘n mengbak en voeg die kerrie, jogurt, tamatiepasta en suurlemoensap by en meng tot die hoenderstukkies heeltemal bedek is. Laat dit eenkant om te marineer.

Braai die uie in die olie en verwyder wanneer dit goudkleurig is. Braai nou die aartappel blokkies in dieselfde olie tot dit ook goudbruin is en skep ook uit.

Meng nou die uie by die hoender en marinade mengsel en skep dit dan in die pot waaring die oorblywende olie is. Skep die aartappels en die gesnipperde eiers bo op die vleis. Daarna volg die lensies en dan die rys. Heel laaste skep jy die lepel margarien bo op die rys, bedek en laat die vir ‘n uur stoom.

Bedien met ‘n mengel slaai.

Advertisements

3 thoughts on “NATAL TOE

  1. Jy kan blokkies steak gebruik maar die beste rooivleis vir Breyani is skaap, jy kan skenkel gebruik maar die lekkerder… en duurder …opsie is blokkies skaapboud. Onthou, dit maak nie saak watse vleis jy gebruik nie, solank jy dit net vinnig braai om dit sappig te hou(maw – die vleis seel)

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s