CAPE VIDAL MET PAUL SE 4 X 4

Dit was so 1990.

Zululand se dae.

Van die ouens, veral lede van ons bestuurspan in die kantoor, het self hulle persoonlike belastingopgawes voorberei en, omdat hulle nie al die vereistes mbt byvoordelebelasting en toegewings geken het nie, moes hulle jaar na jaar inbetaal. Mettertyd het hulle agterkom dat ek redelik op hoogte en bedrewe was met die belasting en so een vir een het hulle my gevra om te help met die voltooiing van hulle opgawes.

Ek het gehelp… verniet natuurlik want, “hoe kan jy geld vra vir ʼn pêl wat sukkel?”

So het dit gekom dat Paul, die hoof van die mannekragafdeling, na ʼn paar jaar se belasting meevallertjies, besluit het dat dit tyd geword het dat hy my op een of ander wyse moet bedank vir my onbaatsugtige diens.

Een Maandagoggend vra Paul of ons die naweek besig is? Hy het vir ons, dit is nou Vroutjie-doutjie ek en die twee kinders (daardie tyd so ses en elf jaar oud), ʼn verrassing-naweek gereël. Ons moet net Vrydag na werk, met klere en kampkos vir ʼn naweek, by sy huis wees.

Baie opgewonde was ons vroeg Vrydagmiddag by Paul se huis en daar was die verrassing:

Paul het vir ons ʼn naweekkampplek by Cape Vidal bespreek. Sy splinternuwe Ford 4 x 4 bakkie was gepak met alle kamp benodighede. Tent, gasstoof, matrassies ens.

Ford bakkie

Behalwe dat dit ons gesin se eerste kampervaring sou wees, was dit my eerste geleentheid om ʼn 4 x 4 op die strand te bestuur.

Ons het so ongeveer vyfuur daardie Vrydagmiddag by Cape Vidal aangekom.

Cape Vidal sign

Dit het gereën.

Die kampplek is aangewys en ons het, in die reën, begin afpak en die tent, wat ons vir die eerste keer gesien het, begin opslaan.

cape-vidal-rest-camp

Dit was chaos!

Dit was net modder.

Ek kan (uit aard van my unieke bou) nie op my hurke sit nie en moes alles gebukkend doen of doen terwyl en plat in die modder gesit het.

Oorkant die pad het ʼn paar manne, blink gedrink, voor hulle karavaan gesit en raad skree.

Baie moeg en vuil het ons, na ure se gesukkel, uiteindelik klaar gemaak.

Ons het egter besluit ons gaan nie toelaat dat die ou hindernissie ons naweek bederf nie. Die volgende oggend is ons vroeg weg strand toe, met die 4 x 4.

Ons gesin se eerste 4 x 4 strand-rit!

cape-vidal-beach

By die hoofstrand het ek gestop en almal het uitgespring en in die branders baljaar.

Cape Vidal Strand

Na sowat ʼn uur was ons weer terug in die bakkie en reg om, strand langs, verder noord in die rigting van Mapelane se ry.

Ek het die bakkie in rat gesit en die petrol getrap. Die resultaat was ʼn gebrul van die enjin en die agterkant van die bakkie wat voel of dit sak. Ek het gevoel hoe ek koud word en my hart na aan stilstand kom. Dit was doodstil in die bakkie. Nie een het ʼn woord gesê nie maar ons het geweet wat dit beteken… die bakkie sit in die sand vas… Paul se nuwe bakkie.

Terwyl ons kon voel hoe almal op Cape Vidal se strand, selfs die raadgewers van die vorige aand, ons met medelye aanstaar, het stories van hoe voertuie teen laagwater gety in die sand vassit en dan teen hoogwater deur die see ‘gevat’ word, deur ons koppe gemaal.

Paul se nuwe bakkie. Hoe sal ek dit ooit verduidelik!

Beelde in ons gedagtes:

bakkie sit vas

Bakkie in die see

Ek het die venster afgerol om uit te kyk hoe diep die bakkie in die sand weggesak het. Bo die gedreun van die see het iemand geskree: “MAAK LOS DIE HAND-BRICK!”

Ek het die venster opgerol, die handrem laat sak, en met ʼn bloedrooi gesig het ek weggetrek en ons het noord gery.

ʼn Paar kilometer verder was daar ʼn pragtige ongerepte strand.

Cape Vidal Rotse

Daar is weer in die water baljaar en ek het op die rotse gesit en die natuur bewonder.

Na nog sowat ʼn uur se strand en see baljaar het ons vêrder gery.

Die volgende skok was toe ons weer stop.

Ek het uitgeklim en toe ek afkyk sien ek die bakke se beige-bekleedsel is pikswart waar ek gesit het. My broek was ook agter pikswart. Ek het besef dit moes van die rots, waarop ek vroeër gesit het, afkomstig gewees het. Ek het die sitplek met ʼn handdoek probeer afvee maar geen sukses nie.

Ek het onmiddellik almal terug in die bakkie geboender en, met ʼn handdoek op die sitplek om verdere gemors te voorkom, terug gery kamp toe.

Daar aangekom het ek met Sunlight Liquid, wat al beskikbare skoonmaakmiddel was, probeer om die sitplek skoon te maak maar dit het niks uitgerig nie. Ons het St Lucia toe gejaag. Sowat dertig kilometer, daardie tyd grondpad. Daar het ons Handy Andy gekoop. Dit is vroutjie-doutjie se staatmaker-skoonmaakmiddel. Sommer voor die winkel het ek met die Handy Andy probeer om die sitplek skoon te kry. Sonder veel meer sukses.

Ons is toe terug Cape Vidal toe waar ons alles, wat in ure afgepak en opgeslaan was, in ʼn rekord tyd afgeslaan en opgepak het en ons is terug Empangeni toe.

By die huis in Empangeni het ek met ʼn matskoonmaakmiddel en olieverwyderaar die sitplek skoon gekry.

Vroutjie-doutjie en ek het die bakkie baie skoon gewas, vir Paul ʼn goeie bottel wyn gaan koop, sy bakkie vir hom terug geneem en vir hom gesê dankie… maar nee dankie.

Later het ons uitgevind dat die swart olierigheid wat op die rotse is, afkomstig is van die minerale wat in daardie omgewing in die seesand is en ook daar gemyn word.

“Geology: Coastal dunes are made of sand, which is the by-product of rocks weathered from inland regions.It is from here that the minerals ilmenite, rutile and zirconoriginate. The inland rock formations have been eroded by rain and wind and washed into the rivers that eventually flow into the Indian Ocean. Once in the sea, the sand is shifted up the coast by currents and wave action. Sand on the continental shelf gets shifted around continuously between the sea-floor, beach and dunes. Wave action deposits the sand containing the heavy minerals onto the beaches and the sand is blown into dunes by the prevailing onshore winds.” (http://www.miningweekly.com/print-version/richards-bay-minerals-kwazulunatal-2007-11-30)

DIE SEAHAWK II

In 2012 besluit Vroutjie-doutjie en ek om vir ons ʼn SKIP/JAG te koop.

Die motivering is wyd:

  • Ons het nie meer kinders in die huis nie en ons niks keer ons om aan boord te gaan en vir ʼn dag of ʼn naweek te seil nie.
  • Ek wou nog altyd meer tyd aan hengel spandeer en dit sou ideaal wees ons sommer van ons skip (jag) af te hengel
  • In die stad is daar “min” afleiding vir avonturiers,
  • In ons omgewing, Gauteng, is daar baie mere en as ons skip klein genoeg was sou ons op enige van die mere kon seil.

Ons stel toe ʼn paar vereistes:

  • Omdat ons in ʼn meenthuiskompleks gebly het, was dit moeilik om in ons tuin, wat een en ʼn half meter aan alle kante van die grensmuur af was, kaal te tan. Die skip se dek sou die ideale opsie wees. Ons het ook nie ʼn grasperk gehad nie… slegs plaveisel.

Spasie in die tuin:

Vereistes vir ons skip/jag:

  • Die jag moet klein en hanteerbaar wees maar terselfdertyd genoeg dek-spasie hê vir twee mense om gemaklik op te beweeg.
  • Dit moet kompak wees sodat dit nie te veel spasie by ons meenthuis opneem nie.
  • Dit moet lig weer sodat Vroutjie-doutjie dit maklik kan hanteer.

By een van ons sport verskaffers, Sportman’s Warehouse,  kry ons toe net wat ons soek – Die SEAHAWK II:

Genoeg spasie, Voutjie-doutjie kan die maklik hanteer (oppomp, afblaas, dra ens.). wat meer wil ʼn mens hê?

Seahawk II

Ons vaar toe ʼn paar keer op die wye waters van die Gautengse mere… twee keer om presies te wees.

Die tweede keer was die opwindendste!

Ons vaar op Roodeplaatdam:

Roodeplaatdam

Ons het die Seahawk II opgepomp, ons toerusting gelaai en, met ons veiligheidsbaadjies aan, die grote dam ingevaar. Diep in die dam in sodat ons nie die hengelaars moet pla nie.

Na sowat vyf minute se vaar teen die ongelooflike spoed van .007 knope per dag, hoor ons ʼn geweldige geskree van die wal af.

Op die kant staan daar ʼn man, visstok in die een hand en al waaiende met die ander hand en skree! Ons dink eers hy ken ons van iewers af maar uit die histeriese desperate toonhoogte lei ons toe af iets ontstel hom. Ek dink toe dat jy een of ander seedraak naby ons gewaar, dat ons in lewensgevaar verkeer, en die man ons waarsku. Ek het die water om ons bestudeer maar kon geen draak sien nie!  Vroutjie-doutjie, wie se gehoor baie beter as myne is hoor toe dat die man, ten spyte van vele byvoeglike naamwoorde, aan ons probeer verduidelik dat ons jag se skroef sy lyn opbondel!

Ek het die motor onmiddellik afgeskakel en Vroutjie-doutjie en ek het kant toe begin roei.

Ons het ook daardie dag uitgevind dat van die min dinge wat ons twee nie saam kan doen nie, is roei. Eers beweeg ons agter toe en toe vorentoe en toe al in die rondte.

Ten einde raad het die hengelaar ons maar begin inkatrol. Sowat tien meter van die kant af het hy, onvriendelik, die water ingestorm en sy vislyn van die motor se skroef afgewen.

Ons het dadelik terug gevaar jeti toe en besluit dat om met ʼn skip te vaar nie vir ons is nie.

Dit was tot met die laaste kuier van seuna hier by ons by die see.

Ons het, vandat ons see toe getrek het, gewonder of die bootjie nie lekker op die rivier sal vaar nie. Daar is min aktiwiteit in die rivier en tot by die riviermond is dit redelik vlak. Die rivierwater lyk ook baie kalm.

Seuna en ek het besluit ons gaan die rivier met ons jag aandurf.

Die begin van die vaart was heel skaflik. Dit was so met die draai van die gety en die motor het die boot teen ʼn heel skaflike poed aangedryf.

Seuna aan die stuur van die Seahawk II en ons het so nou en dan geanker om ʼn lyntjie nat te maak.

Louisjan Seahawk II

Die terugvaart jeti toe was egter nie so gemaklik nie!

Dit was sowat ʼn kilometer terug jeti toe en ons het die terugvaart aangepak met seuna aan die stuur. Hy het na sowat vyf minute droogweg opgemerk dat ons nie eintlik vorentoe beweeg nie… inteendeel, dit het gelyk asof ons agtertoe beweeg. Die afleiding wat ons, uit ons beperkte seevaart kennis gemaak het, was dat die stroom te sterk was vir die Seahawk II se motor.

Ons het probeer roei maar die resultate was dieselfde as toe Vroutjie-doutjie probeer roei het. Omdat die enigste gemeenskaplike deler in die roeipogings ekself was, aanvaar ek heimlik dat ek die oorsaak van die roei probleem moet wees. Behalwe vir ons koördinasie probleem was die water, as gevolg van die gety, so laag dat die bodem van ons skip teen die sandbanke vasgesteek het.

Ten einde raad het seuna uitgeklim en die boot sowat ʼn kilometer vêr, tot by die jeti, gesleep. Teen die stroom.

En nou liewe vriende is my skip, die SEAHAWK II, netjies opgevou en in sy sak, in die wendy-huis gebêre. Ons moet dit sien aan ʼn aandenking van ons skeepvaart ondervindinge!