SKAAPBLAD OP DIE SPIT SAAM MET PAMPOEN EN PATATS

Broer kom kuier. Eintlik kom gee hy raad met die bouery maar ons is

dankbaar hy kom kuier… meer vir hom as vir ons. Hy is nou deur (of in die

middel) van ’n baie moeilike tyd in sy lewe. Hy het onlangs in sy eie

meenthuis ingetrek en dit klink bitter alleen… gelukkig het hy vir sus wat ook

maar alleen is en dit klink of die twee maar op mekaar steun… en dankbaar

laat ek my kop sak en dank God vir vroutjie-doutjie en die genade dat ons

saam is.

 

Ewenwel, ons gaan vir broer ons gunsteling Skaapblad op die spit maak. Saam met die gaan ons die Pampoen en Patats met heuning en mosterd bedien en ‘n lekker slaaitjie.

 

 

SKAAPBLAD OP DIE SPIT

 

Die skaapblad moet maar so bietjie vet hê! Op die spit (ek gebruik die Webber Rotisserie), gee die vetjies die vuur ’n bietjie woema en dit gee die vleis ’n baie lekker braai geur. Die gesondheid puriste kan gerus wees. Die blad bly vir ongeveer drie uur op die vuur… so ek is seker al die gevaarlike vette braai uit ;-).

 

1 Skaapblad

Marinade:

250 ml vars lemoensap

250 ml semi-soet wyn

125 ml olyf olie

Baie vars gemaalde swart peper

1 of 2 huisies knoffel – gekneus en gekap

1 ui in skywe gesny

1 takkie roosmaryn of 5 ml droog

1 takkie marjolein of 5 ml droog

 

Meng alles vir die marinade saam en gooi dit oor die vleis in ’n bak. Hou dit in die yskas vir minstens een dag – draai dit so elke agt ure om.

 

Braai op die rotisserie vir sowat drie ure of na smaak.

 

Bedien dit saam met ’n mengel slaaitjie en hierdie Pampoen en Patat resep.

 

 

PAMPOEN EN PATATS

(maak dit in verhouding meer vir meer mense – onthou ons gaan net drie wees)

 

 

1 groot koppie (sommer ’n beker) botterskorsie in 1.5 cm blokkies gesny.

1 groot koppie patats, ook in dieselfde grote blokkies gesny

1 ui gehalveer

2 eetlepels aangemaakte mosterd

2 eetlepels heuning (ons hou van Wollies se heuning, dit is net asof die beter smaak as die ander)

Twee Jalepino rissies gekap (een of niks as jy sensitief is)

½ teelepel komyn

½ teelepel koljander

Sout en swart peper na smaak.

 

Meng alles saam

Skep dit in ’n oondbak

Bak in ’n oond wat vooraf verhit is teen sowat 220° vir ’n uur of tot alles mooi bruin en sag is.

 

 

Geniet die kuier.