Uittog Na Middelburg

Van Ermelo af is ons vir ‘n baie kort tydjie Middelburg en toe weer terug Ermelo toe. Dit was tydens hierdie tyd in Middelburg dat ek vir Gerhard van der Merwe ontmoet het.

Gerhard het oorspronklik van die Kalahari af gekom. By hom en sy vrou, het ons ‘n besonderse andersheid in kosvoorbereiding aangetref. Dit het my weereens laat besef dat, soos met baie ander dinge, kosvoorbereiding streeks gebonde is. Soos mense in verskillende lande, verskillende maniere, gewoontes en voorliefdes het, het mense in verskillende streke ook verskille. Dit is nie noodwendig so radikaal verskillend van streek na streek soos dit is van land na land of kontinent na kontinent nie, maar dit is tog treffend.

Gerhard het aan my bewys dat my geloof dat wildsvleis doodgegooi moet word met speserye en kruie verkeerd is. Die ander geloof dat wildsvleis net gekook moet word en dan ook so gekook moet word dat dit naderhand uit mekaar val omdat dit van nature taai is, is ook deur Gerhard verkeerd bewys.

Gerhard het eendag vir ons koedoe steak op ‘n vuur voorberei wat sonder enige wilde smaak was. Gerhard se steak nie na beesvleis geproe nie! Dit het steeds ‘n besonderse smaak gehad waarna Gerhard verwys het as die werklike smaak van Koedoe. Die vleis was sag, geurig en besonder.

Ek het ‘n hekel daarin dat mense wildsvleis voor berei deur dit so te dokter en beneuk dat dit amper nie meer na vleis proe nie. Dan spog hulle nog agterna daarmee dat so lekker voorberei is dat jy nie sal sê dit is wild nie. Wie wil nou wildsvleis eet wat na bees of skaap proe? Jy eet dit dan juis omdat dit wildsvleis is! Ongelukkig het ek nooit Gerhard se koedoe steak resep by hom gekry nie en ons lewens het oor die jare in verskillende rigtings geloop, met die gevolg dat ons totaal kontak verloor het.

Wanneer Gerhard en ek bymekaar gekom het, het die ons so lekker gesels en dit gewoonlik oor ‘n paar biere, dat die tyd verby gevlieg het. Buitendien het bier, gelukkig of ongelukkig, die uitwerking om jou geheue en jou sin vir tyd, selektief uit te vee. Dink nou byvoorbeeld aan hoe die tyd in ‘n kroeg kan vlieg. Jy gaan sit met ‘n paar vriende en drink ‘n vinnige paar biere en as jy jouself kom kry, is jy laat by die huis. Wanneer vroutjie-doutjie dan vra waaroor jy so lank is die kroeg sit en gesels, kan jy gewoonlik nie veel detail onthou nie. Die rede daarvoor is dat dit nie vir die menslike brein moontlik is om soveel intellektuele detail te stoor nie en jy onthou dus net oppervlakkig.

Dit is nou nie dat die drank jou dom maak en jy dus nie kan onthou nie! Nee, drank maak jou juis slimmer! So het ‘n kenner my eendag in ‘n kroeg meegedeel. “Jy sien” het hy verduidelik “Dit werk so. Drank veroorsaak dat daar van ‘n mens se breinselle doodgaan. Maar die swak breinselle gaan eerste dood. Dit is soos die natuur, as ‘n leeu ‘n trop buffels jaag, dan is die trop buffels wat weghardloop so stadig as die stadigste buffel. Wanneer die leeu dan die stadigste buffel agter die trop vang, beweeg die trop buffels ‘n bietjie vinniger want die swakste buffel is gevang en die trop beweeg so vinnig as die tweede stadigste buffel. Wanneer ‘n leeu dan die tweede stadigste buffel vang beweeg die trop nog ‘n bietjie vinniger soos die derde stadigste buffel. So word die stadigste buffels geëlimineer en die trop word al vinniger. Net so val drank die swakste breinselle eerste aan en soos die swak breinselle doodgaan word jy al slimmer!”

Vroutjie-doutjie vra ook altyd hoe ek so lank op die ongemaklike kroegstoeltjie kan sit? Nou kom ek vertel jou van een van die wonders van die lewe! Daar is niks op die aarde so sag soos ‘n kroegstoel nie! Die kan van hout of staal gemaak wees, maar dit bly heerlik sag!

So het ons een aand vir Gerhard en sy vrou, genooi om by ons te kom braai. Vroutjie-doutjie het soos gewoonlik ‘n hele dag spandeer aan kosvoorbereiding, tafeldek en al die goed wat ek gewoonlik dink is tydmors. My vrou glo egter nie daaraan dat jy sommer ‘n vleisie op die vuur gooi en dan sommer so langs die vuur eet, of nog erger, sommer so van die vuur af eet nie. Nee, sy glo daar moet tafel gedek word met al die fênsie goedjies soos gevoude servette, blomme en so aan.

Dit was ‘n baie koue wintersaand en terwyl die vrouens binne gesels het, het ek en Gerhard buite langs die rooster gesit om die vleis dop te hou. Natuurlik met ‘n biertjie in die hand om ons warm te hou en ons slim te maak. Die vleis het baie stadig aangestap en ons wou dit nie aanjaag nie want vleis wat op die vuur aangejaag word in onsmaaklik en taai. Die biere het naderhand opgeraak en ek moes noodgedwonge ‘n bottel Blanc De Noire nader trek. Later… baie-baie later het vroutjie-doutjie uitgekom om te kyk hoekom bly ons so lank weg met die vleis. Volgens haar het ek en Gerhard heerlik op die stoep gesit en gesels, met leë glase in die hand en ek met die bak koue braaivleis op my skoot… vrouens het mos maar ‘n alternatiewe manier om die wêreld te sien.

Ek en Gerhard het aan tafel nie veel gesels nie en was minder lus vir eet. Miskien was ons versadig van die bier en wyn of dalk was dit die koue. Nodeloos om te sê , die vrouens was nie bietjie vies nie! Van vroutjie-doutjie se harde werk om bykosse en slaaie te maak het net die twee vrouens so liggies aan gepeusel. Gerhard se vrou het, as bydrae tot die ete, ‘n groot bak aartappel gereg saam gebring waarvan ons die volgende dag geëet het. Dit was heerlik. Ons gebruik die resep nog gereeld en wanneer ons dit eet dan dink ons aan die ‘Blanc De Noir’ braai.

Aartappel en Spek Gereg (Gerhard van der Merwe se vrou sin)

6 medium Aartappels (gekook en geskil)

1 Groot ui (gesnipper)

30 ml olie

250 g gesnipperde spek

250 g sampioene (in skyfies gesny)

Witsous (resep onder)

125 g gerasperde kaas

Braai die uie, spek en sampioene saam in die olie.

Haal van die stoof af en laat eenkant staan terwyl jy die witsous maak.

Meng die witsous met die ui, spek en sampioene

Sny die aartappels in skyfies

In ‘n kasserol oondbak doen die volgende:

Pak ‘n laag aartappels gevolg deur die witsous mengsel. Herhaal tot al die aartappels gebruik is.

Sprinkel die kaas oor die laaste witsous laag en bak in oond tot die kaas mooi bruin is.

Basiese Witsous:

60 ml margarien

60 ml meel

500 ml melk

½ t mosterd

Sout en peper na smaak

Smelt die margarien in ‘n pot oor lae hitte

Voeg dan die melk bietjie vir bietjie by en roer aanhoudend met ‘n houtlepel of draadklitser sodat dit nie klonte maak nie. Maak seker al die klonte is uitgeroer voor jy die volgende bietjie melk byvoeg. (Onthou die moet ‘n lae hitte wees en moet nooit ophou roer nie. Eintlik sou dit lekker werk as jy vier arms en hande gehad het maar nou moet jy maar klaarkom met wat jy het!) Die mengsel moet ‘n dikkerige pasta vorm maar nie te dik nie! Dit moet nog loperig wees. As jy dink dit is te dik, voeg nog melk by. As jy sien die mengsel kook te vinnig en jy kan nie byhou nie, haal die so bietjie van die plaat af.

Advertisements

3 thoughts on “Uittog Na Middelburg

  1. Een van die lekkerste dinge vir my is om die kos te proe van die nuwe plekke wat ons besoek. Daar is tog so baie verskillende maniere om ‘n steak gaar te maak. Ek self is ‘n slegte kok, sonder verbeelding. Maar Liefie, hy kook met liefde!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s