MYNMANNE

 

‘Myners’ Dis wat alle mense wat op ‘n myn werk deur die man op straat genoem word….en dit maak nie saak watse werk jy op ‘n myn doen nie, vir hulle is die persoon wat op ‘n myn werk ’n myner, iemand wat elke dag ondergrond gaan en sy lewens brood verdien deur steenkool of goud, of watter mineraal ook al onder uit die maag van die aarde haal. Amper soos ‘n rower beroof jy moeder aarde van haar skatte om die stadsmens in die winter lekker warm te laat kry en help om ‘n warm bord kos in hul mae te kry. Dit is ook nie net vir die mense hier in die liewe Suiderland vir wie die myners sorg nie, nee dit is oor die hele wêreld. Die Suid Afrikaanse somer is ‘n goeie seisoen vir die antrasiet myne want dan soek die Europese huisvrouens antrasiet vir hulle stofies om hulle koue Europese huise warm te hou. Die steenkool word in kragstasies, staal fabrieke en hospitale gebruik…oral sien of voel ‘n mens die hand van ‘n ‘myner’.

“Myner” is die versamel naam van die myner, die ambagsman, die operateur en die administrateur… elkeen in die ketting van mynbou produksie.

Annet, Vroutjie-doutjie se beste vriendin uit haar skooldae, het jare terug, een maal in ’n brief gevra “…en hoe gaan die met jou man? Hy is seker teen die tyd ‘n mynkaptein?” Dit vra sy terwyl ek in my hele lewe seker nog net twee maal ondergrond was en dit om net te sien hoe dit daar lyk.

Maar nie te min, ons is almal trots daarop om “Myners” genoem te word.

Ek wil graag vir julle vertel van ’n hengel kompetisie wat jaarliks, spesiaal vir manne wat op myne werk gereël word. Die kompetisie word die “MYNMANNE” Hengel Kompetisie genoem. Dit is ’n jaarlikse roof vis hengel kompetisie by Sodwana aan die Natalse Noordkus. Die kompetisie strek oor een week en elke myn stuur ’n span of paar spanne. Om die regverdig te maak sodat almal wat belang stel die geleentheid te gee om te gaan, word die belangstellendes jaar vir jaar op ’n roterende basis toegelaat om te gaan… ek noem dit net vir ingeval daar iemand is wat dink daar gaan nie produksie op die myne wees terwyl die manne visvang nie.

Ek het onlangs verneem dat die kompetisie eenmaal Mosambiek toe verskyf is, dit was glo nie so ’n sukses nie en vind sedertdien weer op Sodwana plaas.

Ek is eenmaal deur ’n paar vriende genooi om saam met hulle die week op Sodwanna mee te maak. Man, ek was opgewonde en senuweeagtig oor die uitnodiging. Vir ’n kantoor-mannetjie soos ek het die “Mynmaane” al te veel na ’n rowwe storie geklink! Stories oor wat gedurende die week van die “Mynmanne” gebeur… sal ek eerder nie hier sal noem nie. Laat ek die nou onomwonde stel – niks van daardie stories is waar nie – ek het die nou self belewe! Ek kan vir elke vroutjie wat moet tuisbly en wonder hoekom word daar nie ‘n ‘Myn Mense’ gehou word, eerder as ‘n “Myn Manne” wat uitsluitlik vir mans is nie, verseker daar niks wat in die eerbare huwelik as taboe beskou gebeur nie.

En kyk dit gaan nie net oor hengel nie, dit gaan oor visvang ook. Kyk, die manne is stout, maar dit is stout in ‘n goeie sin. Aan poets bakkery is daar geen tekort nie. Bo en behalwe dit, vloei die voggies lustig. Die cliché ‘brandewyn het nie brieke nie’ kom tot sy reg by die “Mynmanne”. Die manne hengel hard en hulle kuier hard.

Ek self is nie ‘n hengelaar nie maar het gedurende die week een keer as lid van ‘n boot se bemanning uit gegaan. Ek was ook so gelukkig om ‘n Barrakuda van sowat nege kilogram te vang. Dit is nou nie groot in ’n hengelaar taal nie maar vir my was dit ‘n reuse prestasie.

Die kompetisie vind baie georganiseerd plaas… daar is baie manne en die verg baie organiesasie. Daar is ’n komitee wat die kompetisie organieseer en koordineer. Die verg egter ook baie organisasie deur die individuele spanne van die myne af. Daar word voor die tyd by die myn vergaderings deur die verskillende Ski-boot klubs gehou. Op hierdie vergaderinge word daar bepaal wie die verskillende bemanning vir die bote sal wees. Daar word ook ’n paar ekstra manne wat nie noodwendig bemanning gaan wees nie, saamgeneem. Uit hierdie ‘nie bemanning’ word dan die kampkommandant, die sjef en die helpers met hulle onderskeie pligte gekies.

Tydens die kompetisie is die program dan soos volg. Soggens van so ongeveer drie uur word die bemanning deur die Kamp Kommandant wakker gemaak. Die Sjef moet dan ook begin met ontbyt, vir die wat so vroeg wil eet, en daar word padkos gemaak vir die bemanning wat die dag op die bote uitgaan. Die helpers moet met eerste lig help om die bote in die water te kry.

Wanneer die bote eers uit is begin die goeie tye vir die mense wat agter bly. Dit is die tye wat ek verkies want, hoewel ek bevoorreg is om nie seesiek te word nie, is daar nie baie wat my opgewonde maak oor om diepsee hengel nie. Die genot daaraan om ‘n vis te vang word heeltemal oorskadu deur die ongerief van die warm son en die groen gesigte van ‘n ander ouens wat siek word. Dit is ook heeltemal te beknop en daar is geen ablusie geriewe behalwe die mooie see nie.

Ek sal eerder varswater dam of rivier gaan swartbaars of forel hengel, dit is tog opwindend en jy bly die heel tyd besig. Selfs om in ‘n meer soos byvoorbeeld St. Lucia te gaan Knorhaan (Grunter), of iets dergeliks vang is vir my lekkerder as diepsee hengel. Veral as jy langs die kanaal in Richardsbaai ‘Crackers’ gepomp het vir aas om by St Lucia te gebruik. ‘n Cracker is ‘n tipe aas wat amper soos ‘n garnaal lyk. Behalwe dat hy net een groot voeler/knyper het. Jy pomp dit met ‘n silinder tipe apparaat deur die silinder oor die gat wat die Cracker in die nat sand maak te hou en dan met ‘n pomp aksie hom uit die gat te suig. ’n Grunter los nie ’n Cracker uit nie! Grunter is vir my die lekkerste eetvis wat jy van die strand of rotse af kan vang.

Om terug te keer tot die “Mynmanne” en my storie van die helpers wat op die strand agter bly nadat die ski-bote die see in is… dit is nou tyd vir die helpers om te gaan stort, ‘n lekker ontbyt te geniet en dan die res van die oggend na hartelus te ontspan deur rond te loop, fotos te neem of te snorkel.

Om te snorkel by Sodwana is ‘n belewenis. Dit was die eerste keer dat ek gesnorkel het maar volgens kenners is Sodwana van die beste snorkel gebiede, met van die mooiste onderwater natuur in die wêreld. Ek het spesiaal vir hierdie “Mynmanne” ‘n goeie snorkel en duikbril gekoop. Later her kuiermense se stout kind gehuil om met die bril te speel. Omdat ek die goeie gasheer wou wees het ek ingestem en tot my spyt het ek die volgende oggend stukke van my duikbril in die tuin opgetel. Ek het my vriend se seuntjie nooit vergewe nie en as ek hom nou moes sien, hy is seker al die in die twintig, sou ek hom graag ‘n knyp of skop wou gee oor my bril wat hy in die tuin laat lê het.

Die snorkel is veral baie goed by Mabibi. Dit is sowat twintig kilometer noord van Sodwana. In die dae toe vier by vier voertuie nog op die strand toegelaat was, was slegs twintig voertuie per dag toegelaat om strand langs na Mabibi toe te ry. Om een van die twintig voertuie te wees moes ‘n mens vroeg opstaan en by die Parke Raad se kantoor gaan toustaan vir ‘n permit. Die natuurskoon en die wonder van die ondersee tonele by Mabibi maak dit egter die moeite werd om tou te staan vir die permit.

Die helpers kon net tot twaalfuur in die middag ontspan. Teen twaalfuur moes almal wat nie op die bote uit was nie weer op die strand wees om die inkomende bote te help. Daar moet reggestaan word met koue bier en koeldrank vir die bemanning en die bote moet gewas word en die vis wat gevang is moet skoongemaak word. Dit is ongelooflik maar die bemanning, selfs na ‘n harde dag op see, help net so hard as die helpers aan die boot en vis skoonmaak.

So teen vieruur is almal gestort en rustig om die kampvuur. Dan is daar klaar gewerk en dan begin die kuier. Ek onthou van die een ou wat ‘n tuna gevang het en so gekuier het dat hy vergeet het om die vis skoon te maak en dit net daar langs die kamp laat lê het. ‘n Ander ou het later met sy 4 X 4 daar aangekom en per ongeluk oor die man se tuna gery. Die volgende oggend het die man onthou van sy tuna en daarna gaan soek. Hy het geskok met die plat tuna by die kamp ingekom en gevra “Wie het van my Tuna ’n sole (tongvis) gemaak?” .

Die sjef wat ons kamp gehad het was ook die sjef van ons spyseniers by die myn. Hy, ‘n ex-Rhodesier, was baie goed gekwalifiseerd en ‘n absolute kenner op die gebied van voedselvoorbereiding en onthaal. Die ontbyt was elke oggend beter as die in baie hotelle… ’n prestasie as jy in ag neem dat hy dit in ’n veldkombuis moes voorberei. Die aand etes was egter nog beter. Ons is getrakteer op spyskaarte met voorgereg, hoofgereg en nagereg vir ‘n fynproewer.

Dit is met een so ‘n aandete dat daar vir ons Mosselssop voorgesit is wat die beste is wat ek nog ooit geëet het. Gelukkig was die sjef nie ‘n ou wat sy resepte geheim hou nie en hy het afskrifte van die resep die volgende week aan almal wat gevra het uitgedeel.

Die Mynmanne se Mossel Sop

1 koppie fyn gekapte ui

2 knoffel huisies – fyn gekap

250 g. margarien

1 lt. vars melk

250 ml vars room

2 tl meelblom gemeng met water

Geursel na smaak

1 koppie wit wyn

of

1 dop brandewyn

1 blik mossels (900 g.)

1 tl gekapte pietersielie vir garnering

Smelt die margarien in ’n pot

Voeg die uie en knoffel by en braai tot deurskynend

Voeg die melk by en bring tot by kookpunt

Skei die mossels van die vloeistof in die blik en voeg die vloeistof by die melk mengsel in die pot

Voeg die meelblom by om die mengsel te verdik

Voeg die wyn of brandewyn en die room by

Roer die mossels (met die skulpe en al) liggies by die mengsel

Voeg die geursel by.

Garneer met gekapte pietersielie

Advertisements

3 thoughts on “MYNMANNE

  1. Hi daar! Ja ons bly in een van die mooiste plekke maar het nog nooit so koud gekry in die 12 jaar wat ons nou al hier is soos vanjaar nie. Maar ek sal nooit-ooit hier weggaan nie! Dankie vir die oulike resep!

    Like

  2. Jy deel sulke lekker resepte met ons. Wil jy nie die resep van jou en Annet se huwelik ook deel nie? Dit klink of julle gemaak is vir mekaar.My man was ook n “mynman” Hy was n “mainman” tussen die ‘mynmanne’, toevallig daar in Witbank jare terug. Ek stuur my email as julle dalk meer van my lewe wil hoor. Ek is nie n skrywer nie en het nie n BLOG nie ( en geniet dit net om the skryf) maar sal regtig graag meer van julle as n gesin wil weet. Sulke interesante mense MOET nog baie ding kan vertel……Alta Joubert…erfgoed@mweb.co.ca

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s