VEERTIGSTE VERJAARSDAG “SKAAP OP DIE SPIT”

 

Ek kan nooit besluit of die ouderdom van veertig vir my soos ‘n mylpaal of soos ‘n bedreiging was nie, maar dit was altyd vir my of dit iets groots was wat gewag het. Miskien was dit omdat ek in my verborge psige besef het dat ek op veertig moet aanvaar dat ek oud word! Ouderdom is mos vir ’n mens soos trappies van ’n leer. Die eerste trappie is wanneer jy tien jaar oud word. Ons seun het op sy tiende verjaarsdag gesê hy is nou in die ‘double figures’. Dertien is dan jou volgende treetjie want jy is dan ’n tiener. Die volgende treetjie is as jy een en twintig word want dan is jy ’n grootmens. Hoekom veertig so besonders was kan ek nie sê nie maar geen ander verjaarsdag was vir my so ’n besonderse mylpaal nie. Ek kan goed onthou toe my ma veertig geword het. Sy was toe vir my stokoud. Inteendeel, toe ek ‘n kind was, was almal wat oor dertig was vir my stokoud!

Jare voor my veertigste verjaarsdag het ek al besluit ek gaan die ontluiking van my ‘naughty fortees’ inlui met die moeder van partytjies! Vroutjie-doutjie en ek het gevolglik so teen Maart van daardie jaar… dit was 1995 en ek verjaar in Junie… begin om die beplanning te doen, die reëlings te tref en die versigtig uitgesoekte gaste te nooi. (Ek noem dat die gaste versigtig uitgesoek moet word want daar is niks wat ‘n partytjie so bederf as gaste wat nie bymekaar pas nie.)

Ons spyskaart was geskoei om ‘n skaap op die spit. Vroutjie-doutjie het baie moeite gedoen met die voorbereiding van die bykosse en alternatiewe vir die mense wat nie skaap eet nie. Omdat ek net naweke tuis was, moes vroutjie-doutjie en die twee kinders al die dinge alleen doen en sy moes nog haar na besigheid, wat sy in Empangeni bedryf het, omsien.

Soos die atmosfeer opbou het na enige groot gebeurtenis was die opgewondenheid nader aan die Saterdag van my verjaarsdag nie anders nie. Wat bygedra het tot die opbouende opgewondenheid was dat dit ook dieselfde Saterdag was dat die Springbokke teen Frankryk vir die wêreld beker gespeel het. Die sogenaamde ‘water toets’ in Durban.

Steve, ‘n goeie vriend en eienaar van ‘n supermark in die dorp, het aangebied om vir my die skaap voor te berei vir die spit. Ek het die vorige Saterdag al die skaap gaan uitsoek. Dit was nie ‘n groot skaap nie want daar was net sowat dertig gaste genooi. Nie te maer nie, maar ook nie te vet nie want mense is deesdae baie gesondheid bewus. Steve het belowe die marinering proses sou die daaropvolgende Woensdag begin.

Ek het Steve vroeg Woensdag oggend gebel en hom herinner aan die skaap. Ek was bang hy vergeet en ek wou geen foute in ons versigtig beplande funksie hê nie. Vrydag so teen middagete het ek Steve gebel om te hoor of ek die skaap kan kom kry. “Nee man Jan! Jy is veels te haastig.” was Steve se antwoord “Die skaap marineer rustig. Kom kry hom more so teen twaalf uur” Ek was onder die indruk dat ’n skaap op die spit minstens vir twaalf ure moes braai maar Steve het my oortuig dat, omdat die spit wat ek gehuur het ’n toe, vlekvrye staal model was wat met gas werk en nie die oop tipe wat met houtskool werk nie, die skaap vir slegs sowat ses ure hoef te braai.

Met ‘n geruste hart dat my skaap deeglik marineer het ek die aand gaan slaap en die volgende oggend het ek gesorg dat die hele gesin vroeg opgestaan. Ons het daardie oggend geskok-verbaas na die slierte reën gestaan en kyk. Gelukkig was dit ‘n gas-spitbraai-eenheid en ons kon dit op die stoep staan maak. Ons moes inderhaas die motorhuis regpak want die lapa het net skadunet vir ’n dak gehad wat die reën sou deurlaat en ander plek om dertig mense te onthaal was daar nie. Vir iemand wat by sy pa geleer het om nie goed weg te gooi nie want jy kan die dalk later nodig kry, was dit vir my ‘n stryd om te besluit wat moet uit die motorhuis na buitekamer, wat klaar oorvol was, verskuif word en wat moet weggegooi word.

Teen twaalfuur het ek die skaap by Steve gaan haal en met ‘marinade’ druppende uit die karkas het ek en Seuna die skaap op die spit vasgemaak en die gas aangesteek. Ons was baie haastig om nie die volksliedere voor die toets te mis nie en het die res van die voorbereiding aan vroutjie-doutjie en Doggie oorgelaat.

Toe die Bokke gaan lemoene eet teen halftyd het ons gou gaan kyk of die skaap nog reg was en gesien hoe die een poot losgekom het. Ek het die pote, deur die hakskeen senings met draad aan die spit-ysters vasgemaak en die feit dat die een poot losgekom het was vir my ‘n teken dat die skaap goed gemarineer was en baie sag gaan wees.

Na die wedstryd het die gaste begin aankom en sommer dadelik met die nabetragting van die toets, lekker begin kuier. So teen seweuur het ek ou Jakes, geoloog by die myn en ‘n deeltydse boer uit die Vrystaat, as kenner van skape en gevolglik die regte kandidaat, gevra om te help om die skaap van die spit af te haal en op te sny. Omdat die ruimte op die stoep maar beperk was, moes ons die skaap in die kombuis op die werkoppervlak opsny.

Met die eerste snit aan die boud het Jakes stil geraak en ek het verbaas gestaar na die rooi-bruin kleur van die vleis! Ons het bespiegel dat dit sekerlik maar die tipe marinade is wat gebruik is. Met die proe het ons net geskok na mekaar gestaar! Die vleis was so sout dat geen mens dit kon eet nie! Ek het Steve stil eenkant geroep en gevra wat aangaan. Hy kon, verbaas soos ek, net sy kop skud.

Niemand het daardie aand van die skaap geëet nie en die gaste het die onderwerp van die sout-skaap vermy. Gelukkig het vroutjie-doutjie genoeg hoender en ander vleis voorberei wat die situasie bietjie verlig het.

Ek het my verleentheid probeer verberg deur maar ekstra hard saam met die gaste te kuier en het na die laaste gaste weg is gou omgedop. Vroutjie-doutjie en Doggie moes maar sorg dat die plek ‘n bietjie aan die kant kom en die bederfbare goed in die yskas kry.

As jy in ag neem dat die laaste gaste eers teen twee uur die ogend weg is en Vroutjie-doutjie en Doggie teen drie uur nog besig was om op te ruim, sal jy die humor sien in Doggie, wat toe twaalf jaar oud was, se aanmerking “Will this nightmare never end!”

Die volgende oggend vroeg het Steve my gebel en gevra om supermark toe te kom.

“Hoekom Steve?” het ek bekommerd gevra “Wat is fout?”

“Jan” Steve het erg beswaar geklink “Ek wil vir jou ‘n skaap gee”

Ek kon verstaan dat Steve sleggevoel het maar het opreg die aanbod van die hand gewys.

“Nee Jan, ek wil vir jou ‘n skaap gee. Ek voel sleg want my slagter het ‘n groot fout met jou skaap gemaak.” het Steve aangedring.

“Watse fout Steve?” wou ek weet.

Steve het ‘n oomblik stilgebly en toe somber geantwoord. “Hy het die skaap nie gemarineer nie…maar gepekel.”

5 thoughts on “VEERTIGSTE VERJAARSDAG “SKAAP OP DIE SPIT”

  1. Veertig is maar net uit die ‘nappies’!Die ouderdom van my ma toe ek die wêreld binnegekom het.Harduit gelag vir die gepekelde spitbraai!

    Like

  2. Baie goed! Hoe het die skaap toe geproe?Koop vir Mev Bontie die Huisgenoot se treffer… ek het vandag ‘n spogmaaltyd daarmee aangmekaar geslaan.(Dankie vir jou gawe opmerking op my blog!)

    Like

  3. ek nooi julle om my Pa te kom ontmoet op my blog. Gister was eerste episode en oor die volgende paar dae gaan ek nog drie dele plaas.(Kyk na http://www.allrecipies.com. Ek kry elke middag 2 uur my resep vir aandete en kan dus so heerlike vars en nuwe maaltye voorsit. As mens eers begin het kom jy gou agter daar is ‘n klompie basiese bestandele wat jy moet aanhou… Vir die vreemde kosse so twee maal per maand, haal ek my ou geliefde reseppies uit)

    Like

  4. Dankie Mnr en Mev B, vir julle mooi woorde.Ek is half spottend met myself oor my blog vanoggend. Dank vader dat hierdie Leeu, drama-queen saam met die ouderdom gelykmatigheid ontdek het. My resep is maar bloot om die situasie teenoor my lewe op te weeg en as dit nie ‘n veskil aan my lewensstyl, gehalte, etiek maak nie….’don’t sweat the small stuff’.(NS: Ek is nie regtig mooi nie… net vir een of ander rede baie fotogenies… is maar half plain…)

    Like

Lewer kommentaar