Weskus en Kagga Kamma – Dag 2 Lambertsbaai

Van Morreesburg, met Johan en Anne-Mari se gasvryheid, is ons vroeg weg Lambertsbaai toe. Izak het gehoor die snoek loop en ons moet hulle vars uit die see kry.

By die vakansiehuis in Lamberstsbaai het ons net vinnig ons bagasie afgepak is, is ons af hawe toe om vars snoek te koop.

Nou moet ek eers noem: Lambertsbaai was vir ons ʼn skok! Ons vorige besoek aan Lambertsbaai was in 2004. Ons onthou dit as die rustige, skoon Weskusdorpie. Ons het daardie tyd in ʼn pasgeboude woonstelblik op die strand tuisgegaan en het met moeite weer van die dorp af weggegaan.

Die Lambersbaai wat ons hierdie keer belewe het, was die ander uiterste. Miskien was dit omdat die snoek so wild uitgekom, of “geloop” het. Dit was ʼn miernes van hengelaars, visverkopers, bedelaars en leeglêers.

Labertsbaai Hawe:

Lambertsbaai Hawe

Izak het onderhandel vir snoek Die snoek pryse het gewissel so van vyf en sestigrand tot vyf en sewentigrand. Izak het onderhandel vir vyf en vyftigrand per snoek en vyf snoeke word in ʼn skottel agter in die kar gelaai.

So ongemerk probeer Izak toe ook ʼn paar krewe reël. Hy vra, onder andere, vir een van die vissermanne of hy nie ʼn “ietsie”, bedoelende kreef, by die huis het nie? Die visserman antwoord geskok en half geïrriteerd “Ek? Het ek iets by die huis? Nee man, ek het fokall net ʼn vrou en twee honne.”

Een ou het klaarblyklik gehoor Izak soek kreef want hy kom staan ewe geheimsinnig hier naby Izak en vra saggies “Soek Meneer kreef?”

“Ja” antwoord Izak ewe geheimsinnig “Het jy?”

“Ja Meneer ek het vier grotes.”

“Lewe hulle nog?” vra Izak

Die man kyk hom seergemaak aan “Natuurlik lewe hulle nog Meneer.”

“Waar’s hulle?” vra Izak

Die ou beduie met sy kop in ʼn rigting wat vir nie een van ons iets beteken nie.

“Hoeveel?” vra Izak terwyl hy sy wysvinger en duim teenmekaar vryf.

“Driehonderd.” antwoord die man.

“Honderd en vyftig” sê Izak

“Tweehonderd en vyftig” sê die man

“Tweehonderd” sê Izak met ʼn gesig wat vir die man behoort te sê dit is die laaste bod.

“Dis reg Meneer.” stem die man in.

“Waar kry elk hulle?” vra Izak.

Met ʼn “Meneer moet net hier in die straat opry en so een blok vêrder vir my wag. Ek gaan haal hulle gou.” is die ou daar weg.

Na omtrent ʼn halfuur se wag by die afgepreekte plek kom die ou, met ʼn Spar sak in die hand, daar aan. Hy kom staan weer ewe geheimsinnig met die sak langs die kar.

“Jy sê hulle lewe nog?” vra Izak weer.

“Ja meneer.” antwoord die man.

Izak gee hom die ooreengekome tweehonderd rand “Sit hulle in die kattebak onder die snoek.”

Ons ry vinnig huis toe want Izak wil die kreef gaarmaak voor hulle vrek.

By die huis pak Izak sy aankope uit die kattebak en gee ʼn kreun “Ek is vir ʼn ride gevat.” kla hy teleurgesteld.

“Wat is fout?” wil Erina bekommerd weet.

Izak lig die “kreef”sak uit en maak dit oop. Binne in die sak is ʼn klip en twee ou afgeleefde skoene.

Kyk, ek het gesorg dat Izak hierdie winskopie nie gou vergeet nie.

Gelukkig is die Jouberts nie mense wat so ʼn ou insidentjie hulle van struik laat bring nie. Die snoek is skoongemaak en bewerk. Tienie en Babsie het van Citrusdal af by ons aangesluit en daardie aand het Tienie vir ons heerlike snoek gebraai.

Tienie braai snoek:

Snoekbraai op Lambertsbaai