Buite-ontbyt en Ander Ontbytsake

Ons Suid Afrikaners is nou maar eenmaal gebou vir buite kos maak. Dit kan sekerlik toegeskryf word daaraan dat ons weer dit toelaat of dat van ons voorouers geen ander keuse gehad het nie omdat hulle besig was om oor die berge noorde toe te trek en die buitelug dus hulle kombuis was. Een Kapenaar het eendag vir my gesê die mense wat met die ossewaens noorde toe getrek het was baie dom. As hulle ‘n honderd jaar gewag het kon hulle met die trein noorde toe gegaan het.

 

Ewenwel, ons sal enige verskoning gebruik om ons kos voorbereiding en ete buite te geniet. Selfs die koue hoëveld winters wat ons in ons Ermelo dae beleef het kon ons gesin nie afgeskrik daarvan om buite kos te maak nie. Noudat die kinders uit die huis is en ek en vroutjie-doutjie nou net vir ons twee kos moet voorberei, sou ‘n mens dink ons sal nie die moeite doen om nog vuur te maak en buite te sit nie, maar nee, ons maak soms tot drie keer per week ons vuurtjie en sit rustig met ‘n glasie wyn en wag vir ons vleisie of potjie om gaar te word.

 

Dit is altyd die lekkerste om jou gaste buite te onthaal. Ek kan my nie ‘n huis sonder ‘n buite onthaalarea voorstel nie. Elke mens het sy voorkeure en afkeure waar dit kom by die voorkoms en geriewe by ‘n buite onthaalarea of lapa. Ek glo jou onthaal area moet so geleë wees dat dit maklik bereikbaar vanaf jou kombuis is en vir alle etes voorsiening maak en tog moet dit ‘n ontspannende atmosfeer hê. Dit moet daarvoor voorsiening maak dat dit gerieflik is om jou gaste te onthaal, bedien en lekker saam te kuier, sonder dat dit vir hulle lyk of dit moeite is en of die baie werk is.

 

Ons het byvoorbeeld, in Ermelo ‘n vriend gehad, ou Natie, wat, behalwe dat hy graag onthaal het, ook nog ‘n duiwe-boer was. Natie en sy vrou het die vermoë gehad om ‘n baie lekker onthaal te hou, buite natuurlik, saam met die gaste te kuier en dan, as dit ‘n Saterdag middag was, het hy sommer die ren-duiwe ingeklok. Die gaste kon nooit agtergekom het dat die twee mense enige buitengewone moeite doen nie. Alles was vooraf goed georganiseer en gereed vir die gaste. Die gasheer en gasvrou het nooit rondgehardloop nie, hulle het rustig saam met die gaste gekuier en die voorbereiding is dood gewoon tussen die kuiery deur gedoen.

 

Ontbyt voorbereiding kan ‘n baie onpersoonlike episode wees. Daar is seker niks so aaklig as om in die kombuis te staan en ontbyt maak terwyl van jou gaste slaap en jy hoor hoe hulle so hier en daar opstaan en iewers in die huis rondhang nie. Die geheim is om die gaste te betrek by jou ontbyt voorbereiding. Ons het gevind dat die enigste manier om lekker saam met jou gaste te kuier terwyl die ontbyt voorberei word, die vonkelwyn ontbyt of Buite Ontbyt is.

 

‘n Vonkelwyn-ontbyt bly ‘n treffer.

 

Die een hoofbestanddeel is natuurlik die vonkelwyn wat jy met by lemoensap bedien. ‘n Kelkie, helfte vonkelwyn en helfte lemoensap per glas. Yskoud bedien maak so ‘n paar slukke die gaste lekker lus vir die ontbyt.

 

Die voorbereiding van die ontbyt kan jy op jou gas-skottelskaar doen maar die ideaal is om ‘n plat staal plaat oor die vuur te hê. Die rede is dat vorm van die skottelploeg veroorsaak dat al die olie in die middel versamel en dat jy gevolglik nie maklik meer as een tipe kos kan voorberei nie. Dit is ook moeilik om die eiers so te bak dat dit nie na die middel van die skaar afloop wanneer jy dit breek nie. Ek het, in die dae toe ek nog van ‘n skottelskaar gebruik gemaak het, gewoonlik die eierspaan in so ‘n gehou dat dit keer dat die eier afloop middel toe voor dit gestol het. Die probleem is dat jy met die eierspaan hou, ‘n helper moet hê om of die eier te breek, of die spaan te hou! Dit is nou as jy nie soos die sjefs op televisie die eiers so met een hand kan oop breek nie. Ek het die eenmaal probeer en met die gevolg dat daar meer eierdoppe as eier in die skaar was.

 

Een Kersfees was ek so gelukkig om ‘n staal plaat wat op my ketelbraai pas, as geskenk van vroutjie-doutjie gekry. Die ketelbraai versprei die hitte egalig en maak die so makliker om al die kos, sonder moeite, tegelyk gaar te kry. ‘n Mens maak mos maar so met die tyd toebehore vir jou gerief by jou braai area bymekaar. My eertydse buurman en steeds goeie vriend, Mark, het na hierdie toebehore as sy ‘gadgets’ verwys. Mark is nou die spreekwoordelike ‘gadget man’. Daar is nie ‘n ‘gadget’ op die aarde wat Mark nie versamel het nie. Van bybehore vir die ketelbraai tot handgereedskap.

 

 

 

Sjampanje ontbyt:

 

Vir die sjampanje ontbyt gebruik ons die volgende:

 

Te drinke:

‘n Bottel lemoensap en ‘n bottel wit vonkelwyn waaraan die gaste kan begin drink terwyl die kos gemaak word.

 

Te ete:

Repiespek – randloos

Boerewors – Koo tog die beste wors wat jy kan kry. Hoewel ek saamstem dat ‘duurste’ nie noodwendig altyd ‘beste’ beteken nie, glo ek dat wors net goedkoop is omdat die bestanddele goedkoop is. Die wors moet verkieslik nie droog wees nie want jy het die sousie wat uit die wors braai baie nodig. Sny die wors in stukke om te verhoed dat jy met die lang stuk wors sukkel terwyl jy na die ander bestanddele moet omsien.

Sampioene – gekerf

Tamaties – in die helfte gesny

Uie – lekker grotes wat jy in ringe gesny het

Eiers

Hamburger broodjies (buns) – ook gehalveer en gebotter

Bietjie olie.

 

Braai eers die spek op die warm plaat. Draai die gereeld om, dan krul die nie so erg om nie.

Terwyl die spek braai kan jy die wors om die rand van die plaat sit om te begin braai. Die rand van die plaat is gewoonlik nie so warm as die middel nie en dit is ideaal om die wors stadig te begin braai om te verhoed dat die oopbars.

Wanneer die spek gaar is kan jy dit omruil met die wors op die rand. Die wors kan nou vinniger begin braai.

Die idee is om die wors en die spek se vet te gebruik om die eiers in te braai.

 

Jy kan nou jou broodjies langs die spek op die plaat pak, botter kant onder, om hulle te rooster (hou dop dat dit nie brand nie.)

 

Wanneer jou wors gaar is en daar ‘n lekker klomp vet op jou plaat is haal jy die wors, spek en brood af en hou die eenkant warm.

 

Nou moet die eiers op die plaat. Vlekvrye staal ringetjies om die eiers in gaar te maak, keer dit dat die eier nie die hele plaat vol loop nie.

 


As variasie vir gebakte eiers, en om die probleem te oorkom dat een ou van ‘n harde-, een van ‘n sagte- en een van ‘n omgedraaide eier hou, maak ek sommer klein omelette. Die meeste mense kla nie te veel daaroor nie. Vir my omelette gebruik ek die volgende.:

Een eier per gas

‘n Klein bietjie melk

Sout en swart peper

Fyngekapte pietersielie

‘n Paar fyngekapte oreganum blaartjies

en verder enige iets wat jy graag in ‘n omelet wil hê. Ek meng alles net goed saam gooi die versigtig in die eier ringetjies op die plaat. Sodra die eier gestol het kan jy die ringetjies van die plaat afhaal en dan die deksel van jou ketelbraai, of ‘n pot se deksel oor die eiers sit sodat die vinniger bo gaar stoom. As jy wil kan jy die omelet omdraai maar dit is nie altyd vir my so suksesvol nie.

 

So net voor die eiers heeltemal gaar is kan jy jou tamatie helftes om die rand van die plaat, met die plat kant na onder sit. Die sousie wat uit die tamatie kom sal nou nie meer ‘n invloed op die eiers hê nie.

 

As die eiers gereed is, hou hulle eenkant warm en braai nou vinnig die uie en sampioene. Dit kan sommer saam op die plaat gebraai word tot die uie sag en glaserig. Die gaste kan solank begin opskep aan die eiers, spek en so aan. As die eerste ou klaar eiers en spek in sy bord het behoort jou uie en sampioene reg te wees. Uie braai mos vinnig en sampioene moet net warm word.

 

 

 

As die weer jou egter verhoed om ‘n buite ontbyt te maak, en jy het nie meer van gisteraand se oorskiet braaivleis vir die gaste nie, is HOENDER LEWER OP ROOSTERBROOD net die ding.

 

Sorg dat jy genoeg roosterbrood het want die gaste gaan beslis meer as een eet.

 

 

Hoender Lewer

 

1 Bakkie hoender lewer (die Engelse noem dit mos ‘n tub)

1 middelmatige grote ui (fyn gekap)

1 tl tamatie pasta

½ kopie room

1 sopie brandewyn

1 knypie peri-peri

½ tl heuning

Olie

Sout en swartpeper

Pietersielie vir garnering

 

Was die hoender lewers deeglik af en sny dit fyn. Ons gebruik gewoonlik ‘n bakkie gevriesde hoender lewers. Om die lewers maklik fyn te sny, word die gevriesde bakkie vir ongeveer een minuut in gemikrogolf, net om te verseker dat die blok lewers maklik uit die bakkie kom. Sny dan die hele blokkie in baie dun skyfies en spoel dit dan in ‘n vergiettes af.

 

Braai die ui in die olie tot deursigtig

Voeg peri-peri by en roer deur

Voeg nou die hoender lewer by en braai op warm hitte tot gaar.

Draai die hitte af en gooi die brandewyn by en laat vir paar minute prut.

Roer nou die heuning en tamatie pasta by en laat vir nog ongeveer 3 minute prut.

Haal van stoof af en roer room by.

 

Skep op roosterbrood en garneer met pietersielie.

 

 

 

Nou die dag kry ek ‘n e-pos met ‘n baie interessante manier om omelet te maak van Elmarie, ‘n ou skoolvriendin,. Dit vat miskien bietjie langer as die en is bietjie omstrede maat dit werk wonderlik – veral vir studente wat nie skottelgoed wil was nie.

 

Elmarie se Omelet

1 Jiffy Zip-lock sakkie (so 15cm breed)

1 eier

Gerasperde kaas, ontbyt spek, gekapte sampioene en/of enigiets wat jy graag in omelet gooi.

Sout en peper na smaak

 

Laat water in ‘n 20cm – 30cm pot so driekwart vol water vinnig kook.

Klits die eier, voeg die bestanddele by. Zip die sakkie stewig toe en laat sak in die kokende pot water. Laat dit 13 minute in die pot kook.

Sny die sakkie oop en rol die omelet uit. Weer versigtig om jou nie met die stoom te brand nie.

Dit lyk baie mooi as jy die omelet so ‘n skuins sny gee en dit versier met ‘n bietjie tamatiesous en ‘n takkie pietersielie.

2 thoughts on “Buite-ontbyt en Ander Ontbytsake

Lewer kommentaar op Catface Kanselleer antwoord