… en daar sterf my feetjie!

dying-fairy

… en daar gaan my feetjie dood!

Vandat ek getroud is, het ek ʼn feetjie gehad.

Vir vyf-en-dertigjaar het ek nie een keer my eie klere uit die kas gehaal nie. As ek uit die stort gekom het, het my klere op die bed gereed gelê… my feetjie het dit reggesit. Na ʼn ete was die skottelgoed nooit ʼn probleem nie. As Vroutjie-doutjie die aand gepraat het oor skottelgoed het ek net gesê “Ag los dit vir more.” Die volgende middag, as ek van die werk afkom, was al die skottelgoed gedoen en die volgende ete was gereed. My wonderlike feetjie het die gedoen!

My feetjie kon enige ding doen! Sy kon die braai-rooster was na ʼn aand se gekuier, opruim na ʼn potjiekos-onthaal, stryk… enigiets!

…en toe vrek my fairy… die dag toe ek aftree.

Die eerste oggend na my aftrede lê ons bietjie laat. Ek staan eerste op en gaan stort. Toe ek uit die stort kom lê Vroutjie-doutjie nog in die bed!

“En nou?” vra ek geskok.

“Wat?”

“Waar is my klere?”

“In die kas.”

Ek het nie so ʼn antwoord verwag nie.

Dit het my tyd gevat om by die nuwe verantwoordelikhede aan te pas. Deesdae gaan slaap ek nie as die skottelgoed nie in die skottelgoedwasser gepak is nie. Ek sit foelie onder in die braai voor ek vuur maak want ek moet die volgende oggend die braaier skoon maak. En… en,,, en,,,

ek mis my feetjie!

Advertisements

Die Rooster

Van laerskooldae is my lewe gerig en bestuur deur ʼn rooster. Dit is asof ek my standerd drie onderwyseres, Mevrou van der Westhuyzen, se stem nog kan hoor: “Boek by die huis vergeet is nie ʼn verskoning nie! Jy het mos ʼn rooster!” en dan die daaropvolgende houtliniaal-houe op die uitgestreke plathand.

Ek het heimlik gevoel ʼn skoolrooster is uitgevind om kinders te straf.

Op hoërskool het ek die noodsaaklikheid van ʼn rooster begin waardeer.

ʼn Tipiese rooster:

rooster

 

In die korporatiewe-wêreld beheer die dagboek jou lewe. Ek het nou nog iewers ʼn stokou dagboek wat vertel van vergaderings en spertye. Vervaldatums en, veral, vakansiebeplanning.

Dagboek 2.jpg

Nooit sou ek kon droom dat ek ʼn dagboek sal hou as ek aftree nie.

Ek het dinge te deurmekaar gedoen en wanneer ek teen die einde van die week terugkyk, het dit gevoel of ek my tyd gemors het. Die enigste wat ek nie as tydmors beskou nie is daardie noodsaaklike middagslapie.

My dae is nou georden… van vandag af. Ek sal moet kyk of ek by my rooster kan hou.

Vrydae is “BLOGDAG”