Haar Ouboet

Die seer van iemand na aan jou voel soos jou seer

En as daardie seer nie in woorde lê nie

En ook nie in die lyftaal nie

Maar die seer lê in die oè

Dan lê die seer diep

Dit is vroutjie-doutjie se seer oor haar ouboet

Die een wat altyd op die agter grond was

Die een wat, in die agt-en-dertig jaar wat ek die familie ken, die half buitestander was

Die een wat anders geglo het… gedoen het…gedink het… geleef het…

Die een wat onbeskaamd ‘n ander man se kinders soos sy eie grootgemaak het en slaafs sy siek vrou versorg het

En ek sien haar seer in haar groot groen oë

En ek hoor haar droë snik van onthou in die nag as sy langs my lê

En ek wens ek kon die seer beter soen…

Gaan dit beter as voorheen?

Dit was die preek vanoggend… en het my laat skaam kry…

en ek sê vir myself-

Jou omstandighede is waarop jy fokus… fokus op die swaar… seerkry…. pyn… en dit is waar jy jouself bevind en kort voor lank is dit jou enigste omstandighede

en 

ek dink

aan die ou man in die rolstoel wat voor ses in die wintersoggende by die robot naby East Gate bedel (hy groet elke oggend vriendelik – soos ‘n mens sonder ‘n probleem op hierdie aarde)… die ou vroutjie, sonder tande, op die hoek van Atlas en Mercury met die bordjie waarop staan “I am almost blind – help me”… die jong man met die vuil lang hare op die hoek by Great North wat alle hoop en selfrespek verloor het…

en ek vra nie wanneer… hoekom… waarom nie

Ek sê net dankie vir die genade!

Lekker Creme Brulèè

Creme Brulèè

4 Eiergele

2 koppies room

1 tl vanielje

1/3de koppie wit suiker

Bruin suiker om boor te strooi

Verhit die room en vanielje maar moet nie kook nie

Terwyl die room warm word meng die eier gele en suiker. (moet nie klop nie. Roer dit net. Daar mag in die hele proses nie bubbles vorm nie.)

Gooi bietjie van die warm room by die eiergele en roer deur. Meng dan die res van die room met die eiergeel. (passop vir bubbles)

Voer ‘n oond pan (ons gebruik ‘n vlekvrye staal bak) met ‘n dubbel laag kombuis papier uit.

Plaas die bakkies in ‘die oondpan.

Skep die mengsel versigtig in die bakkies sodat daar nie bubbles vorm nie. Bakkies moet half vol wees.

Vul oondpan met kookwater tot by helfte van bakkies. Passop dat die water nie in die bakkies spat nie.

Sit in oond vir 35 min by 180 grade.

Haal uit oond. Sprinkel bruin suiker oor en smelt die bruin suiker met ‘n blaas vlam..

Sit in yskas vir vier ure voor bediening.