IETS VINNIG VIR DIE AAND

Vriendin Deniece het gevra wat kan ‘n mens in die aand vinnig in die oond gaarmaak as jy ‘n werkende vrou is wat in die aande, behalwe kosmaak, nog wasgoed moet doen, huis aan die kant maak en soms nog werk huis toe vat ook. Vroutjie-doutjie en ek werk aan ‘n paar idees maar hier is vir solank ‘n lekker en maklike resep vir firkkedelle. Die resep kan ook gebruik word vir hamburgers.

Ek het die resep gekry toe ek een nag nie kon slaap nie en gehoor het hoe iemand die resep oor die radio gee. Ek kon die volgende oggend nie mooi onthou wat die bestandele was nie en het toe maar bietkjie geimproviseer

FRIKKEDELLE

500 g. maalvleis
1 pakkie bruin uie sop poeier
1 eier
125 ml. room of gewone (plain) yogurt

Meng alles goed saam.
Vorm frikedelle en pak dit in ‘n vuurvaste bak.
Bak vir ongeveer ‘n half uur in ‘n oond wat vooraf teen 180 grade verhit is.

My idees vir resepte raak nou min. As enige iemand ‘n resep het wat ek op die blog kan sit, stuur die asseblief na my e-pos by
jenbbonthuys@gmail.com. Ek sal dit pos en jou alle erkenning gee. Ek sal net graag die storie agter die resep ook wil pos.

Advertisements

SOUSE

Een van die dinge wat nooit uit twee potte dieselfde proe nie, is sous. Enige sous… van ’n witsous tot ’n lekker bruinsous oor die Sondag Roast… nie eens dieselfde sjef se souse proe altyd dieselfde nie!

Vroutjie-doutjie het destyds die voedsel afdeling van ’n kettingwinkelgroep bestuur. Sy het op ’n sous afgekom wat die kokke daar gereeld vir die klante wat pap bestel het, gemaak het. Sy het die resep gememoriseer en met ’n paar veranderinge het ons hierdie resep gekry wat heerlik oor die pap of aartappels met ’n braaivleis is.

SOUS VIR DIE BRAAIVLEIS PAP

1 Groot ui (fyngekap)

½ Groen soetrissie (fyngekap)

1 Wortel (gerasper)

1 t. Fyn knoffel

2 el. Olie

1 t. Kerrie (pasta of poeier – ek verkies pasta vir hierdie resep)

1 blik Tamatie en uie smoor

1 blik Baked Beans

1 t. Suiker

Sout en swart peper na smaak.

Braai die ui, soetrissie en wortel in die olie tot die ui deurskynend is.

Voeg die kerrie en knoffel by, roer deur en braai nog ’n minuut.

Voeg nou die tamatiesmoor, baked beans, suiker en sout en peper by. Roer deur en laat vir 20 minute op lae hitte prut.

Dien op saam met pap, aartappel of broodjies. (sorg dat daar oor is vir die volgende oggend se roosterbrood.)

Terwyl ek nou so besig is met die souse… menige ou het my al gevra wat ek verkies vir ’n rissie sous. Ek het al ’n paar probeer en by die volgende resep vasgehak.

Volgens baie mense brand hierdie rissies nie genoeg nie maar ek het nog nooit in my lewe gedink daar is enige plesier in om jou smaak organe dood te brand en dan, terwyl jy vir die volgende jaar niks kan proe nie en met ’n beker yswater die toilet moet besoek, spog dat jy van baie warm sous hou nie! Ek kan aan makliker maniere dink om jou manlikheid te bewys!

Hierdie resep het ek ’n paar jaar terug by ’n kollega gekry. Hy het dit glo by ’n afgetrede kolonel van Port Alfred gekry.

SWEET CHILLIE SOUS

3 Blikkie fyn appelkoos konfyt

12 Groot uie (3 kg ongeskil of 2 kg geskil)

50 groot rissies (350 g.) (bv. Jelipeno) vir medium warm of 250 g. klein rissies (bv. Zimbabwean Red Eye) vir ’n warm mengsel.

1 eetlepel tafelsout

2 koppies wit asyn

Die uie word eers gemaal en dan ontwater deur die in ’n moeselien doek te gooi en die water daaruit te druk. Die ontwatering van die uie is baie belangrik want as daar nog water in jou uie is, is jou sous te pap.

Na die uie moet die rissies ook gemaal word en maal dan die appelkoos konfyt, hoewl die fyn is, net om die styfheid van die blik daaruit te kry.

Meng die uie, rissies en konfyt.

Voeg die sout en asyn by en meng alles goed in jou voedsel verwerker.

Bottel die vir gebruik.

NAWEEK RESEPTE


Verlede naweek is ons klomp wat saam werk na ’n wildplaas waar ons net bietjie gaan uitspan het! Dit is interessant om die wederhelftes van jou kolegas te ontmoet en ook om die mense wat daagliks saam met jou skouer aan die wiel sit, in ’n meer ontspanne atmosfeer te sien,

Dit is dan ook hier om die vuur waar jy lekker resepte kry. So het ek twee resepte gekry wat my beïndruk het. Die een is ’n hoender resep van Wayne, kollega Natalie se wederhelf en ’n brokkoli slaai resep van kollega Sonja se ma. Ons het toe ook sommer hierdie Sondag die hoender beproef en as bykos, die brokkoli slaai gemaak!

Wayne se GEMARINEERDE HOENDERSTUKKE

Hoenderstukke (Ons het 8 ontbeende borsies gebruik maar ek dink een hoender in stukke gesny of ’n hele flattie sal ook werk)
1 k. Olie
1 t. Borrie
1 k. Suiker
1 t. Knoffelsout
1 k. Tamatiesous
½ k. Worcestersous
1 t. Aromat
½ t. Paprika
½ k. Sojasous
1 t. Gemengde kruie
3 uie (fyngekap)
4 Lourierblare
1 t. Kerrie
1 k. Asyn

Meng al die bestanddele en marineer die hoender daarin vir twee dae (hou maar in die yskas)

Braai met sous en al in ’n skottelskaar tot gaar.

Sonja se ma se Brokkoli slaai is so lekker dat ons dit, behalwe Sondag, sommer weer vandag gemaak het… op gewilde aanvraag natuurlik!

BROKKOLI SLAAI

1 Kop Brokkoli in die mikrogolf vir 5 minute gestoom en dan afgekoel en in blommetjies gebreek (die stingeltjie moet ook in klein dobbelsteentjies gesny word.)
250 g. Spek in stukkies gesny, gebraai en laat afkoel (ek voeg gewoonlik so ’n halwe teelepel heuning by spek as ek dit braai – dit karameliseer die spek heerlik)
1 Groot ui fyn gesny
1 k fyngerasperde cheddar kaas

Meng alles in ’n groot bak en gooi die slaaisous oor

SLAAISOUS
125 ml mayonnaise
1 el. Bruin asyn (die bruin asyn kan met balsamiese asyn vervang word vir meer geur.)
½ t. Sout
¼ t. Witpeper
½ t. Suiker
Opsioneel: ’n klein bietjie fyn gekapte knoffel of knoffelolie en/of gekapte neute

VERDER OOR KOEKE, TERTE EN ANDER LEKKER DINGE

Die verskeidenheid wat vroutjie-doutjie by die vlooimark bemark het in ’n stadium so uitgebrei dat sy nie genoeg ure per
dag gehad het om alles te bak nie. Na deeglike beplanning het sy nou haar voorraad beperk tot die volgende:

• Groot Koeke: Sjokolade, vanielje, wortel-piesang en dan 
   kerskoek vir die Feesseisoen.
• Terte: Appeltert, melktert, suurlemoentert, pepermenttert,
   tipsytert, souttert.
• Klein koekies: Hertzoggies, Jan Smutskoekies, ystervarkies
   (lamingtons), koffiekoekies, soetkoekies,
   kondensmelkkoekies, crunchies.chocklate-chip-koekies,
   sjokolade blokkies en koeksisters
• Beskuit: Kondensmelk-, anys-, gesondheid-, karringmelk- en
   boerebeskuit.
• Gemmerbier
• Dan maak sy ook bazaar poeding wat eintlik net Vanillakoek
   met rooi en groen jellie en vla is.

Sy bak ook cupcakes, maar dit word sommer verniet vir die kinders by die mark gegee.

Die sjokoladekoek resep het vroutjie-doutjie by buurvrou gekry:

SJOKOLADEKOEK

375 ml suiker
4 eiers
5 ml sout
5 ml vanielje geursel
125 ml olie
500 ml meel
30 ml bakpoeier
350 ml kook water
100 ml kakao

Klits die eiers en suiker tot romerig
Voeg die geursel en die sout by.
Voeg nou die olie by en klits
Nou word die meel by die mengsel gevoeg
Strooi nou die bakpoeier oor en MOET NIE ROER NIE!
Gooi die kookwater oor die mengsel en laat dit skuim.
Wanneer die geskuim het, klits die mengsel goed en gooi in twee koekpanne.
Bak vir dertig minute by 180°

Ek kan nie nalaat om vir beskuit resep te gee nie!
Dit is die lekkerste beskuit wat ek nog geëet het!

Kondensmelk Beskuit

2.5 kg. Meel
250 g. smeer
37 ml sout
500 ml suiker
3 koekies suurdeeg
12,5 ml asyn
1 blik kondensmelk
2 k lou water
2 kondensmelkblikkies water
3 eiers
(25 ml anys indien jy anys beskuit maak)

Smelt margarien voeg die kondensmelk, gemeng met die twee blikkies water, by.
Klits die eiers en voeg die by die mengsel.
Los die suurdeeg in die twee koppies lou water op en voeg dit by die mengsel.
(As jy op Anysbeskuit besluit het, moet die anys nou bygevoeg word)
Roer nou een kilogram van die meel in die mengsel en laat dit toe om te rys vir een uur.

Terwyl die mengsel rys voeg jy die suiker en die sout by die res van die meel en meng dit.

Voeg die mengsel wat gerys het by die meel wat met die sout en suiker gemeng is en knie dit goed. Sorg dat jy baie fiks
is as jy nie ’n kniemasjien het nie want ek glo om die beste resultaat te kry moet die mengsel vir minstens twintig minute
goed geknie word.
Deel die deeg in drie dele en laat dit op ’n warm plek rys vir sowat een uur.
Knie dit deur, sit dit in panne en laat dit vir nog twee ure rys.
Bak by 180° C vir een uur.

Gebruik die resep vir die tertkorse wat ek in vorige hoofstuk se resepte gegee het vir die Hertzoggies en die Jan Smutskoekies.

Hier is die Hertzoggies se resep.

HERTZOGGIES

Tertdeeg (soos in die vorige hoofstuk)
Appelkooskonfyt
3 eierwitte
300 ml suiker
500 ml klapper

Klits die eierwitte styf
Klits die suiker geleidelik by
Roer die klapper by

Voer kolwyntjie pannetjies met die deeg uit
Skep 3 ml appelkooskonfyt in elke holte wat met deeg uitgevoer is.
Skep die klapper/eier mengsel bo-oor
Bak teen 180° vir twintig minute.

Koeksisters

Die koeksister resep is een wat die Hervormde Kerk in Empangeni se susters altyd gebak het.

STROOP

12 k suiker
6 k water
12,5 ml suurlemoensap
1 stokkie kaneel

Kook dit saam vir 10 minute en laat afkoel tot baie koud

Deeg:
6 k meel
11 tl bakpoeier
1 hoogvol tl sout
3 k lou water
3/4 k olie

Sif meel, bakpoeier en die sout saam
Gooi die olie en die water by en knie goed deur
plaas die deeg oornag in die yskas
Rol, sny, vleg en bak die koksisters die volgende dag in diep olie
en dompel die warm koeksisters in die koue stroop.

Let wel: Koeksisters vries baie goed.