Barbara se Beesstert

Weet nie of ek al vertel het nie maar ons, vroutjiedoutjie en ek, het saam met twee ander pare, Joe en Lydia en Francois en Barbara, besluit om ‘n “een maal per maand ete” te hou. Dit werk so: met elke ete maak een paar die voorgereg, een paar die hoof gereg en een paar die nagereg. Die reëling is dat dit by die paar wat die hoofgereg aanbied se huis gedoen moet word. Gewoonlik ʼn Saterdag of Sondag.

 

So twee maande terug was dit by Barbara en Francois se huis. Barbara het die lekkerste beesstert gemaak wat ek nog geëet het! Sy was so gaaf om die resep te gee.

 

BEESSTERT

Ek gaan die bestanddele gee maar die hoeveelhede moet jy maar aanpas na aanleiding van hoeveel mense daar is. Ek werk so op een beesstert vir so vier mense.

  • Beesstert (Ons slagter het mooi beessterte in die slaghuis met nie te veel vet nie)
  • Ui
  • Olie om in te braai
  • Sout
  • Water
  • Beesstertsop
  • Woolies se Indonesian Honey en Soya Sauce
  • Room

 

Jy braai ʼn uit in olie tot deurskynend. Dan sit jy jou beesstert by en braai tot bruin (geseel). Nou gooi jy sout na smaak by (versigtig want die sop is ook sout). Jy gooi ook heuning en van Woolies se Indonesian honey and Soya sauce by. Nou water genoeg om die beesstert net net te bedek en dan kook jy dit tot die beesstert sag is.

 

Nou gooi jy jou aartappels by en kook tot die aartappels gaar is. Gewoonlik mos so 30 minute.

 

Nou kom die trick! Jy meng die soppoeier met die room en voeg dit by. Versigtig dat dit net liggies prut en hou dop dat die spulletjie nie aanbrand nie.

 

As die sop gaar is, so 20 minute, kan jy opskep.