TERUG IN ERMELO

 

Dit was toe ons terug getrek het Ermelo toe dat ons vir Francois en Amelia ontmoet. Dit is besonderse mense, albei was op hulle manier baie uniek, eksentriek en baie, baie lief vir mekaar en vir hulle twee kinders.

Hulle was ook baie lief vir kuier en onthaal.

Francois en Amelia se gunsteling was ‘n roerbraai. Hulle het dood eenvoudig hope vars groente in repies gesny. In hul skottelskaar, waarin hy bietjie olie goed warm laat word het, het hulle repies steak of repies hoender borsies gebraai. As die vleis so naby gaar was het hulle die groente bygegooi en na so rukkie se braai is die geurmiddels en sout bygegooi. Francois se geurmiddels het sonder uitsondering Tabasco ingesluit. Om die waarheid te sê, ek dink Francois het Tabasco saam met sy graanvlokkies want hy het Tabasco saam met enigiets geëet.

Hierdie kuiertjies saam met Francois en Amelia sal ons altyd bybly oor die komiese insidente wat gereeld plaasgevind het as Francois in die omgewing was. Met een geleentheid het Amelia vir ‘Sois’, soos sy Francois altyd genoem het, mooi gevra om nie te veel Tabasco in die kos te gooi nie. Dit was asof sy ‘n knoppie op Francois se skouer gedruk het om sy lus vir Tabasco te aktiveer. Elke keer as Amelia daardie aand haar rug gedraai het, het Francois nog ‘n paar skudde Tabasco bygegooi. Daardie aand het ek aan die kos gepeusel en die vrouens en kinders kon dit glad nie eet nie. Die enigste een wat dood onskuldig weggelê het aan die kos was Francois. Amelia se kenmerkende vermaning van “Ai ‘Sois’ het stil stil verby gegaan.

Op ‘n ander keer het ons die roerbraai by ons huis gehou. Dit het verskriklik gereën en ons moes dit nood gedwonge in die kombuis doen, Met koerant papier op die vloer versprei om te keer dat die vet nie die teëls bemors nie het ons aan die braai gegaan. Francois was baie lus vir kuier en hy wou nie eet toe die kos gaar was nie. “Wie eet nou op ’n nugter maag?” het hy altyd gevra. Toe hy later besluit hy wil nou eet was, dit wat van die kos oorgebly het na die ander geëet het, steeds in die skaar en yskoud. Francois moes die gas weer aansteek en sy korrel was nie meer wat dit moes wees nie. Toe hy uiteindelik die vuurhoutjie by die gas bring het die gas wat onder die skaar geakkumuleer het ontplof. Francois het vir die volgende paar weke met weggeskroeide wenkbroue geloop.

Amelia het altyd heerlike mayonnaise broodjie saam met ‘n braai gemaak. Ons noem dit Amelia se Cheesas. Dit is maklik om te maak en ons gebruik die resep veral as ons vir gaste ‘n vinnige ontbyt moet maak.

Amelia se Cheesas (per persoon)

1 sny brood gesmeer

100 g kaas

Kwart ui (baie fyn gesnipper)

50 ml mayonnaise

Meng die kaas, mayonnaise en ui

Skep dit in die middel van die brood en druk dit effens plat met die lepel (dit sprei uit as die kaas smelt)

Plaas dit op ’n oond rakkie en bak dit in die oond tot die kaas eweredig gesmelt het.

Saam met die mayonnaise mengsel kan jy jou verbeelding gebruik. Vroutjie-doutjie en ek het al die volgende bygevoeg:

Gebraaide sampioene, gebraaide spek (bacon), tuna, gesnyde ham, groen rissie, gaar gesnipperde hoender en gesnipperde pepper dews.

Daar is nog een episode saam met Francois wat ek nie mag uitlaat nie. Dit is die dag met Hannes se Potjie kos ete.

Hannes was die kantoor bestuurder van een van ‘n bekende versekering maatskappye se takke in Ermelo. Toevallig dieselfde kantoor waar Francois gewerk het. Een jaareinde besluit Hannes om al die personeel uit te nooi na ‘n potjie kos-ete by sy huis.

Maar laat my toe om eers die een en ander oor Hannes sê. Hannes was ‘n deeglike man. Sy kar, huis en tuin kon jy altyd deur ‘n ring trek. Veral sy tuin. Op ‘n Saterdag oggend het Hannes nie gaste ontvang nie. Hy het ook nie gehuiwer om dit te sê nie, want Hannes het van vroeg Saterdag oggend af sy kar gewas en in sy tuin gewerk. Hy het geen hulp in die tuin gehad nie en dit was een van die beste tuine in Ermelo.

Nou terug na die jaareinde funksie: Omdat Hannes so deeglik was, het hy al weke voor die tyd beplan aan die Potjie Ete. Hy vou byvoorbeeld twee vleis geregte voorsit, een hoender en een skaap. Dan wou hy ook ‘n nagereg voorsit wat in ’n potjie voorberei is.

Omdat hy besef het hy sal die al die potjies kon hanteer en ook die gaste onthaal nie, het hy my gevra om die hoenderpotjie vir hom te voor te berei.

Ons het so teen tien uur die oggend begin en saam met die eerste rooi word van die kole het die eerste bottel wyn en biere sommer ook oopgegaan. Net so om te seker te maak dat die gehalte reg is.

’n Hoender potjie, waarvan ek die resep later sal gee, was maklik om te maak en ek het dus nie gesukkel nie. Met Hannes se skaap het dit egter nie die heeltyd soos beplan verloop nie. Die vleis was te veel vir die potjie en teen die tyd dat die laaste groente moes by kom kon die deksel nie meer op nie en moes die deksel op geforseer word. Die pot het naar gelyk met die sous wat oor die kante van die pot geloop het elke keer wanneer die deksel op geforseer was. Die heel laaste bykomstigheid was gehalveerde lemoen pampoentjies. Net die helfte van die lemoen pampoentjies kon in die pot pas en Hannes het dit wat oor was in ’n bord langs die vuurmaakplek gelos.

Met Hannes se poeding het dit vir veel beter gegaan nie. Hy het ‘n gekookte poeding beplan. Die tipe poeding het my ma ook so nou en dan gemaak… met meer sukses moet ek noem. In die tipe poeding gooi jy jou aangemaakte deeg in die kokende suikerwater. Die deeg kook dan gaar en die suiker water word ’n heerlike bruin sous vir die poeding.

Alles was reg beplan maar toe Hannes die deeg in die water gooi, maak hy die fout om dit te roer. Die poeding verander toe in ‘n bruin soet sous.

Op die ou einde, was die potjies, behalwe die poeding wat ons nie kon eet nie, nie te sleg nie. Van die poeding wat nie gewerk het nie, het niemand geëet nie en dit het langs die vuur bly staan.

Francois egter, wou weer eens nie op ‘n nugter maag eet nie en terwyl die ander gaste geëet het, het hy homself rustig met ‘n drankie besig gehou. Na vele vermaninge van Amelia, en nadat al die gaste klaar geëet het, het hy vir homself begin kos inskep. Eers rys… toe van Hannes se skaap – die hoender was teen daardie tyd al op geëet – vir groente sien hy die rou lemoen pampoentjies daar staan en… hy het seker gedink dit is gaar pampoentjies wat uit die pot geskep is… hy skep toe maar vir homself daarvan in. Omdat die vleis droog was en daar nie sous vir die rys was nie, skep hy… tot al die gaste se verbasing… vir hom van die bruin sous wat uit vir poeding potjie kom op sy rys.

Tot almal se verbasing het Francois heerlik aan die bord kos wat hy vir homself ingeskep het, weggelê het. Amelia het egter nie gedink dit was snaaks nie! Sy het opgevlieg, die rou pampoentjie uit haar Sois se bord gegryp en doer in Hannes se mooi tuin gegooi. Daar het vir ’n oomblik ’n doodse stilte neergedaal tot breek Francois die ys met ’n “Ag nee man! Hoekom gooi jy my kos weg?”

Advertisements

2 thoughts on “TERUG IN ERMELO

  1. Kyk nou net ‘n bietjie kleur maak al klaar ‘n verskil. Ek leer ook maar nog en as ek nie weet hoe nie dan vra ek maar my mede bloggers. So met tyd wil ek nog my blog lekker op jazz. Bonties hoe lyk dit met ‘n paar foto’s van jou lekker geregte! Groete

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s