ONS GAAN OORSEE – SA tot Hamburg

Die volgende paar blogs is ʼn relaas van ons oorsee kuier. Ons het dit geskryf as tipe van dagboek en om te help met ʼn scrapbook wat ons wil maak. Die toer begin op 13 September 2017 met ons vertrek vanaf Stilbaai en eindig op 3 Oktober met ons aankoms op Stilbaai. Dit strek deur OR Tambo en Dubai lughawens na Hamburg (Duitsland). Van daar per skip na Le Havre en Parys (Frankryk), Southampton en London (Brittanje), Zeebrugge (België), Amsterdam (Nederland) en weer terug Hamburg toe. Vanaf Hamburg het ons Dublin (Ierland) toe gevlieg en is per trein Dundalk toe. Van Dundalk af weer terug Dublin toe met die trein en weer gevlieg via Dubai terug OR Tambo en uiteindelik via George toe en toe terug Stilbaai toe,
Bitha het die basiese skryfwerk gedoen. Ek het byvoegings gedoen en so bietjie ge-edit.

ONS REIS

Jan beplan ʼn jaar lank aan die reis. Hy wou eintlik al verlede jaar gegaan het, maar ons het te min tyd gehad vir alles.

Die beplanning het byvoorbeeld ingesluit:

  • Waarheen ons sou gaan: Ons het eers gedink om net die Republiek van Ierland te besoek en ʼn trein toer deur Ierland met Irish Rail te doen en dan terselfdertyd vir Benitha te gaan kuier. Gerhard en Rina en ook Willie en Fienie het ons egter so geïnspireer met hulle stories oor die skip cruises waarop hulle al was, dat ons dit ernstig oorweeg het en toe daarop besluit het. Wie wil in elk geval sy lewe afsluit sonder om die belangrike romantiese stede van Noord Europa te sien?

Toer Iternary

  • Die tyd: Ons moes die tyd haarfyn beplan. Tydens die Europese winter is dit te koud en dit sneeu en tydens die Europese somer is dit te duur. Ons vorige besoek aan Ierland was in Oktober en die weer was baie goed. Ons moes ook Kayla se verjaarsdag, wat 1 Oktober is, in ag neem. Ouma en Oupa mag nie haar tiende verjaarsdag misloop nie. Wat ons ook al doen, op 1 Oktober moet ons terug in Suid Afrika wees.
  • Visas: Omdat ons toer waarop ons besluit het Engeland ingesluit het moes ons behalwe vir die Schengen ook ʼn UK visa kry. Die proses om ʼn visa te kry bestaan uit ʼn aanlyn aansoek en afspraak en dan, wanneer die afspraak toegestaan word ʼn besoek aan die visa onderhoudkantoor, wat in ons geval, in Kaapstad is. Dit het beteken ons moes die ongeveer vierhonderd kilometer aflê vir die dertig minute onderhoud vir die UK visa. Ons paspoorte, wat per koerier terug gestuur is, ontvang en weer die tog Kaapstad toe aandurf vir die Schengen visa wat ons sowat twee weke later plaasgevind het. Elke keer na ons besoek aan ʼn visa kantoor het ons in spanning sit en wag dat die paspoorte deur die koerier afgelewer moes word.
  • Selfone – Die selfone moet oopgemaak word vir “international roaming” Omdat selfone so goed bruikbaar is as kamera, het ons gedink dit is onnodig om ʼn kamera saam te neem en te sukkel om dit rond te dra. Ons het spesiaal vir my ʼn nuwe selfoon, met ʼn goeie kamera fasiliteit, gekry. Om seker te maak jy het genoeg spasie op die foon vir fotos het Jan vir elke selfoon ʼn addisionele SD kaart beplan. Die selfoon dien sommer ook as rekenaar so as jy nie regtig nodig het om op die rekenaar of tablet te werk nie, kan jy net jou selfoon saamvat, Alle noodsaaklikhede kan jy sommer op hom doen.
  • Bankkaarte: Die bankkaarte moes opgestel word vir internasionale gebruik.
  •  Kennel vir Milly: Ons het oorweeg om Milly in George na die kennel toe te vat maar die sou, vir drie weke, te duur wees. Uiteindelik het ons maar op die goedkoper Stilbaai kennel besluit. Op die ou het dit darem nie met haar te sleg gegaan nie. Sy was in ʼn baie goeie toestand toe ons haar gaan haal het.

13 September

Manfred-hulle het ons die oggend negeuur, kom oplaai. By die lughawe afgelaai, gehelp met die tasse en vir Jan rubbers vir sy kruke gaan koop. Ek en Jan het koffie gedrink by die lughawe se Lilly Coffeeshop, want ons was te vroeg en die toonbanke het nog nie oopgemaak nie. Ons wou nie op die plek vir gestremde passasiers sit nie en was later baie spyt want toe moet Jan vliegtuig toe loop. Hulle het hom darem met die mobiele-hyser opgelig om in die vliegtuig te kom. Ek moes maar met die trappe op klim.

Ons op George Lughawe – Gereed vir ons trip:

20170914-1
Gelukkig het ons vooraf besluit dat klein hindernisse ons nie tydens hierdie vakansie gaan onderkry nie maar na die “assistance probleempie op George Lughawe tref die volgende een ons toe ons op OR Tambo aankom. Jan bel vir Hein om te sê ons het geland en hy kan ons maar kom haal. Hein sê toe hy kan ons nie kom haal nie want hy moet vir Kayla wiskunde klas toe vat. Toe bel Jan Uber om ons by “departures” te kry. (“Arrivals” by OR Tambo is te gevaarlik om uit te gaan.)

Terwyl die ou van Uber ons bagasie in sy kattebak laai kom daar ʼn ander vrou en vra of hy vir haar ook vervoer kan reël. Die Uber-bestuurder vra toe of ons sal omgee as hy haar saam met ons kan oplaai. Die gevolg is dat ons saam met ʼn vriendelike vreemde vrou deur Uber vervoer word.
Hein het die huis kom oopsluit. Ouma Jackie wou nie hê ek moet iets doen nie. Sy sê sy het alles onder beheer. Vir aandete kry ons hoender en aartappel.
14 September
Die volgende oggend gaan ons finale inkopies doen. Dischem (waar ek ʼn lys maak van die pryse van verskillende soorte parfuum wat ek moontlik oorsee goedkoper kan kry.), Westpack (waar ons vir ons klein plastiek waterbottels gekry het. Ons het dit later baie goed gebruik), Matrix (waar ons SD kaarte vir ons selfone gekry het vir ingeval ons nie genoeg spasie vir al die fotos wat ons beplan om te neem, het nie) en Mtn (om te verseker my foon se roaming op gestel. Die ou in George kon dit nie doen nie.). Ons gaan drink koffie by ʼn koffiewinkel en gaan haal kinders by skool.
15 September
Die Dag bestaan uit finale voorbereiding soos die laaste wasgoed gou was, kinders, skool gaan haal en die tasse se inhoud organiseer sodat ons nie vir die een nag wat ons beplan om in Hamburg oor te bly, alles hoef oop te maak en uit te pak nie.
Hein laai ons die net na vier uur by OR Tambo af.

Met die instap by die internasionale vertreksaal by die lughawe gryp ʼn oorgretige portier ons tasse en daar gaan hy en ek moet hardloop om by te bly met Jan agterna want, volgens hom, weet hy van ʼn plek waar die tasse vinniger toegedraai gaan word (die “South African luggage wrapping or else we dig in your stuff”). Ons het nie genoeg kontant vir die tasse en ʼn fooitjie vir die oorgretige portier nie en, terwyl Jan by die tas-toe-draaier staan gaan soek ek ‘n ATM om geld te trek. Ek trek geld en koop by Sweetas for Heaven ʼn pakkie chips om kleingeld te kry. Die portier, wat Jan net daar by die tasse gelos het, kry my by die Sweets for Heaven en ek gee vir hom R20. Intussen bel Jan my ses keer want hy het kleingeld oorgehou van die tas toedraaiery en dit reeds as fooitjie vir die portier gegee. Hy is toe bang die portier soek ʼn fortuin. Ek hoor nie die telefoon nie en Jan is vies omdat ek nie antwoord nie.
Dit is baie besig op die lughawe en ons wag lank vir die assistance maar dit gaan beter as die assistance wat ons in George gekry het.
Ons besluit om nie voor die vlug by die Slow Lounge te gaan sit nie. Ons is bang die assistance assistent kom haal ons nie in die Slow Lounge nie en ons is dan laat om saam met die assitance passasiers aan boord te gaan. Ons gaan sit dus by ons hek en terwyl Jan by die hek wag gaan koop ek vir ons ʼn wegneem broodjie en koffie.
Die vliegtuig styg tien oor sewe op. Ons besef die sal nie help om ʼn slaap posisie in te neem nie want, uit vorige ondervinding weet ons dat ons net aan die slaap gaan wees dan bring hulle aandete. Nie dat een van ons ʼn vliegtuig-slaper is nie. Dit is toe ook so: teen omtrent tienuur bring hulle aandete. Ons eet nie eintlik nie want ons is nie gewoord om so laat te eet nie.
Die res van die vlug probeer ons slaap maar dit gebeur nie eintlik nie. Ek luister musiek en Jan lees al wat op die sitplek-skermpie te lees is.
Twee uur die oggend kry ons weer ʼn broodjie en ʼn brownie vir ontbyt en later die koffie. Ons slaap nie verder nie.
Op Dubai lughawe aangekom, half ses die oggend, is die assistance, soos gewoonlik baie goed. Hy weet presies waar ons moet heen en ons ry, soos met ons vorige besoek, weer trein van die aankoms hek tot by die vertrek hek. By die assistance wag area ontmoet ons ʼn vrou van Somerset-Wes wat op pad Australië toe is en gesels lekker maar die gesels droog later ook op.
Die wagtyd is net drie en ʼn half uur. Te kort om duty free te doen inkopies maar tog net te lank om niks te doen nie. Ons het wel koffie gekoop… teen R150 vir twee koppies.
Ek (met my gebreekte vinger) is verveeld en moeg gesit en wag:20170916_1Dubai

Op Hamburg lughawe moet een man 4 assistances passasiers hanteer. Ek is baie ontsteld dat ons nie ons eie helper het nie. Die man hanteer al vier assistance passasiers briljant. Hy help ons deur die Doane, na die bagasie- ontvangsaal en uit die lughawe waar hy selfs vir ons ʼn taxi reël. Intussen baklei hy sommer met ʼn man wat arrogant verby die assitance passasiers storm en Jan amper van die rolstoel afstamp.
Die taxibestuurder, van die lughawe af hotel toe, kan nie ʼn woord Engels praat nie en hy is verskriklik suur. Ons is nie gewoond aan voertuie wat aan die regterkant van die pad ry nie en toe hy regsom om ʼn sirkel gaan koes ons vervaard.

Advertisements