VEERTIGSTE VERJAARSDAG “SKAAP OP DIE SPIT”

 

Ek kan nooit besluit of die ouderdom van veertig vir my soos ‘n mylpaal of soos ‘n bedreiging was nie, maar dit was altyd vir my of dit iets groots was wat gewag het. Miskien was dit omdat ek in my verborge psige besef het dat ek op veertig moet aanvaar dat ek oud word! Ouderdom is mos vir ’n mens soos trappies van ’n leer. Die eerste trappie is wanneer jy tien jaar oud word. Ons seun het op sy tiende verjaarsdag gesê hy is nou in die ‘double figures’. Dertien is dan jou volgende treetjie want jy is dan ’n tiener. Die volgende treetjie is as jy een en twintig word want dan is jy ’n grootmens. Hoekom veertig so besonders was kan ek nie sê nie maar geen ander verjaarsdag was vir my so ’n besonderse mylpaal nie. Ek kan goed onthou toe my ma veertig geword het. Sy was toe vir my stokoud. Inteendeel, toe ek ‘n kind was, was almal wat oor dertig was vir my stokoud!

Jare voor my veertigste verjaarsdag het ek al besluit ek gaan die ontluiking van my ‘naughty fortees’ inlui met die moeder van partytjies! Vroutjie-doutjie en ek het gevolglik so teen Maart van daardie jaar… dit was 1995 en ek verjaar in Junie… begin om die beplanning te doen, die reëlings te tref en die versigtig uitgesoekte gaste te nooi. (Ek noem dat die gaste versigtig uitgesoek moet word want daar is niks wat ‘n partytjie so bederf as gaste wat nie bymekaar pas nie.)

Ons spyskaart was geskoei om ‘n skaap op die spit. Vroutjie-doutjie het baie moeite gedoen met die voorbereiding van die bykosse en alternatiewe vir die mense wat nie skaap eet nie. Omdat ek net naweke tuis was, moes vroutjie-doutjie en die twee kinders al die dinge alleen doen en sy moes nog haar na besigheid, wat sy in Empangeni bedryf het, omsien.

Soos die atmosfeer opbou het na enige groot gebeurtenis was die opgewondenheid nader aan die Saterdag van my verjaarsdag nie anders nie. Wat bygedra het tot die opbouende opgewondenheid was dat dit ook dieselfde Saterdag was dat die Springbokke teen Frankryk vir die wêreld beker gespeel het. Die sogenaamde ‘water toets’ in Durban.

Steve, ‘n goeie vriend en eienaar van ‘n supermark in die dorp, het aangebied om vir my die skaap voor te berei vir die spit. Ek het die vorige Saterdag al die skaap gaan uitsoek. Dit was nie ‘n groot skaap nie want daar was net sowat dertig gaste genooi. Nie te maer nie, maar ook nie te vet nie want mense is deesdae baie gesondheid bewus. Steve het belowe die marinering proses sou die daaropvolgende Woensdag begin.

Ek het Steve vroeg Woensdag oggend gebel en hom herinner aan die skaap. Ek was bang hy vergeet en ek wou geen foute in ons versigtig beplande funksie hê nie. Vrydag so teen middagete het ek Steve gebel om te hoor of ek die skaap kan kom kry. “Nee man Jan! Jy is veels te haastig.” was Steve se antwoord “Die skaap marineer rustig. Kom kry hom more so teen twaalf uur” Ek was onder die indruk dat ’n skaap op die spit minstens vir twaalf ure moes braai maar Steve het my oortuig dat, omdat die spit wat ek gehuur het ’n toe, vlekvrye staal model was wat met gas werk en nie die oop tipe wat met houtskool werk nie, die skaap vir slegs sowat ses ure hoef te braai.

Met ‘n geruste hart dat my skaap deeglik marineer het ek die aand gaan slaap en die volgende oggend het ek gesorg dat die hele gesin vroeg opgestaan. Ons het daardie oggend geskok-verbaas na die slierte reën gestaan en kyk. Gelukkig was dit ‘n gas-spitbraai-eenheid en ons kon dit op die stoep staan maak. Ons moes inderhaas die motorhuis regpak want die lapa het net skadunet vir ’n dak gehad wat die reën sou deurlaat en ander plek om dertig mense te onthaal was daar nie. Vir iemand wat by sy pa geleer het om nie goed weg te gooi nie want jy kan die dalk later nodig kry, was dit vir my ‘n stryd om te besluit wat moet uit die motorhuis na buitekamer, wat klaar oorvol was, verskuif word en wat moet weggegooi word.

Teen twaalfuur het ek die skaap by Steve gaan haal en met ‘marinade’ druppende uit die karkas het ek en Seuna die skaap op die spit vasgemaak en die gas aangesteek. Ons was baie haastig om nie die volksliedere voor die toets te mis nie en het die res van die voorbereiding aan vroutjie-doutjie en Doggie oorgelaat.

Toe die Bokke gaan lemoene eet teen halftyd het ons gou gaan kyk of die skaap nog reg was en gesien hoe die een poot losgekom het. Ek het die pote, deur die hakskeen senings met draad aan die spit-ysters vasgemaak en die feit dat die een poot losgekom het was vir my ‘n teken dat die skaap goed gemarineer was en baie sag gaan wees.

Na die wedstryd het die gaste begin aankom en sommer dadelik met die nabetragting van die toets, lekker begin kuier. So teen seweuur het ek ou Jakes, geoloog by die myn en ‘n deeltydse boer uit die Vrystaat, as kenner van skape en gevolglik die regte kandidaat, gevra om te help om die skaap van die spit af te haal en op te sny. Omdat die ruimte op die stoep maar beperk was, moes ons die skaap in die kombuis op die werkoppervlak opsny.

Met die eerste snit aan die boud het Jakes stil geraak en ek het verbaas gestaar na die rooi-bruin kleur van die vleis! Ons het bespiegel dat dit sekerlik maar die tipe marinade is wat gebruik is. Met die proe het ons net geskok na mekaar gestaar! Die vleis was so sout dat geen mens dit kon eet nie! Ek het Steve stil eenkant geroep en gevra wat aangaan. Hy kon, verbaas soos ek, net sy kop skud.

Niemand het daardie aand van die skaap geëet nie en die gaste het die onderwerp van die sout-skaap vermy. Gelukkig het vroutjie-doutjie genoeg hoender en ander vleis voorberei wat die situasie bietjie verlig het.

Ek het my verleentheid probeer verberg deur maar ekstra hard saam met die gaste te kuier en het na die laaste gaste weg is gou omgedop. Vroutjie-doutjie en Doggie moes maar sorg dat die plek ‘n bietjie aan die kant kom en die bederfbare goed in die yskas kry.

As jy in ag neem dat die laaste gaste eers teen twee uur die ogend weg is en Vroutjie-doutjie en Doggie teen drie uur nog besig was om op te ruim, sal jy die humor sien in Doggie, wat toe twaalf jaar oud was, se aanmerking “Will this nightmare never end!”

Die volgende oggend vroeg het Steve my gebel en gevra om supermark toe te kom.

“Hoekom Steve?” het ek bekommerd gevra “Wat is fout?”

“Jan” Steve het erg beswaar geklink “Ek wil vir jou ‘n skaap gee”

Ek kon verstaan dat Steve sleggevoel het maar het opreg die aanbod van die hand gewys.

“Nee Jan, ek wil vir jou ‘n skaap gee. Ek voel sleg want my slagter het ‘n groot fout met jou skaap gemaak.” het Steve aangedring.

“Watse fout Steve?” wou ek weet.

Steve het ‘n oomblik stilgebly en toe somber geantwoord. “Hy het die skaap nie gemarineer nie…maar gepekel.”

Advertisements

CANNELONI EN LASAGNE

Soos ek vroeër genoem het, was Woensdag aande vir die manne van ZAC so ’n vinnige breek om gou huis toe te gaan en jouself net te gerus te stel dat alles tuis nog goed en om die familie waar nodig met raad en daad by te staan. Wanneer jy so vêr van die huis en die gesin is sal die jou verbaas oor hoe die gesin, sonder Pa tuis, onafhanklik kan word. Ons Pa’s dink mos gewoonlik niemand in die gesin kan dink, en niemand mag besluite neem behalwe ons nie. Dit verbaas ons dan gewoonlik en ons is amper half teleur gesteld oor hoe onmisbaar ons werklik is. Dit is ook belangrik vir die goeie funksionering van jou gesin, wat noodgedwonge sonder Pa by die huis moet klaarkom, dat jy nie te veel moet inmeng met hulle roetine nie. Jy moet slegs raad gee en help waar jy kan want as jy Donderdag oggend terug is myn toe moet die wiel by die huis steeds geolie draai.

Die is om die rede dat Woensdag aande nie groot kosmaak aande is nie. Die maklikste en vinnigste om voor te berei is een of ander pasta gereg. vroutjie-doutjie het ‘n Lasagne gereg ontwikkel wat vinnig is om te maak, nie te swaar vir ‘n aand ete is nie en wat heerlik is saam met ‘n mengelslaai.

Lasagne

5 ml kookolie

I ui fyn gekap

500 g. maalvleis

1 pakkie groente sop poeier

1 klein blikkie tamatie pasta

250 ml water

Lasagne velle

300 tot 500 ml witsous

1 koppie kaas

Braai uie en maalvleis in die olie

Meng soppoeier met water en die tamatiepasta

Gooi by vleis en kook tot gaar.

In ’n oondbak – doen die volgende:

’n laag maalvleis

Laag lasagne velle

Die Spysenering by ZAC is nie deur die myn self bedryf nie. Daar is op tender uitgegaan en die suksesvolle spysenering maatskappy is dan vir ‘n bepaalde tyd aangestel. Die gevolg hiervan is dat daar met gereëlde tussenposes nuwe spysenering personeel en daarmee saam ook, nuwe sjefs aangestel is. Omdat ek baie in kosmaak belang gestel het, het ek gesorg dat ek gou met die Sjef kennis maak om ‘n paar resepte of idees te kry.

Een van die Sjefs wat saam met so ‘n nuwe maatskappy daar aangeland het, het ons een aand onthaal met hierdie lekker Canneloni gereg.

Canneloni

Gebruik dieselfde resep soos bo om die maalvleis te maak. Voeg net meer water by om die meer souserig te kry.

Stop die maalvleis in die canneloni, pak dit in die oondbak en bedek die met die witsous (‘n dun witsousie), gevolg deur die kaas.

Bak in die oond vir een uur teen so 140 grade

NOORDKUS KUIER FIASKO

 

Die hele Noordkus, behalwe vir Richardsbaai en ander dele waar industriële ontwikkeling die natuur verwoes het, is gelukkig nog pragtig en op sekere plekke in ’n mate ongerep… binneland sowel as langs die kus. Ek kan nie help om weer die Umfolozi Wildtuin te noem nie. Die wildtuin is baie klein en grens aan die Hluhluwe Wildtuin. Dit lê na aan die hoofpad tussen Pongola en Richardsbaai/Empangeni. Van Johannesburg af is dit sowat vyfhonderd kilometer. Die Wildtuin het pragtige verblyf geriewe maar jy kan maklik in St. Lucia, wat net sowat ses en dertig kilometer van die wildtuin af is, verblyf kry. Daar is selfsorg eenhede, gastehuise, hotel en ‘n pragtige karavaanpark.

Ons het, terwyl ons in Empangeni gebly het, menige Sondag na kerk deurgery wildtuin toe. Hoewel die hekke sesuur in die oggende oopmaak, het ons gewoonlik eers so teen elfuur daar aangekom, die hele wildtuin deur gery en teen ses uur die aand was ons weer by die hek om uit te gaan. In daardie paar uur het ons gewoonlik meer diere gesien as wat ons in ‘n heel week in die Kruger Wildtuin gesien het.

Met verblyf in St. Lucia is daar ook, behalwe om wildtuin toe te gaan, van die strand of boot af hengel in die meer, of selfs diepsee hengel, die geleentheid gebruik om Mission Rock te besoek – soos ek vroeër genoem het, een van ons gunsteling piekniek plekkies.

Hier is ’n resep van een van die potjies wat ek al op Mission Rock gemaak het.

Mission Rock Hoender

1 hoender in stukke gesny

Olie en botter/margarine

2 groot aartappels in kwarte gesny

2 handevol gemengde groente

1 middelmatige ui (fyngekap)

1 knoffelhuisie gekneus

1 t. tamatie pasta

Hoender speserye

Sout en varsgemaalde swart peper

1 lt. Gemmer limonade (Ginger Ale)

Maak die olie en margarine in die potjie baie warm. Braai nou die uie en knoffel daarin tot goudbruin en hou eenkant. Bestrooi die hoender met die hoenderspeserye en braai tot bruin. Gooi die uie en knoffel terug by die hoender. Voeg nou die gemengde groente by met die aartappels bo-op. Nou kom die sout en peper. Wees maar versigtig met die sout want die hoenderspeserye het ‘n bietjie sout in. Gooi die tamatie paste bo op en spoel die ondertoe met genoeg van die gemmer limonade by om die groente te bedek. Kook oor lae hitte vir sowat ‘n uur.

Nog ‘n plek wat die moeite werd in om te besoek en maklik ‘n dag se kuier van St. Lucia af is, is Cape Vidal. Dit is veral ‘n plesier om daarheen te haan noudat die pad geteer is. Die strand is pragtig en die hengel baie goed.

Ons eie ondervinding van Cape Vidal is egter nie so goed nie. Dit het niks met die plek te doen nie, maar eerder met die omstandighede van die besoek.

Dit het begin toe ‘n vriend wat my ‘n guns geskuld het, my een Maandag oggend gevra het wat doen ons die volgende naweek. Ek het geantwoord dat ons niks beplan nie en hy sê toe ons gesin moet sorg dat ons Vrydag middag, met klere en swemklere vir uitkamp, by sy huis is. Ons was baie opgewonde en het aangeneem hy gaan ons vir die naweek iewers heen neem.

By sy huis aangekom was sy bakkie, ‘n splinternuwe Ford 4 X 4, gepak met al die nodige kampeer toerusting waaraan ‘n mens kon dink. Hy het die sleutel en aanwysings na ‘n kampeerplek wat hy vir ons op Cape Vidal bespreek het in die hand gestop en ons ‘n goeie naweek toegewens.

Behalwe dat ons nie kampeer mense is nie, was die idee om met ‘n ander man se splinternuwe 4 X 4, op ‘n pad wat in daardie jare nog nie geteer was nie, te ry, ‘n senutergende situasie, Om die kroon te span was dit baie laat toe ons op Cape Vidal aankom en dit het katte en honde gereën. Om dit erger te maak het ‘n paar manne wat so skuins oorkant ons gekamp het, lekker partytjie gehou. Terwyl ons gesukkel het om die tent, wat ons daardie aand vir die eerste keer in ons lewe gesien het, op te slaan, het die manne ons goed op ons tone gehou met hulle aanmerkings. Boonop moes ons daarna nog in die reën met nat hout ’n vuur aan die gang probeer kry want die kinders het toe nog niks geëet nie.

Die volgende oggend is ons vroeg op vir ons eerste strand rit, as gesin, met ‘n 4 X 4. Eers suid en toe weer noord. Na elke paar kilometer het ek gestop vir vroutjie-doutjie en die kinders om in die vlak water te speel terwyl ek ‘n rots uitgesoek het en rustig oor die see uitgestaar het. Net in een stadium, toe ons sowat tien kilometer noord van Cape Vidal was, het die gevoel of die bakkie se onderstel so bietjie wil gaan lê. Ek het die stuurwiel bietjie heen en weer geswaai. Dit was raad wat ek eendag terloops gehoor het toe iemand vertel het dat sy bakkie op die strand vasgesit het… dit het gewerk.

So op die terug tog Cape Vidal toe het ek nog so een of twee maal gestop met die laaste stop op Cape Vidal. Dit is toe ook net hier waar ek die skok van my lewe kry! Toe ek so in die bakkie wou klim om weer terug te ry na ons kampplek toe, sien ek, op die lig beige bekleedsel aan die bestuurder kant, van hierdie die splinternuwe bakkie, die verskriklikste pikswart olie kolle! Ek was vir ‘n oomblik stom geslaan! Ek moes spierwit bleek gewees het want vroutjie-doutjie het bekommerd gevra wat aangaan? Ek kon nie ‘n woord uitkry nie en net na die sitplek beduie, Vroutjie-doutjie het ewe bleek geword. Ek het omgedraai en sy het die swart agter om my broek gesien.

Ons het oombliklik besef dit is een of ander olie tipe stof wat van die rotse waarop ek gesit het, afkom.

Ek het my sakdoek gevat en naarstiglik aan die sitplek begin vryf. Die kolle het bly sit en die was asof die gevryf die net erger maak. Ek het die sakdoek met seewater natgemaak en weer gevryf. Die kolle het nog erger geword!

Ons het in die bakkie gespring om by ons kampplek uit te kom en daar weer te probeer skoon maak. Hierdie keer het ek darem ‘n handdoek op die sitplek gehad. Soos die noodlot dit wou hê het die bakkie met die wegtrek poging gebrul en ek het gevoel hoe sak die agterkant. Ek het die koppelaar weer gelos en die pedaal effens dieper ingetrap en weer die ‘stuurwiel rondswaai’ metode probeer …die bakkie het net harder gekreun en dit het gevoel asof die onderkant net verder sak. My hart was in my keel en ek het bekommerd na vroutjie-doutjie gekyk toe ons een van die baaiers op die strand iets hoor skree. Ek het die venster afgedraai om beter te hoor. Hy het weer geskree “MAAK DIE HANDREM LOS!”

Ek het dit gedoen en die bakkie het weggetrek.

By die kamp gekom het ons eers die skottelgoed skoonmaak middel probeer. Dit het nie gehelp nie. Weer het ons in die bakkie gespring en so vinnig as wat die grondpad dit toegelaat het – die pad tussen St. Lucia en Cape Vidal was nog nie geteer nie – St. Lucia toe gejaag en ‘n paar arms vol skoonmaak middels gekoop! Terug by ons kampplek het ons, na ure se skrop en bid die sitplek skoon gekry.

Te geskok om die res van ons naweek te geniet slaan ons toe net daar en dan kamp op en ry terug huis toe. By die huis gekom het ons die sitplek met die beste skoonmaak middel op die mark ’n finale skoonmaak gegee. Ons het die bakkie mooi skoon gewas en gewapen met ‘n bottel van my beste wyn het ek my vriend gaan bedank vir die ‘heerlike naweek’ en die gebruik van sy bakkie. Op pad huis toe het ek vir die soveelste keer gesweer NOOIT WEER NIE!

OESTER EET

As binnelanders het ons mos maar ons gewoontes en smake. Een ding wat ons sukkel om by die kus bewoners en die Japannese aan te leer, is die om rou vis te eet. Ek het later by ‘n Japannese restaurant in Durban dit so in ‘n mate bemeester maar as ek ‘n keuse het sal ek my vis ’goed gaar’ verkies.

Op ‘n keer het Gerry en Estie, vriende wat naby ons gebly het, ons genooi vir ‘n ete. Hoewel die ete in hulle tuin bedien was, was dit baie formeel en daar was nog so twee of drie paartjies genooi.

Dinge het egter vir my sommer met die voorgereg begin skeef loop. Rou oesters was op die spyskaart. Van die wat jy met so ‘n bietjie Tabasco van die skulp af opslurp en dan sommer bietjie seesand tussen jou tande kry van skone varsheid.

Ek het soos die ander gaste, die oestertjie gevat en geslurp. Die oester wou nie af na my maag toe nie! Ek het bietjie gekou en weer gesluk. Die oester het by my keel afgegaan en ek het gevoel hoe gly hy af maag toe. Iewers kry hy toe weer die gedagte dat hy nie daar wil wees nie en draai net daar om en toe ek weer voel toe is oestertjie weer terug in my mond en ek kou toe maar weer so bietjie…en ek sluk weer…en oester draai weer om en kom terug. Dit het nog so twee of drie keer so aangegaan toe besluit ek dat dit nie gaan werk nie. Ek maak toe ek of ek my mond afvee en ek laat die goed gekoude oestertjie in my hand gly. Met die oestertjie in my hand hou ek my oog op Stoffies, die gasheer se hondjie wat heel tyd onder die tafel ronddwaal op soek na stukkies oorskiet. Toe Stoffies so naby my kom laat val ek die oester ongemerk. Stoffies raap dit dadelik op, gee dit ‘n paar kou en spoeg dit net daar by my voet uit.

Ek besluit ek kan die oester nie daar laat lê nie want ‘n mens kan die oester, selfs in die skemer donkerte, spierwit op die groen gras sien lê. Ek maak toe of ek my been krap en ek tel die oester maar weer op.

Op die tafel was gekerfde biltong in asyn wat as versnapering voorgesit was. Ek vat toe doodluiters ‘n stukkie biltong en sonder dat iemand iets opmerk draai ek die oester in die biltong toe. Ek wag weer tot Stoffies by my ‘n draai maak en laat val die biltong gekamoefleerde oester reg voor Stoffies se neus.. In ‘n oogwink raap Stoffies die happie op, gee dit ‘n paar koue en… spoeg die spierwit oester weer by my voete uit!

Dit was die strooi wat die kameel se rug gebreek het. Ek besluit tot hier toe en nie verder nie! Met my hak trap ek die oester vas en met ‘n soet glimlag aan my gasvrou draai ek die oester diep in haar grasperk in en besluit net daar, met of sonder Tabasco, ek is nie ‘n rou oester eter nie!