Die Volmaakte Ciabata

Ek sien nou die aand op TV ‘n plek in die Kaap, Eureka Meulens waar suiwer meel bemark word. Dit is nou meel sonder enige preserveer middels, kleursel of ander fieterjasies. Behalwe dat dit my toe laat dink aan vriend Wim wat altyd oppad Groot Marico toe by ‘n meule sulke suiwer growwe mieliemeel koop, herinner dit my toe ook daaraan dat my Ciabata nog nooit regtig volmaak uitgekom het nie. Iewers by ‘n skou, ek dink dit was die Art & Hobby skou by Emperors, het ‘n Italianer my gesê ‘n mens moet vir goeie brood, goeie suiwer meel gebruik. Dit is toe wat my laat besluit om uit te vind waar die meel in my omgewing beskikbaar is.

 

Op Eureka se webwerf kry ek toe ‘n kontak nommer in Littleton, Pretoria van die verspreider van die meel in die Gauteng. Vêrder is daar ook ‘n verwysing na ‘n plek in Knysna, Pain au Levain, waar ‘n mens suurdeeg kultuur kan koop. Suurdeeg “sourdough” kultuur!!! Ek dink aan my ure van suurdeeg maak van gesuiwerde water en meel! dit het gewerk maar ek het daardie besonderse smaak in my brood verwag wat ek nie gekry het nie! Die smaak wat ek soek is dit van die brood wat my ma jare terug met aartappel suurdeeg gemaak het. Ek het dit een keer daarna, ‘n paar jaar gelede by ‘n Deli in Johannesburg geproe. 

 

Ek bel Pain au Levain vir die detail. Hulle stuur die suurdeeg kultuur per oornag pos. Ingesluit is die aanwysings en ‘n paar “tips”. Dit kos ‘n wopping… drie honderd rand en vyftig rand posgeld. My avontuur lus om die volmaakte ciabata te bak is so groot dat ek bestel.

 

Woensdag, oppad terug van Witbank af, besluit ek om Pretoria (Littleton) om te ry en van die meel aan te skaf. Die vriendelike vrou wat antwoord, gee vir my die adres en met behulp van die GPS kry ek die plek maklik.

 

Die meel is beskikbaar in 2.5kg en 12 kg en in wit meel, bruinbrood, volgraan en rye. Ek besluit om twee pakke (2.5kg) wit en twee volgraan te koop. 

 

Die mense ‘n baie vriendelik. Familie besigheid. Bibco is die besigheid se naam. Ook van die Kaap af maar nie soos die meel van die Wes Kaap nie. Hulle is van Noord Kaap af. Jan Kempdorp, toevallig die dorpie waar vroutjie-doutjie groot geword het. Die dame was in dieselfde skool as waar vroutjie-doutjie haar lewe lank was en dit klink of vroutjie haar so vaagweg kan onthou. Ek word genooi om deur die bakkery te gaan maar ek is te haastig… maar… bakkery? Wat bak hulle? “Bread in a Box”! Brood (al die geure waarin die meel beskikbaar is). Verpak in pakkies van vier tot ses snye elk en sowat ses pakkies in ‘n box. Gevries! Jy haal een pakkie uit wat jy nodig het, twee minute in die mikrogolf, en daar het jy heerlike brood! Ek vat toe sommer drie brode ook!

 

Nou het ek die suurdeeg kultuur en die meel… hou hierdie spasie dop vir die proses en die resultaat… miskien moet ek wag dat dit bietjie warmer word om die suurdeeg tot reg te laat kom!

Advertisements

Vriend Koos Louw se Paai!

Ek het ‘n resep inskrywing op vriend Koos Louw se facebook blad gekry en kon nie die versoeking weerstaan om toestemming van Koos te vra om dit hier te pos nie!

Ek vind altyd dat kos met ‘n storie agtergrond lekkerder is as kos wat sommer net gemaak word. 

Wat die resep nog interesanter maak is die feit dat dit van die 
eksentrieke Koos af kom. 

Ter agtergrond gee ek ‘n kort opsomming van die karakter…Koos.

  • Vriend
  • Regsman
  • Eggenoot wat baie lief is vir sy vrou Reinette
  • sy honde se geliefde vriend (ek dink heimlik hy hou meer van honde as van mense)
  • Digter
  • chef
  • ens.

Hier is die resep:

Eendag sit ek in die Kaap in ‘n kroeg en kla oor die kwaliteit van pastytjies en vertel dat die beste pie wat ooit geëet het was by ‘n winkeltjie in Waterval Boven (op die grootpad na LM) toe ek nog jong kind was. Hier haak so ‘n groot ou af en se dis sy skoonma se paais gewees. Met ‘n toets hier en daar oortuig hy my en twee weke later bel die ou lady my uit ‘Boven uit met die resep.


Jy kon hoor sy’t nie meer tanne nie, maar dit is nie van pastei eet nie. Ek is so opgewonde dat ek eintlik met my regterhand wat minder bewe die resep afskryf. Ek het dit al dikwels getoets en ook ‘n paar aanpassings gemaak. Dit is baie lekker, maar ek wed deesdae dat my ma se resepte ook nie regtig werk nie. Dit gaan oor die metode waaroor hulle nie eens gedink het nie.


525g meel, 10 (ipv 20) ml bakpoeier, 250g botter (ek doen 100 daarvan Holsum sodat die bottersmaak nie oordonder nie), 1 eier, 250 tot 300ml melk (toets self) en so eetlepel suurlemoensap (my toevoeging). As jy ongesoute botter gebruik, 5ml sout. Haai, ek praat van pie en noem nie eens die vulsel nie!


Sif en meng die droë bestanddele in ‘n mengbak terwyl jy die botter/vet vries. Rasper die botterding in die meel. Sny die botter in die deeg en vryf dit later met jou vingers om groot krummels te maak. Moenie te veel karring nie. Meng die eier in 250ml melk en gooi die suurlemoensap daarby. Gooi die vog by die mengsel en meng vinnig deur totdat die lot aanmekaar klou. As nodig, voeg bietjie melk by.


Die botter sal nog klontjies los, moenie worry nie. Sit bol deeg in yskas. Intussen hoop ek jy het al jou vulsel gemaak. My gunsteling is maalvleis (sonder te veel fieterjasies). Dit moet ook koud wees. Die storie raak nou te lank, ek pos sommer ‘n prentjie.


Ek kon nie die prentjie gepos kry nie maar kyk asb op koos se facebook wall
 http://www.facebook.com/profile.php?id=100000269055989.