Oom Kerneels se Behoeftes

Die moeilikheid het begin toe die nuwe vrou in die huisie oorkant die pad van Oom Kerneels-hulle ingetrek het.

Oom Kerneels en Tannie Mita het die ingetrekkery van die voorstoep af dopgehou. Oom Kerneels wou onmiddellik gaan kennismaak en hulp aanbied maar Tannie Mita was nie gediend daarmee nie. Van ʼn afstand af kon sy sommer sien dat die vrou ʼn regte flerrie is. ʼn Rokkie wat skaars op haar knieg kom en heupswaaiend  tussen die treklorrie-mense heen en weer. Veels te wulps vir enige vrou wat haar in hierdie aftreeskema wil tuismaak.

Lank na die treklorrie weg is het Oom Kerneels op die stoep gesit en pypsuig. Tannie Mita moes hom na skemer dwing in te kom anders gaan hy weer met die bors sit.

Maar ‘n honger bul en wulpse vers hou jy nie met ‘n doringdraad van mekaar weg nie! Oom Kerneels het begin stap vir die oefening en ook sommer Tannie Mita se inkopies by Soebel se winkel vir haar oorgeneem. Wanneer hy wel tuis was, het hy op die stoep sit en pypsuig en na die huis oorkant die pad gestaar.

Die hele skema het later van Oom Kerneels en die nuwe vrou gepraat. Soveel so dat Tannie Mita het later met Ellie, die skema se maatskaplikewerkster, gaan praat wat op haar beurt met die nuwe vrou gaan praat het. Diè het verontwaardig gesê dit is ‘n onskuldige vriendskap en Tannie Mita moet eerder haar aandag aan haar eggenoot se behoeftes bepaal as sy so bekommerd is.

Tannie Mita was erg beswaard en het ook maar op die stoep begin sit. Sy aan hierdie kant van die straat en oorkant die pad het Oom Kerneels en die nuwe vrou gesit.

Elke keer as Oom Kerneels en die nuwe vrou die huis in is het Tannie Mita haar hande oor haar bors gevou en haar oë gesluit en vir hulle onthalwe vergifnis gevra.

Ellie het later gesê “Nee Ta’ Mita. So kan dit nie aangaan nie. Jy is besig om op hierdie stoep te sit en wegkwyn!”

Ellie het Tannie Mita na ‘n eenheid in ‘n ander straat verskuif.

More en DAARNA!!!

Vandag is die jongste wat ek ooit sal wees!

More is ek een jaar ouer. Daardie ouderdom wat vir jou die begin van die einde kan beteken of die nuwe begin.

Ek het probeer om alles in te pas voor hierdie datum:

  • Vyftien maande vroeër uit die korporatiewe wêreld uitgetree
  • Huis in Johannesburg verkoop
  • Erf in Suid-Kaap gekoop en begin bou
  • Konsultasie werk in Johannesburg begin en afgehandel
  • Bouery afgehandel
  • Ingetrek, uitgepak en tuingemaak

en nou begin ek amptelik die tweede kans

Nina se trots

Willem se laaste gedagte toe Nina se kis in die graf sak was hoe trots sy op die meubels was wat sy oor die jare bymekaar gemaak het.

Die meeste het sy by ou Mevrou Muller gekry, ander by die Muller-kinders, maar baie het sy self by tweedehandse winkels in Mosselbaai gekoop en dan veels te veel betaal om dit op die plaas te laat aflewer.

Soos ou Mevrou Muller, was Nina baie lief vir egte hout. Die eike-eetkamerstel, die sitkamer se bal-en-klou-stel waarvan die kussings al verbleik en hier en daar verweer was, swarthout-koffietafeltjies en die pragtige eike-bedkopstuk in hulle slaapkamer. Dit was Nina se trots.

Nina was ʼn sterk vrou. Nie eens die borskanker kon haar onderkry nie. Maar die nag toe sy haar trots verloor het, het Nina alle wil verloor. Dit het gebeur asof dit so beplan was.

Eers het Meneer Muller die gedeelte van die plaas waarop Willem gewerk het, en waarop hulle huis ook was, aan die Oosthuizens verkoop. Oosthuizen wou toe nie die werkers permanent op die plaas hê nie en Willem en Nina moes ʼn ander heenkome soek.

Willem kry toe ʼn plekkie langs die Gourits-Mosselbaaipad. ’n Klein huisie, maar met die kinders uit die huis, was dit net-net groot genoeg vir Willem en Nina en Nina kon haar geliefde meubels hou.

Toe kom die nag van die vuur. Soos van nêrens. Nina het eerste wakker geword van die geskree van Petrus Arendse wat naas hulle gebly het. Sy het Willem wakker geskud en toe hulle uitkyk was die vuur sowat tweehonderd meter weg. Hulle het eers die klere, kos en beddegoed oor die pad gedra en daarna, met die bure se hulp, kon hulle die meeste van Nina se meubels ook oor die pad kry.

Maar die vlamme was groot en die wind was sterk! Die vuur het oor die pad gespring en almal moes vlug vir hulle lewe. Vir die draak wat alles voor hom opvreet. Al hulle besittings! Klere, beddegoed, kos… en ook Nina se ggeliefde meubels.

Die volgende dag, moeg en vol roet en stof, met net die klere aan hulle lywe, het hulle by die kinders op Albertinia aangekom.

Dit was nag toe Nina opgegee het. Daardie nag het sy met ‘n vêr uitdrukking op haar gesig gewag op die dood om haar te kom haal. En hy’tgekom… en sy’t Willem alleen gelos by die kinders.

Nou hier langs die graf, met trane op sy wange, wonder Willem hoekom hy nie vir Nina gelukkiger kon maak nie? Hoekom hy nie kon plan maak om die meubels vêrder weg van die pad af te dra nie? Hoekom hy nie opgehou drink het toe Nina hom so gesmeek het nie want dan sou hy dalk gouer wakker geword het om die meubels te red!

Die Begin

My nuwe voorneme, om elke dag iets te skryf, hoe nietig ookal, begin vandag.

Nie dat ek iemand wil verveel met ‘n nuttelose gegorrel nie! Nee, ek sal dit bietjie redigeer voor ek dit plaas maar minstens sal ek van gedagtes wat, veral op my ouderdom, uit die geheue verlore gaan, in behoue laat bly.

Ek wil tog versoek; as dit jou verveel, hou op lees maar kom more terug. Daar mag dalk more iets wees wat jou intereseer.

“Banting” Wie? Waarom? Vir wat?

Ek het nou vandag besin oor Banting. Bietjie eerlik met myself gewees… Of slaan ek die “Banting” mis?

1- Alle banting resepte is nie sleg nie. Inteendeel, sommige van die disse is baie lekker! Soos byvoorbeeld die baie vleis, neute, biltong ens. Maar die brood en ander goed met amandelmeel is nie vir my nie.
2-Verloor jy werklik gewig van die verhoogde vette, protiene ens of omdat jy minder stysel en suiker eet. Wat van jy volg jou normale eetgewoontes maar eet net minder stysel en suiker?
3- Ek is mal oor soetgoed maar het myself nou totaal gespeen daarvan. Die resepte vir soetighede wat ek sover uit Banting resepteboeke gekry het is nie, vir my, lekker nie. Wat is die doel om iets soets te eet maar dit nie te geniet nie?

Ek het myself al die normale lekker dinge vir weke ontneem… En nie regtig gewig veel verloor nie!

Wie het? Moet ek myself oortuig sleg is lekker en wat nie werk nie, werk?

SIESTA IN STILBAAI

“Siesta” se ek vanmiddag vir die vriendelike loodgieter, wat so neffens 12 uur, onbedagsaam hier buite aan die pomp vir die besproeing begin werk “is nie slegs in Spanje van toepassing nie! Dit is ook in Stilbaai van toepassing! In Spanje omdat dit so warm is en in Stilbaai omdat 90% inwoners pensionarisse is!”

Nuwe Kans – Nuwe Plek – Nuwe Lewe

Weg van die “Corporate World”.
Na “lang droee slukke” van aftree, konsulteer en intussen huisbou by die see… “elkeen soek ‘n huisie by die see” is dit nou daar…
vreemd, ek het altyd gedink aftree is soos uittree, of wegtree… maar nee, nou die dag sê iemand vir Vroutjie-doutjie “aftree hier in Stilbaai is soos “AANTREE!”

Nou kom ons sien?