TOTSIENS BUKS

Ek was so 12/13 en jy so 10/11.

 

Ek en jy en die hond het na die grensdraad, wat die myngrond van die boer se plaas langsaan geskei het, gestap. 

 

Jy wou op die perd, wat altyd langs die grensdraad gewei het, gaan ry.

 

Ek het heelpad geprobeer oortuig en onderhadel dat jy die plan moes laat vaar maar jy wou niks weet nie. Die gedagte het my vreesbrvange gemaak want nie een van ons twee het ooit met perde te doen gehad wat staan nog gery nie! Ek wou niks met die saak te doen gehad het nie maar wou jou ook nie alleen laat begaan nie!

 

By die grensdraad het jy die hond in my arms gedruk en met die woorde “Hou die hond vas ek is bang hy maak die perd skrik” het jy deur die draad geklim en met die tou wat jy saam gedra het, het jy die perd versigtig benader. 

 

By die perd het jy die tou in sy bek gedruk… opgespring… en… gery!

 

Toe jy die tweede keer verby my trippel het jy geskreeu “Hou die hond styf vas ek gaan jaag!”… en toe jaag jy! om en om en om!

 

Ek het klouend aan die hond vermaninge geskree en gesmeek maar jy het gejaag!

 

… tot die perd doodmoeg en stokflou gaan staan het en geweier het om een tree verder te gee.

 

Dit was soos jou lewe was… jy het gejaag van een uitdaging na die ander en een ondervinding na die ander… in jou jaagtog was nie een mens te goed of te sleg nie… niemand te ryk of te arm nie… niemand te slim of te dom nie.

 

Jou kinders was jou trots en jou liefde vir diere onvoorwaardelik.

 

‘n Besluit waaaroor ek vir weke sou top sou jy in sekondes neem.

 

Jy het my male sonder tal laat skater… en my soms so kwaad gemaak dat ek kon ontplof… en dan sou jy altyd wonder hoekom ek dan nou so kwaad word?

 

Ek het baie gewens ek was bietjie soos jy… en soms gewens jy was bietjie soos ek…

maar ek het nooit gewens ek het ‘n ander broer nie!

 

Here, dankie dat U Buks vir my geleen het…

en Here, pasop, hy gaan die perde in die Hemel moeg ry!

WEDER BEGIN

Lanklaas geblog…. begin Vannand weer oor die Vark Ribbetjie van vanmiddag!

Jare gelede was ‘n gerookte vark ribbetjie vir ‘n dorpsmens ‘n besonderse ervaring. Dit is net by spesiale geleentheid, wanneer daar uitsoek gaste was, voorgesit. Dan ook net in klein porsies opgedis, as voorgereg.

 

Vandag is ribbetjie alledaags vollop en glad nie meer so gewild nie. Tog trek vrouthiedouwtjie en ek gereëld ‘n gerookte ribbetjie nader vir afwisseling… soos nou weer… en helaas… tot ons bittere spyt! Die ribbetjie is so sout dat jy hom nie kan eet nie! Ja Ja ek weet Willem en Wim gaan nou weer sê ‘n gerookte ribbetjie is sout want hy word gepekel! Maar dit hoef wragtie nie SO ERG te wees dat mens dit nie kan eet nie!

 

Sê ek toe vir vroutjiedoutjie… ‘n gerookte vark ribbetjie het sy geheime. Nie oor hoe jy hom maak of gaarmaak nie… maar hoe jy hom verkry!

 

Jy moet versigtig wees oor waar jy koop en as jy die regte plek kry waar hy lekker smaak, hou aan daar koop.

 

Ek hoor ook dat die nuutste is (of dalk nie so nuut nie net dat ek so uit sirkulasie is) dat die ribbetjie nie meer gerook word nie maar ingespuit word dat hy na gerook proe! Nou kyk, dit sit my sommer heeltemal af, al weet ek nie eers veel van die inspuitery nie!

 

Is daar ‘n manier om die ribbetjie bietjie op te dol en terwelfdertyd die sout the verdwerg? Ek het gewonder oor bietjie heuning en mostert?