BURE SE DINGE

 

Na aanleiding van Vriendin Anet wat in Engeland bly se probleme met die bure (die Ingelse kan klaarblyklik rof wees as hulle wil)… het Vroutjie-Doutjie gesê ek moet vertel van ons peste dan sal mense wat bure met gewoontes of dinge wat pla het, dalk beter voel.

Mense wat so skuins oorkant ons bly het twee foksteriers gehad wat die heel nag geblaf het. Ek glo nie dit is opregte honde nie want hulle het die kleur van foksteriers maar hulle het buitengewoon kort beentjies en sulke lang ore wat komieklik regop staan. Die hondjies het die heel nag in die straat voor ons huis geblaf. Toe gebeur die ergste! Die twee hondjies kry twee kleintjies en nou is daar vier. Hulle blaf nie regtig nie maar maak sulke angswekkende, langdraderige, tjank geluide. Die vrou werk by dieselfde kantoor kompleks as ek en ek het haar al gevra om die honde in die nag in haar erf te hou. Sy was vies en heel geskok dat ek so iets kan vra maar daarna was die honde vir ‘n tyd stil. Hulle was egter met vakansie en noudat hulle terug is het dit weer van voor af begin!

Die probleem is, ons honde slaap by ons in die kamer en as die straathonde met hulle nonsens begin wil ons honde net uit!

Vroutjie-Doutjie dink enige wrede plan uit om die honde te elimineer! Sy het nou die dag oor die radio gehoor honde gaan dood van rosyntjies… nou dink sy daaraan om vir die brakkies rosyntjies in te gee.

Haar gewete pla haar egter want toe ons in Vryheid gebly het, het ons bure so ‘n brak gehad wat die heel nag geblaf het. Vroutjie-Doutjie gooi toe, een nag toe ons nie kon slaap nie, omdat die hond so blaf, ‘n bolletjie mince waarin ‘n slaappil versteek was, oor die muur. Die hond was daarna doodstil maar toe kon Vroutjie-Doutjie steeds nie slaap nie want toe is sy bang die hond het gevrek. Die volgende dag was die hond gelukkig nog daar maar hy het om een of ander rede nooit weer in die nag geblaf nie