“Mayflower – England 1620” – My Projek

Ek plaas hierdie stuk in my blog om te dien as motivering om aan die “Mayflower-projek” te werk en af te handel (nie maklik nie)

Daar was nog altyd by my bewondering vir mense wat ʼn modelskip of –vliegtuig bou. Soveel so dat ek myself nog altyd oortuig het dat ek dit ook nog gaan doen.

Vroeg in 2008 het ek op ʼn stokperdjiewinkel in Boksburg afgekom wat ʼn verskeidenheid model skepe gehad het. Ek het gewik en geweeg, gewonder en geraai. Om dit erger te maak het die verkooppersoon genoem dat dit ʼn stokperdjie is wat jou ʼn paar jaar besig sal hou.

“Nee” het ek geskerm “Ek wil net een bou!”

“Dit is so” het hy geantwoord “Die gemiddelde ou vat sowat drie jaar om een te bo.”

Ek het hom nie eintlik geglo nie en op die Mayflower besluit. Sommer omdat dit vir my ʼn mooi skip was. (Min het ek geweet dat dit ook ʼn fantastiese geskiedenis het.) www.history.com/topics/mayflower

Hoe die finale produk behoort te lyk:

?

Ek het begin bou en iewers opgehou (weet nie regtig waneer nie) In Julie 2010 het ek weer begin… en weer opgehou.

Dit is hoevêr my projek dusvêr is:

?

OK OK OK ek weet die lyk nie of ek veel gedoen het nie maar daar was darem ʼn paar uur se werk ingesit.

Vandag, 31 Oktober van die jaar 2015, begin ek weer! Hou my vordering dop!

Advertisements

Troetel Naampies

Nie dat ek al ooit belas was met ʼn troetel naampie nie (gelukkig is ek ʼn man en nie ʼn aantreklike dame nie). Troetel naampies pla my eerder omdat ek min of geen eerbaarheid daarin bespeur nie.

My pa het my ma “Sweatheart” genoem. My lewe lank het ek nie eenmaal gehoor dat hy haar anders aanspreek nie. Ek kon egter nooit enige toegeneentheid of buitengewone liefdevolheid in die aanspreekvorm herroep nie. Die was eerder soos in ʼn naam, genoem uit gewoonte. Dit het my ook nie gepla nie en dit pla ook nie as ʼn man sy vrou ʼn troetel naampie noem in die normale omgang van die lewe nie. Met of sonder gevoel. Dit dui vir my op die hegtheid van die verhouding.

Wat my wel pla is dat ʼn troetelnaampie soveel keer met duidelike bybedoelings gebruik word. ʼn Agterbakse manier om te flankeer. Wat my dan die vervieste in maak is wanneer die persoon wat aangespreek word nie die bedoeling raaksien nie of so betower is met die onderduimse gewer dat sy nie die bedoeling wil raaksien nie!

ʼn Troetelnaampie deur ʼn man, wat geen direkte verbintenis met ʼn vrou het, of slegs deur familie vriendskap geheg is, het net een doel voor oë – en as jy nie kan aflei wat dit is nie… nou ja!

Dit is amper iets soos ʼn sagmaak proses. ʼn Manier om haar guns te wen. ʼn Onderduimse manier om indirek by haar tuis te bring dat daar ʼn spesiale band tussen hulle is. Terselfdertyd is dit ʼn subtiele manier om haar te laat voel sy is die mindere, die afhanklike, die een wat behoeftig is aan die guns van die “troetel naampie” gewer.

Wat vir my interessant is, is die manier waarop die “troetel naampie” gewer gewoonlik na die ontvanger kyk. Kompleet soos ʼn roofdier na sy prooi kyk. Oë sulke skrefies getrek en ʼn onheilspellende glimlag, of is dit nou “lustige” glimlag.

Die troetel naampie is dan gewoonlik, as jy dit nou krities moet ontleed, wat die ontvanger meestal nie doen nie, vernederend en of verkleinend. “Poppie”, “Meisiekind”, “Bokkie”, “Ou Nooi” ens.

Ai  Mevrou, probeer tog asseblief net sê: “Meneer (of vriend) my naam is Sannie (of wat ook al jou naam is).”

Koue water op so ʼn flankeerder se gemoed is wanneer hy, so saam met die troetel naampie, komplimenteer op voor-die-handligende goeie hoedanighede, en sy dan vra: “Meneer, komplimenteer jy jou vrou ook so?”

Die Inbreker

(In response op Perdebytie se blog inskrywing)

Ons is ook al deur die meul van “afirmative shopping”. Om die waarheid te sê, sewe keer sedert 2001. Waarvan ons drie keer in die huis was.  Gelukkig is ons nooit fisies geraak nie.

Slegs een keer kon die polisie een persoon arresteer. Ons, vroutjie-doutjie en ek,  het met ons mooiste kleertjies by die hof opgedaag om ons eerste geleentheid as hoofgetuies op te neem. (Ons moes eers bietjie rondvra oor hoe en wat mens by ‘n hof doen) Net om te verneem die knaap het onmiddellik skuld erken en was heeltemal geneë om, vir sy ongenooide besoek aan ons huis,  ‘n paar maande (of dae) in die staats-gastehuis op my koste (belasting) deur te bring.

Net om ons te laat voel ons besoek was nie heeltemal onnodig nie, het ‘n polisieman ons meegedeel dat ons onsself eintlik baie gelukkig moet ag want tydens die arrestasie het die man ‘n vuurwapen by hom gehad. O ja, voor ek vergeet, hy is gearresteer terwyl hy probeer geld trek het met voutjie-doutjie se krediet kaart.

Ek het, so het die besoeke saam, gewonder wat noop ‘n mens om so desperaat (of arrogant) te wees om by mense se huis in te breek terwyl hulle tuis is? Hy behoort tog te weet, al is hyself gewapen, bestaan daar ‘n risiko dat die huisbewoner ook gewapen kan wees en dat hy sy eie lewe waag.

Die slotsom waartoe ek kom is dat, in die meeste gevalle, word dit gedoen uit desperaatheid. Hy voel hy het niks om te verloor nie want jy het niks. Hy besit niks en het nie eers genoeg om homself, of gesin, aan die lewe te hou nie. Indien hy met sy lewe daarvan afkom en hy word gevang, sal hy beter af wees as voor hy gevang is want minstens gaan hy vir ‘n tydperk kos en slaapplek hê.

Nou die negatiefste van alles: As ek realisties moet wees, wat ek eerder nie wil wees nie: Dit gaan net erger gaan!

Vroutjie-doutjie en ek het darem die lekker van Suid Afrika gehad en bly gelukkig nou, in die (vir nou nog) rustige, amper “crime free” Stilbaai. Ons doggie is in Ierland waar kinders nog met fietse in strate ry en mense laataand in Dublin se middestad rondstap. Wat ons egter beswaar is die kleinkinders (seuna se twee kinders) wat in Johannesburg grootword. Hulle weet nie hoe dit voel om buite die erf te stap nie en daar is sekuriteitswagte by hulle skool se hek! Wat gaan van hulle word as dinge hier net erger word?