KOEKE, TERTE EN ANDER LEKKER DINGE!

Soos ek voorheen gesê het; vroutjie-doutjie het ons kruie belangstelling uit gebrei tot ’n klein onderneming wat sy Saterdag oggende by die dorp se vlooimark bedryf het. Vrydae het Sipho gehelp om die sleepwa vol kruie, tafels en toebehore te laai en ligdag Saterdag is ons vlooimark toe om die stalletjie gereed te kry.

Hier by die vlooimark is dorp se vlooiers (dit is nou die versamel naam vir uitstallers en gereëlde kliente) ontmoet, leer ken en die lief en leed gedeel.

Daar het ook gereeld nuwe ‘amateur vlooiers’ kom probeer om produkte te verkoop. Die meeste het egter nie lank gehou nie want… sal die ‘vlooi’ kenners jou vertel… om te vlooi is nie maklik nie. Jy kan nie daar sit en verwag die mense gaan jou bestorm en jou produkte koop nie. Jy moet bemark en suksesvol te bemark moet jy die volgende hê; a) jy moet kan kommunikeer; b) jy moet van mense hou; c) jy moet jou produk ken; d) jy moet kwaliteit verskaf… en onthou kwaliteit is nie wat jy aan jou kliënt wil voorsien nie, dit is wat jou kliënt wil hê.

Op ’n dag het ’n nuwe vlooier daar opgedaag en ’n stalletjie opgeslaan waar sy koek verkoop het. Ons was almal verbaas dat niemand voorheen daaraan gedink het nie. Ons verbasing was veral groot toe die vroutjie ’n tafel vol koeke teen elfuur uitverkoop het!

Ons diaken het toevallig, net die daaropvolgende week gevra of ek nie ’n voorstel het oor hoe die kerk se sisters bietjie geld vir die kerk se nuwe omheining kan insamel nie. My onmiddellike voorstel was dat hulle koek by die vlooimark moet verkoop! So gesê, so gedaan en die volgende Saterdag het hulle ’n stalletjie vol koeke gehad. Weereens, teen elfuur was die koeke uitverkoop. Ek het voorgestel hulle doen die elke Saterdag. Daar egter was groot protes teen hierdie voorstel want dit is dan kwansuis soveel werk. Ek stel toe voor dat die een maal ’n maand gedoen word of self een maal in drie maande! Elke voorstel is met duisende verskonings van die hand gewys.

Ek stel toe voor dat vroutjie-doutjie die koekstalletjie saam met haar kruie stalletjie bedryf. Sy het die voorstel onder protes aanvaar omdat sy kwansuis nie seker was of sy koek sou kon bak vir verkoop nie. Sy het oorspronklik die koekstalletjie net op die laaste Saterdag van die maand bedryf. Dit stalletjie het later so gewild geword dat sy dit nou elke Saterdag bedryf. Sy het ook opgehou om die kruie stalletjie te bedryf (ons kweek nog steeds kruie as ’n stokperdjie).

Om koek op ’n groot maat, Saterdag na Saterdag aan die publiek te verkoop en soveel kwaliteit te handhaaf dat mense Saterdag na Saterdag terugkom om weer te koop, is dit belangrik dat jy goeie en koste effektiewe resepte kry en daarby hou. Ons het dus resepte gekry, getoets en beproef.

Dit is interessant dat ons die beste resepte nie uit boeke gekry het nie maar by vriende, bure en familie.

Ons het een naweek by vriende van ons, Gerhard en Rina, wat ’n supermark in Sabie bedryf , gaan kuier en terwyl ons Saterdag in die winkel gehelp het, het ons die groep se baas-bakker ontmoet. Hierdie man het die personeel in die bakkery geleer om terte te bak en ek het die resepte afgeskryf. Ons het die resepte die daaropvolgende week getoets en dit het nou ons standaard geword.

TERTKORS – STANDAARD RESEP.

Hierdie resep is vir baie tertkorse. Jy kan die in verhouding verminder of jy kan dit vries. Dit vries fantasties! (Jy kan self die tertkors in foelie pannetjies klaar bak en dit dan vries)
 

3,5 kg meel
2 kg margarien
1 kg versiersuiker
4 eiers

Meng die magerien en die versiersuiker en klits die saam vir ’n rukkie sodat dit goed meng.
Gooi die eiers by.
Voeg die meel bietjies op ’n slag by tot dit ’n stywe deeg vorm
Druk die deeg in tertpanne uit.
200 g. is genoeg vir een tert.

PEPERMENTTERTE

1,5 liter vars room
3 Peperment Crisp
1 Blik karamel kondensmelk
1 pakkie tennisbeskuitjies

Klits die room styf
Maak die Peperment Crisp en die tennisbeskuitjies fyn
Voeg die karamel, Peperment Crisp en die tennisbeskuitjies by die room en klits
Gooi in die tertkorse en versier met sjokolade vermesielie.

MELKTERTE

 
(
Melkmengsel)
3 lt. melk
300 g. suiker
250 g. margarien

Kook die saam maar pasop vir aanbrand.

6 eiers
200 g. mielieblom (mazina)
200 ml water

Klits dit saam en voeg dit by die melkmengsel
Kook tot dit dik is en gooi in die tertkorse.

SOUTTERT

(hierdie is ’n korslose tert)

1 groot ui (fyngemaal)
250 g. spek
250 g. knoffel polonie (fyngemaal)
250 g. sterk kaas (gerasper)
1 groot tamatie (fyngemaal)
750 ml melk
3 eiers (geklits)
250 ml meel
10 ml bakpoeier
5 ml paprika
2 ml sout

Braai die uie en die spek
Meng die res van die bestanddele by.
Skep in drie groot tertborde of in ses kleintjies.
Bak vir 30 minute by 180° tot gaar
.

Volgende week pos ek die koek en ander lekkernye wat by die stalletjie verkoop word.

Advertisements

ONS KRUIETUIN (2)

Watse kruie tuin wil jy begin? En hier is sommer nog ‘n paar resepte ook!!!

Jy kan ‘n  geur tuin met baie soorte Laventel , Geraniums, Sitroen Verbena, Marjolein ens.,

Of jy kan ‘n  medisinale tuin begin met plante soos Wynruit, Boegoe, Duiwelsblad of Smeerwortel.

Die meeste mense verkies egter die kulinêre tuin met al die kos plante en daar is honderde soorte. Ons self, verkies ‘n  mengel kruie tuin wat bietjie oorleun na die kulinêre kant toe.

Daar is egter ‘n  paar basiese kruie wat ek vir die beginner of vir iemand wat nie te groot in kruie wil ingaan nie, kan aanbeveel.

PIETERSIELIE

Die eerste wat jy moet hê is pietersielie. Iewers in die tuin of in ‘n  blombak of sommer hier en daar moet jy pietersielie hê. Dit is sekerlik die kruid wat die sjef die meeste gebruik. Pietersielie word gewoonlik as garnering gebruik maar probeer dit net as ‘n  basis vir slaai. Veral breë blaar – Italiaanse pietersielie is ideaal hiervoor. Ek hou daarvan om baie pietersielie in my viskoekies te gebruik.

Pietersielie Viskoekie

250 g. witvis
bietjie water
‘n  paar dille takkies of ‘n  mespunt droë dille
1 eier (geklits)
bietjie meel
1 sny brood, sonder die korsies, gekrummel
½ ui gemaal of baie fyn gekap
1 handvol pietersielie blare (gekap)
1 huisie knoffel (fyngekap)
Sout en Wit peper na smaak
Olie

Stoom of kook die vis in die water met die dille oor tot gaar. Gooi die water af en vlok die vis. Meng nou die brood en eier en werk dit met ’n vurk by die vis in. Voeg nou die ui, knoffel, pietersielie en sout en peper by en meng goed.

Maak ronde viskoekies, rol in die meel en bak in ‘n  vlak pan waarvan die boom net-net met olie bedek is.

Let op die volgende van pietersielie: Soos ek vroeër gesê het, pietersielie ontkiem baie stadig en as jy nie geduldig is nie, koop eerder jou pietersielie plantjies by die kwekery. Pietersielie is ‘n  twee jaar plant en sal self saai. Gebruik jou pietersielie van bo af sodat die onderste nuwe blaartjies kan son kry en groter word.

ROOSMARYN

‘n  Plant wat ‘n  pragtige struik vorm met mooi blou blommetjies en onontbeerlik in die kombuis is, is roosmaryn. Ons het twee soort roosmaryn, die rank roosmaryn en die McConnell’s Blue wat die struik roosmaryn is. Omdat roosmaryn meerjarig is, mooi vertoon en baie lekker ruik, is die altyd die ideale plant vir enige plek in die tuin. Dit groei ook baie maklik in enige omgewing. Die roosmaryn is ‘n  meerdoelige plant wat veral in enige vleis gereg welkom is.

Roosmaryn sosaties
Goeie rump steak (in 30 mm blokkies)
Klein uitjies
100 ml vars gekapte roosmaryn blaartjies
1 t. ligte kerrie poeier
2 huisies knoffel (gekneus en fyngekap)
1 rissie (ontpit, as jy dit minder wil laat brand, en fyngekap)
Groen soetrissie (in 3 sentimeter blokkies gesny)
Rooi soetrissie (in 3 sentimeter blokkies gesny)
250 ml klappermelk
sout en varsgemaalde swart peper.
Roosmaryn takkies – 5 tot 8 mm dik en 25 tot 30 sentimeter lank

Meng die klappermelk, rooirissie, knoffel, roosmaryn blare, sout en peper goed en laat vir ‘n  uur staan sodat die geure kan meng. Meng nou die steak daarin en laat oornag in die yskas staan.

Die volgende dag:
Stroop die onderste blaartjies van die roosmaryn takkies sodat die boonste tien sentimeter nog blare aan het. Maak nou die onderste punt van die takkie met
‘n  mes skerp. Ryg die ander bestanddele op die stokkie in die volgende volgorde; steak, rooi soetrissie, ui, groen soetrissie. Herhaal tot die stokkie vol is.

Braai die sosaties oor ‘n  matige hitte

Roosmaryn Kapok Aartappels

3 groot aartappels
1 el botter
1 huisie knoffel (baie fyn gesny)
1 koppie melk
sout en witpeper
1 halwe hand vol Pietersielie (fyn gekap)
2 of 3 Roosmaryn Takkies

Kook die aartappels tot sag..
Kook die melk, botter en knoffel in
‘n  aparte kastrol met die roosmaryn takkies in.
Verwyder die roosmaryn takkies en voeg die melk mengsel gelydelik by die aartappels terwyl jy die aartappels verpap. Moet nie al die melk mengsel bygooi as jy sien jou aartappels gaan te pap wees nie.
Roer laaste die gekapte pietersielie by.

TIEMIE

Tiemie is die wonder kruie in die kombuis. Dit pas by die meeste disse en indien jy dit nie oordoen nie, gee dit ‘n  misterieuse geur aan die kos wat jou gaste altyd die vraag laat vra “Hoe kry jy dit reg?”

Vroutjie-doutjie sê altyd dat as ‘n  mens sou toegelaat word om een plant saam hemel toe te vat, sy ‘n  suurlemoen tiemie sal vat. Die geur van die suurlemoen tiemie is sag en veral hoender word wonderlik daardeur gekomplimenteer.

Tiemie Hoender

1 Hoender
1 Suurlemoen
‘n  groot hand vol tiemie blaartjies
100 g. spek
2 el botter/margarien
Sout en varsgemaalde swartpeper

Maak die hoender se vel los van die hoender deur jou hand onder die vel in te druk. Wees versigtig want die vel skeur maklik. Maak sowel die borskant as die rugkant los.
Rasper nou die skil van die suurlemoen. Sorg dat jy net die geel van die skil af rasper, die wit is bitter en dit gee
‘n  bitter smaak aan jou hoender.
Meng nou die botter, suurlemoenskil, tiemie en spek. Skep dit onder dit hoender se vel in en druk dit van buite af plat en versprei dit oor soveel moontlik van die hoender. Sny die suurlemoen, waarvan die skil afgerasper is, middeldeur en druk dit in die hoender se maagholte.
Smeer die hoender met die sout en peper die hoender en sit die in
‘n  vooraf verhitte oond by 180º C vir een uur.

OREGANUM

Die geur van oreganum laat jou onmiddellik aan pasta of pizza dink. Ek kan my nie ‘n  pizza sous voorstel sonder die onmiskenbare geur van oreganum nie. Dit is ‘n  baie maklike plant om te kweek van stiggies en versprei in een seisoen so dat jy beheer sal moet uitoefen deur van die ranke weg te knip. Deur die plant gereeld te gebruik en weg te knip sorg jy ook dat jy gereeld nuwe takkies het om te gebruik. As jou oreganum goed versorg word het jy die heel jaar ‘n  pragtige, meerjarige, groen plant.

OREGANUM PASTA SOUS

Pasta
1 el Botter
1 el olie
150 g. room
1 blik geskilde tamaties
1 hand vol oreganum blare
sterk gegeurde wors (soos bv. salami) in stukkies gesny
1 brand rissie (as jy sensitief is vir die brand kan jy die rissie oopsny en die pitte verwyder
sout, peper en suiker

Kook die pasta in water met sout.
Terwyl die pasta kook:
Verhit die botter en olie in
‘n  braaipan. Sny die tamaties in die blik in stukke en voeg by die botter en olie. Voeg nou die sout, peper en suiker by en laat vir ‘n  paar minute kok. Voeg die Oreganum, wors en rissie by en laat vir nog sowat 10 minute kook. Haal van die hitte af en roer die room by.
Roer nou die hele mengsel by die pasta in.

KRUISEMENT

Kruisement is die ‘no nonsons’ kruie. Dit is ‘n  meerjarige rank plant wat ‘n  bietjie wegkwyn in die winter, veral as die koue en ryp dit bykom, maar in die lente weer uitgroei en op plekke kop uitsteek waar jy dit nie verwag nie en baie keer ook nie wil hê nie.

In die ou dae het my ma altyd ‘n  kruisement bos langs die buite krane gehad, vandaar het my konnotasie van ‘kruisement moet langs die buite kraan groei’ gekom. Jy kan egter kruisement enige plek plant. Wat egter belangrik is, is dat jy jou kruisement moet beheer anders neem die jou ander plante oor. Dit groei selfs in die grasperk in.

‘n  Maklike manie om die kruisement se groei te beheer is deur ‘n  skottel, die ronde plastiek tipe wat jy by die supermark kan koop, se boom uit te sny, dit in die tuin waar jy die kruisement wil laat groei te begrawe dat net sowat een sentimenter van die rand uitsteek. Vul dit dan op met jou grond en plant die kruisement daar binne. Die kruisement sal nie oor die rand groei nie. Vir die tuinhuis, meenthuis en ouetehuis bewoners kan kruisement met groot sukses in ‘n  houer geplant word.

Die bekendste kruisement is gewone tuin kruisement, maar daar is baie ander geure beskikbaar. Voorbeelde van kruisement wat baie gewild is, is die sjokolade-, appel- en ‘spearmint’. Pynappelmint vertoon mooi met die geel randjie en dit het ook ‘n  baie lekker geur. Die kruisement wat egter ‘n  geur het wat baie mense verbaas en onontbeerlik in ‘n  potpouri is, is die ‘eu de Cologne’ mint.

Suurlemoen (sitroen) Verbena

Hierdie struik met sy besonderse vars suurlemoen geur laat my altyd wonder hoe ons dit so laat in ons lewe laat kom het. Die struik word sowat 1.3 meter hoog. Dit is net die regte hoogte om te verseker dat die jy elke somer oggend die vars suurlemoen geur in jou kamer kry as jy die venster oopmaak.

Die suurlemoen verbena dra dun langwerpige blaartjies wat heerlik is in nagereg, soet muffins en lekker ystee maak. Die plant is bladwisselend en moet in die laat winter bokant ‘n lit geknip word om te verseker dat dit ‘n  mooi bos vorm en net ‘n  struik met lang lote het nie.

ONS KRUIETUIN (Deel 1)

 

Ons het in Vryheid ‘n klein kruie tuintjie begin. Die kruie gogga het ons eintlik in die Drakensberge gebyt. Ek moes ‘n week-konferensie by ‘n oord naby Underberg bywoon en het vroutjie-doutjie saam geneem. Terwyl ons mans bedags die konferensie bygewoon het, het die vrouens al die besienswaardighede in die omgewing besoek. Iewers oppad het hulle op ‘n aanwysing na ‘n kruie boerdery afgekom. Hulle het die aanwysings gevolg tot by ‘n klein netjiese huisie in die berg. Die interessante was dat die huisie se hele tuin net uit kruie bestaan het.

Die eienares van die kruie tuin het hulle met ope arms ontvang en op ‘n besigtigings toer deur die hele boerdery geneem. Behalwe om kruie te kweek, maak die boervrou ook kruie tee, salwe en lekker ruik goedjies vir skoonheid en gesondheid.

Vroutjie-doutjie het my van die boerdery vertel en ons het net daar en dan besluit ons moet ook ‘n kruie tuin hê. Ons het bietjie navorsing op die internet gedoen en ‘n groothandelaar vir kruie plantjies in Pretoria ontdek wat behalwe alle kruie plantjies kweek, ook klante per e-pos van raad en idees voorsien. Ons het ‘n lekker hoekie van sowat dertig vierkante meter voorberei en van besproeiing voorsien. Plantjies van Pretoria af gekry, en daar het ons kruietuin begin.

Ons het net drie jaar in Vryheid gebly en dit was vir ons baie moeilik om ons kruie net daar te laat toe ek oorgeplaas is Witbank toe. Ons het plantsakkies by die Korporasie gaan koop en soveel van die meerjarige kruie uitgeplant en saam getrek.

In Witbank aangekom moes ons die eerste vier of vyf maande in ‘n huurhuis bly terwyl ons huis in aanbou was. Die tydperk waarin ‘n mens in die nuwe dorp wonder ‘koop ek of bou ek’. ‘n goeie vriend, Francois, dit in nou nie dieselfde Francois van vroeër in die storie nie, het in daardie tyd vir my gesê “Fools build houses…wise men live in them.” Ek glo hy het dit ook iewers gehoor, maar hoe dit ook al sy, waarder woorde is nog nooit gespreek nie! Toevallig, Francois is besig om vir hom ‘n huis te laat bou!

Gedurende die vier maande in die huurhuis, is die plantsakkies, met ons kosbare kruie, onder ‘n motorafdak staan gemaak. Ons het in April Witbank toe getrek. Die plante moes dus die Mpumalanga winter onder die afdak oorleef…en hulle het. Dit was wonderlik om die plante te kon saambring en net so fantasties dat hulle nie net oorleef het nie, maar sommer floreer het. Dit het gevoel asof ons so bietjie van iets bekend kon saambring na die vreemde. So iets waaraan jy kon vashou as jy terug verlang Natal toe.

Die feit dat die plante in die koue Mpumalanga winter floreer het, het ons oortuig dat die hoëveld weer hom meer toe leen tot kruie boerdery as die Natalse kus weer.

Ons het met die tyd ook meer en meer kruie in ons kos gebruik en ons kruie versameling het uitgebrei. Die stokperdjie het soveel uitgebrei dat dit vandag ‘n klein besigheidjie is waaruit ons kruie, souse en ander kruie verwante produkte aan die publiek, supermarkte ensovoorts, verkoop.

Ons sal altyd aanbeveel dat iemand sy eie kruie tuin begin. Pasop net dat die gogga jou nie so byt dat dit later vir jou ook ‘n werk word nie, maar sou dit gebeur is dit ook nie so sleg nie.

Ek sal hier ‘n paar wenke probeer gee maar let op wel dat ek geen kenner is nie. Die raad wat ek gee kom baie ondervinding van probeer en flop.

Die grootste oorwegings wanneer jy die besluit neem is:

  • Of jy die regte plek het?
  • Of ek kans sien om my kruie daagliks, of minstens twee tot drie keer per week te versorg?
  • Watter tipe kruietuin wil ek begin?

Die res is baie maklik, jy moet net die kruie in die grond kry. Ek is alles behalwe ‘n kenner en sal enigeen wat op grootskaal met ‘n kruie tuin wil begin eerder na, van die vele, professionele kruie kwekers verwys. Een wat ek kan aanbeveel is Jana by Blossom Thyme net buite Pretoria. Sy was ons groot inspirasie en het onbaatsugtig gehelp. Jana en haar man kweek op hulle kleinhoewe en het al die kruie wat die beginner sou nodig hê en bied ook met hope raad aan.

Jy kan natuurlik jou kruietuin met jou eie saad, wat jy in kissies of houertjies saai, begin. Jy kan selfs stiggies maak. Vir die persoon wat egter die kruie tuin net vir so ‘n nou en dan se huisgebruik wil hê, sou ek aanbeveel dat jy eerder plantjies wat gereed is vir uitplant by die kwekery moet koop. Die rede is dat sommige saadjies, soos byvoorbeeld pietersielie baie lank vat om te ontkiem en ‘n mens soms sukkel om stiggies aan die gang te kry. As jy egter self die proses van saai, stiggies maak en kweek wil aandurf, sou ek regtig aanbeveel dat jy eerder vir jou ‘n boek oor kruie aanskaf en ook met die professionele kwekers soos Jana kontak maak. Dit kan baie frustrerend wee as ‘n mens van die begin af dinge verkeerd doen,

Daar is some klein dingentjies wat ‘n mens onwetend doen, omdat jy net te min kennis het. Dit kan jou dan so moedeloos maak dat jy nooit weer wil probeer nie. Veerbeelde is soos wanneer jy jou stiggies verkeerd maak deur die verkeerde hormoon poeier te gebruik, of as jy die verkeerde plante by mekaar plant soos vinkel en koljander, of as jy jou rissie soorte deurmekaar plant en hulle dan natuurlik interpoleer.

Daar is ook verskeie boeke beskikbaar wat raad sowel as resepte bied.

Soos ek genoem het is die eerste vraag, “Het ek genoeg en die regte plek” kan op verskillende maniere beantwoord word, een ding is egter waar, jy kan nooit te min plek vir ‘n kruietuin hê nie. Jy kan miskien net te min plek vir sekere soorte kruie hê, maar daar sal altyd ‘n plekkie vir ‘n kruieplantjie iewers wees.

Die ideaal is om jou kruie tuin op ‘n sonnige, beskutte plek te hê. Baie mense vra altyd of die kruie son moet kry, en ek dink altyd die is ‘n snaakse vraag want alle plante moet son kry om te fotosinteer. Die meeste kruie moet egter een of ander tyd van die dag baie son kry. Dit hoef nie altyd direkte son te wees nie. Ons kruie floreer byvoorbeeld onder ‘n dertig persent skadunet wat ons opgesit het om die kruie te beskerm teen die erge hoëveld hael.

Die kruietuin moet beskut wee teen ryp. As daar nou een ding is wat kruie nie kan verdra nie, is die ryp. In die vroeë herfs span ons elke kruie plant wat nie onder die skadu net is nie, met skadu net toe in sy eie klein kampie. Hierdie skadu net word dan in Augustus afgehaal en gebêre vir die volgende seisoen.

Jy kan egter jou hele kruie tuin idee met jou fyntuin kombineer. Dit is deur jou kruie tussen jou ander plante te plant. Ons het so ‘n tuin in Durban by ‘n gastehuis gesien. Die ander plante beskerm dan die kruie plantjies teen die elemente van die natuur.

Wees versigtig met die plaas van die plante, onthou dat nie alle kruie is meerjarig nie. Plant die jaarplante en die twee-jaar plante so dat hulle nie onooglike gate in jou tuin laat as hulle afgaan nie. Beplan die tuin ook na aanleiding van die verskillende hoogtes jou plante se normale groei patroon is.

Vir die mense wat nie plek het vir ‘n kruie tuin in die erf nie, byvoorbeeld meenthuis of woonstel bewoners, kan die kruie in blombakke aanhou. Die bakke kan buite in ‘n baie klein tuintjie of op ‘n stoep staan. Die meeste kruie het pragtige blommetjies en kruie vertoon altyd pragtig. Ons self het op ons sonstoep laventel wat pragtig groei en die hele jaar deur mooi lyk en ‘n heerlike geur afgee.

Skoonsus Elsie, het haar kruie tuin in ‘n trekker buiteband gevestig. Dit is hoog en dus maklik om daarin te werk en vertoon altyd netjies.

Ousus Elize hou haar kruie tuin in verskillende blombakke, dit vertoon pragtig en is naby die kombuisdeur vir gebruik.

Jy kan selfs jou kruie in ‘n houertjie in ‘n vensterbank kweek. Wees net versigtig vir te veel son deur die venster op jou plante. ‘n ‘Kenner’ het my op ‘n keer vertel dat die son wat direk deur die venster bak , die hitte binne die venster tot 80º Celsius kan bring…dit sal enige plant verskroei.

Sien jy kans om die kruie te versorg?

Om kruie te versorg in nie ‘n groot werk nie. As jy die kruie tuin gereeld skoonhou is die maklik en eenvoudig. Eerstens moet jou grond reg wees. Sorg dat die dreinering goed is en dat daar baie kompos ingewerk is. Dit maak dit klaar vir jou kruie maklik om te vestig.

Die kruie moet gereeld water kry, winter en somer. Ons gee ons kruie in die somer daagliks water en in die winter so elke tweede of derde dag. Minstens elke tweede tot derde week is dit belangrik om, saam met die water, multi-feed toe te dien. Multi-feed is by enige goeie kwekery beskikbaar. Dit is baie goeie voedsel vir jou plante en hou hulle gesond en sterk. Pasop om nie die droë korrels multi-feed oor die plante te strooi soos jy byvoorbeeld met kunsmis op die grasperk sou doen nie. Menige aspirant kruieboer het al by ons kom kla dat hulle kruie dood is na die toediening van droë multi-feed. Daar is op die Multi-feed houer gewoonlik goeie gebruik aanwysings maar indien jy nie die oorspronklike houer het nie en wonder hoe om dit te meng, is ‘n goeie verhouding is 5 ml korrels opgelos in vyf liter water. By die meeste kwekerye kan jy ook ‘n apparaat koop wat voor op die tuinslang gekoppel kan word wat die water met die multi-feed oplossing meng.

Pasop vir te veel water op jou kruie. Let op dat as jou kruie, veral rissies, begin vergeel kan die van te veel water wees.

Let gereeld op vir kewers, wurms en voëls, veral muisvoëls wat jou plant vreet. Vir die kewers en wurms stel ek voor jy kry by ‘n kundige by jou kwekery ‘n organiese spuitmiddel en dien dit toe sodra jy die skade die eerste keer merk. As jy dit te lank laat kan die jou hele tuin verwoes. Draai die plante se blare ook so nou en dan om en kyk of daar nie goggas onder die blare sit nie. Wat die voëls betref het ek nie veel raad nie behalwe om voor te stel dat jy hier en daar in die tuin ‘n paaltjie met ’n stokie plastiek plaas wat in die wind waai, en hoop die hou die voëls weg. Ons het ’n hond wat die voëls gereeld uit die kruietuin hou.

Dit is belangrik dat jy jou kruie gereeld gebruik. Ek dink nie daar is ‘n plant op aarde wat so sleg en onversorg lyk en selfs doodgaan as dit nie gereeld gebruik, af gesnoei of sommer net ‘n bietjie verniel word, as ‘n kruie plant nie.

Pietersielie gaan dood as hy nie gebruik of afgeknip word nie. Die rede is dat pietersielie van onder af groei. Met ander woorde die nuwe blaartjies kom onder van die stam af uit. As die boonste blare nie afgepluk word nie, kry die onderste, nuwe blaartjies, nie son nie en hulle vrek dus. As jy die boonste blare nie pluk nie, verwelk en vrek dit ook en dan het jy niks van jou pietersielie plantjie oor nie. Pietersielie is ‘n twee-jaar plant maar baie mense kan die nie twee maande laat oorleef nie omdat hulle dit nie gebruik nie. Onthou jou seldery, Italiaanse pietersielie (breë blaar pietersielie en koljander (dhanja) het dieselfde groei gewoonte as krulblaar pietersielie.

As jou tiemie nie gereeld en kort gehou word nie kry die van die stammetjies af sulke lang stingels wat geen blare dra nie.

So van lang stingels gepraat, die suurlemoen verbena moet gereeld in die somer gesnoei word. Die ideale plek is net waar ‘n lit met twee blaartjies vorm. Daar waar dit geknip word sal die takkies dan split en so sal jy later ‘n bos suurlemoen verbena hê. Knip jy hom nie gereeld nie, vorm ‘n onnet struik met lang slap takke vat baie onnet lyk.

Van die min kruie plante wat eerder nie gesnoei behoort te word nie is byvoorbeeld die roosmaryn. Nie die rank- of die bosroosmaryn moet gesnoei word nie. Inteendeel groter die bos en dikker die takke, hoe beter kan jy hom gebruik. Volgende keer praat ons oor die soort kruietuin wat jy wil begin.

Uit my Ma se Resepteboek vervolg

Vandag skryf ek verder terwyl ek deur my ma se resepteboek blaai. Ek toets my eie teorie deur veral na die resepte op die blaaie wat vuil gevat of vol vet spatsels is te kyk.

Een van die eerste resepte wat ek teëkom is in vroutjie-doutjie se handskrif. Dit is ’n SMEER MENGSEL VIR SKAAPBOUD. Ek is seker my ma het vroutjie-doutjie gevra  om die resep vir haar neer te skryf. Ek het die resep onmiddellik onthou. Dit is ’n besonderse resep vir wanneer jy die skaapboud in die oond gaarmaak. Ek het dit nog nie op die ketelbraai probeer nie maar dink dit sal heerlik wees.

SMEER MENGSEL VIR SKAAPBOUD

Maak ’n pasta van:
5 ml paprika
3 ml rooipeper
5 ml sout
3 ml knoffelpoeier
3 ml gedroogde of 6 ml vars salie
5 ml olie

Vryf die skaapboud met die pasta voor dit in die oond gaar gemaak word.

Ek dink daar was niemand wat Bief Stroganoff of Pilaf soos my ma kon gaarmaak nie. Hier is haar resept:

BIEF STROGANOFF

2 lb. steak in klein blokkies gesny
Olie om in te braai
1 blik sampioene
1 pakkie hoender-room sop
1 pakkie sampioen sop
2 el tamatiesous
2 groot uie (fyngesny)
1 koppie room
2 koppies water
Sout en peper na smaak.

Braai die vleis en uie in olie tot gaar
Gooi twee koppies water en die sout en peper by en laat vir nog ongeveer ’n halfuur kook.
Maak nou die sop met ’n klein bietjie koue water aan tot ’n dik pasta voeg die tamatiesous en ’n bietjie van die warm water uit die pot by (om te keer dat daar nie klonte vorm nie) en roer goed deur.
Voeg dit nou by die vleis in die pot en kook tot dit ’n lekker dik sous maak.
Bring die hitte af tot onder kookpunt.
Sodra die mengsel ophou kook moet die room bygevoeg word en alles omgeroer word.
Dien op saam met groenertjies en rys.
 

My ma se Pilaf was een van my persoonlike gunstelinge. Die neut of amandels se smaak is verfrissend in die gereg. Ek wil hierdie resep veral aanbeveel vir skoonsus Zina en swaer Thys, ek dink dit gaan reg in hulle smaak val.

PILAF

Gaar rys (met bietjie borrie gekook om dit effens geel te kleur)
Steak (nie te veel nie)
Olie om in te braai
Rosyne (handvol)
Sultanas (handvol)
Neute of amandels (handvol)
Ui
Soetrissie
Tamatie
Pynappelringe (klein blikkie)

Braai blokkies steak met ’n klein bietjie olie tot gaar.
Gooi rosyne, sultanas en gekapte neute of amandels by.
Kap ’n ui en ’n soetrissie fyn en voeg dit ook by. Braai nog ‘n rukkie. 
Sny nou ’n tamatie in blokkies en voeg dit by.
Laaste voeg jy een klein blikkie pynappel ringe wat in blokkies gesny is by.
Gooi nou die rys by. 
Rroer die liggies deurmekaar en bedien met ertjies en mengelslaai.

Die familie van my pa se kant is almal van die Oos Kaap se wêreld. Daar uit Oos Londen en Grahamstad/Port Elizabeth en dus uit die aard van die saak heel Engels. My niggie Ruth en haar man Mike… hulle was van Grahamstad… het gereeld vir ons kom kuier en so ook ons vir hulle. Mike was betrokke by ’n groot slaghuis groep en ek was baie verbaas toe ek Ruth se naam in die resepte boek by hierdie maklike Klapper Ys resep kry. Ek sou haar naam eerder by ’n vleisgereg verwag.

Ruth’s Coconut Ice


6 cups sugar
4 cups coconut
1 ½ cups fresh milk

Melt sugar in milk on low heat for 15 minutes
Remove from heat and add coconut.
Beat well and pour out
Colouring can be added to some if needed.

Nog ’n resep uit die Oos Kaap is my tannie Maraai Wilkins van Oos Londen se Gebakte Poeding resep.

Tannie Maraai se Gebakte Poeding

1 koppie meelblom
1 koppie suiker
1 koppie melk
1 el. Botter
1 t. Vanielje geursel
1 t. Koeksoda
1 t. Appelkoos konfyt
1 eier
Sout

Meng soos vir ’n grootkoek en bak vir 30 min by 350°.
Sodra dit uit die oond gehaal word moet die stroop oorgegooi word. Moet dit nie weer terugplaas in die oond nie.

Stroop
1 koppie melk
1 koppie botter
½ koppie suiker
1 t. Vanielje

Meng al die bestanddele en gooi oor die beslag.

Bedien met room oor.

Uit My Ma Se Resepte Boek

 

(Let Wel – hierdie resepte uit my ma se resepte boeke is nie almal getoets voor ek dit op hierdie blog gepubliseer het nie!)

Baie jare terug het vroutjie-doutjie twee resepte boeke by my ma gekry, hardeband boeke vol resepte geplak en geskryf. Om deur die boeke te blaai en hier en daar my ma se handskrif te herken, is dit asof ek my ma kan ruik en haar in die kombuis kan hoor werskaf. In my verbeelding sien ek haar selfversekerde raakvat manier en ek hoor haar praat oor hoe sy die by tannie Malan gehoor het of hoe my ouma daardie gedoen het.

Ek kan die groot bakke kos wat sy met groot sorg voorberei het op die tafel sien, of daar waar sy in die oond loer om te kyk of die koekies nie brand nie.

My ma het nooit te min kos op die tafel gehad nie… nee daar was eerder ’n oorvloed! Jy kon enige tyd in die yskas loer vir iets lekkers.

Hier volg ‘n paar van haar resepte.

Mostert

Langs die naam van die resep staan geskryf “Joey Boshoff”

Joey Boshoff was my pa se niggie. Haar man het by die OTK in Bethal gewerk terwyl sy die plasie in die omgewing van Davel aan die gang gehou het.

Tannie Joey as ’n klein en fyn, besige vroutjie wat kon onthaal soos min.

4 eiers

8 el suiker

1 k. asyn

6 t mosterd poeier

1 knippie sout

Klits die eiers, asyn, suiker en die knippie sout. Meng dan die Mostert in die mengsel.

Kook stadig tot dik.

Gemmer Koekies

(Langs die resep staan Myra)

Die Fouries was vir baie jare ons bure. Tannie Myra was ’n statige vrou en een van my ma se beste vriendinne. My ma het altyd baie komplimente gekry vir hierdie Gemmerkoekies en was baie trots daarop.

3 lb. meel (12 koppies)

3 koppies suiker

2 lb. stroop

1 lb. botter of margarien

4 eiers

1 pakkie koeksoda

5 t. (hoogvol) gemmer

Meng die koeksoda met kookmelk. Voeg die suiker, gemmer, sout en meel bymekaar en meng goed saam. Verhit die botter en stroop effens (indien te warm laat dit afkoel). Gooi nou die botter en stroop mengsel by die droe bestanddele. Voeg ook die koeksoda mengsel by en meng alles deeglik.

Maak ronde bolletjies en druk plat met jou duim. Bak in ‘n matige oond.


Tipsy Tert

Ek weet nie waar my ma hierdie Tipsy Tert resep gekry het nie maar die komplimente daarvoor was net so oorvloedig.

1 k. dadels

1 k suiker

1 k. kookwater

1 eier

1 t. koeksoda

1 ¼ k. meelblom

2 el botter

1 t. bak poeier

Sout

(Daar is nie geskryf hoe warm die oond moet wees of hoe lank dit moet bak nie.)

Sous:

1 1/4 k. suiker

2 botteltjies rum essens

1 t. botter

¾ k. water

1 t. vanilla

Kook die suiker en water vir 5 minute

Voeg die ander bestanddele by, meng en laat afkoel.

Gooi die sous oor die warm tert. Laat dit afkoel en versier met room.


Dina se Peri-peri Hoender

Ek kan nie onthou wie Dina was nie.

½ k. olie

¼ k asyn

1 el tamatiesous

1 t. paprika

½ t. sout

1 el worcestersous

2 t. peri-peri

4 huisies knoffel

Meng alles saam en plaas hoender oornag in die marinade.

(nêrens is daar enige aanduiding oor die gaarmaak proses nie)

Monkey Gland sous

Monkey Gland steak was een van die gereelde items op ons gesin se spyskaart:

3 groot uie (gekap)

3 t. olie

6 t. tamatiesous

6 t. worcestersous

6 t. wyn of asyn

6 t. bruinsuiker

3 t. blatjang

Sout en peper na smaak

Gemengde kruie na smaak

Braai-kook die sous vir 10 minute stadig

Plaas die vleis in pan, gooi die sous oor en prut tot gaar.

Ek sal volgende week verder deur my ma se resepte boeke blaai

Geniet die week!!