Stillie se Kroeg op die Dorp

Stillie se kroeg het nie ure nie.

Mense wat nuut in die dorp is of vakansiegangers, ook genoem “inkommers” vra baie: “Wat is jou ure?”

Dan antwoord Stillie maar net: “My ure is my customers se ure.”

So is dit ook werklik. Stillie se kroeg se ure is sy customers se ure.

Herklaas is elke middag eerste daar. Net so neffens vieruur. Na sy middagslapie en voor sy skuld gevoelens hom dwing om vir homself werk uit te dink. As Herklaas homself vieruur op die stoeltjie in die linkerkantse hoek van die kroeg tuisgemaak het en Stillie, of die nuwe bar-lady, het vir hom daardie eerste brandewyntjie en coke neergesit, kan hy nog ʼn goeie uur gesels voor die regulars inkom. Hulle is gewoonlik van vyfuur af daar. Elkeen op sy gewone kroegstoel, Betyds sodat hulle die inkommers wat na ses eers begin aankom, deur kan kyk. Ondersoekend. Met hulle koppe effens afgebuig en fronse op hulle voorkoppe kyk hulle die vreemdelinge uit en laat die mense voel dat hulle eers ʼn dop of twee moet inhê voor hulle welkom sal wees. Dit neem gewoonlik ook dan net ʼn dop of twee om deel van die kroeggemeenskap, en later ook die dorpgemeenskap te voel. Veral as die vreemdeling vir die regular langs hom ook ʼn dop koop,

Herklaas se hoekstoel:

Herklaas se Hoek

Herklaas is ʼn afgetrede boer. Sy vrou het hom sowat ses jaar gelede ontslaap. “Ontslaap” is die gepaste woord wat Herklaas vir die afsterwe van sy vrou gekry het toe hy een aand vir een van die meer geletterde manne in die kroeg vertel het sy vrou is skielik dood. Die man het Herklaas geskok aangekyk en Herklaas gepas tereg gewys.

““Ontslaap” Herklaas.” Het Meneer Geartikuleer reggehelp. “Jou vrou is nie dood nie, ander mans se vrouens gaan dood maar as jy na jou eie eggenote verwys het sy jou “ontslaap.”

Herklaas het van die woord gehou. Dit was vir hom meer gepas om na sy oorle vrou as “ontslaap” te verwys.

Hier in Stillie se kroeg het Herklaas al menige gepaste woorde geleer want hier kom “geleerde” mense wat korrekte Afrikaans “besig”. Dit laat Herklaas voel of hy in ʼn ander liga is as hy so nou en dan as “gewone” inwoner in die geselskap van die “geleerde” inwoners, hier is Stillie se kroeg sit, en die “gepaste” woorde “besig”. Hy kry onmiddellik daardie meewaardige gevoel, wat hy nie by veel geleenthede kry nie, en kan die “admirasie” van die “gewone” ouens aanvoel. Dit is veral wanneer jy ʼn Engelse woord kan “ver-Afrikaans” en dit dan “besig”.

Die meeste geletterde manne is pensionarisse wat in die dorp kom aftree het. Daar is byvoorbeeld Vossie. Afgetrede skoolhoof uit die Vrystaat. Vossie het gou sy kleim in die dorp afgesteek deur met die “regte” mense te meng. Die “regte” mense is nou onder andere dominee Daan, die predikant, Hans, die munisipale bestuurder, die Dokter Frik, wat homself uit ʼn praktyk in Johannesburg uitgesuip het en toe hier kom aftree het. O ja! om nie te vergeet van die hardeware winkel se bestuurder , Kootjie, nie! Kyk daar is nou vir jou ʼn belangrike man. Stywe rug, stywe nek en stywe snor maar as die man ʼn dop in het, is niks meer styf nie.

Herklaas en die paar genoemde vriende is nie die enigste mense  op die dorp was hulle status handhaaf deur die “gepaste” Afrikaans te “besig” nie… daar is byvoorbeeld Valie, een van die baie loodgieters in die dorp. Valie, ‘n loodgieter en elektrisiën tegelyk, wat oral met sy verslete faktuurboek in die dorp stap, kan die taal “besig”. Nêrens kan Valie se kwalifikasie gesien word nie behalwe onder sy briefhoof waar na Valie se diens verwys word as “gekwalifiseerd”. Valie is miskien nie nie regtig “gekwalifiseerd” nie maar Valie kan die taal “besig”. Elke keer as ʼn kliënt ongelukkig is met Valie se diens dan “staan” Valie “terug” en verwys dan na die “onderonsie” as ʼn “vertrouensbreuk” in die “diensverhouding”. Valie se vrou kom nooit in Stillie se “establishment”, soos Stillie na die kroeg verwys, nie. Sy is wel in die dorp te sien en sal by die susterverenigingvergadering graag verwys na die “suiplappe en hoereërders” wat die arme Valie so te na kom.

Stillie self is ʼn stil man. Mense hou van Stillie omdat Stillie luister. Stillie praat nie en gee nie raad nie. Hy skud net sy kop en sug saam. Dit voel vir Stillie se kliente of Stillie so lank in die dorp is as wat die dorp oud is.

So nou en dan kom wys Stillie se vrou Ant’ Stillie haar gesig daar. Nie lank nie. Net vinnig om te kyk of Stella en Stillie hulle gedra.

Stella is die nuwe Bar-Lady. Oulike meisie met lang krullerige hare wat die vriendelike gesiggie omraam. ʼn Mens sou haar nie as mollig beskryf nie, eerder bietjie rond in die lyf. Daardie lyf waarmee sy op haar tone en met ʼn snyende hoë stemmetjie agter die kroegtoonbank uit trippel om elke regular wat by die deur inloop om die hals te val, sy moet gereeld op haar tone staan want sy is bietjie kort, en ʼn klapsoen vol op die mond te gee. Dis nou wanneer hulle vrouens of meisies nie saam is nie.

In hierdie “establishment” van Stillie hoor jy alles wat in hierdie dorp gebeur,

Totsiens tot volgende keer.

Let Wel: Plekke en name waarna verwys word is fiktief

5 thoughts on “Stillie se Kroeg op die Dorp

  1. En Dominee Daan kom lig die elmbook ook daar in Stillie se establishment? Bwahaha, ek het nou heerlik saamgekuier in die kroeg. Ek dink ek sal ‘n goeie kroegmeisie uitmaak, want ek drink nou nie juis nie, maar ek skinder tog te graag. Net jammer ek het nou nie die lyf en die krulle nie.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s