GESIN GUNSTELINGE

Deur die jare kom altyd ‘n ‘gereg’ met enige gesin saam wat daardie gesin se gunsteling is. Dit is die ‘gereg’ waarvan almal hou en niemand in die gesin kan wag dat Ma moet opskep nie. Wanneer Ma dan ook hardop wonder wat sy vir Sondag ete gaan maak, sal iemand hierdie gunsteling ‘gereg’ voorstel.

 

In ons gesin se geval is hierdie gunsteling resep ons SAMPIOEN HOENDER EN RYS GEREG.

 

Dit was die eerste hoender gereg wat vroutjie-doutjie vir ons gemaak het na ons getroud is.   ‘n Vriendin het my skoonfamilie eendag genooi vir ete en het die gereg voorgesit. Sy was toe so vriendelik om ook sommer die resep te gee.

 

Sampioen Hoender.

8 Hoender porsies
Meel met sout en peper gegeur
25 ml olie gemeng met 50 g. botter
1 Hoender ekstrak blokkie
1 koppie rys
500 ml Kookwater
Sout
1 Blikkie geroomde sampioene

 

Rol die hoender in die meel (wat met die sout en peper gegeur is) en braai in die warm botter en olie tot goudbruin. Plaas die stukke in   ‘n kasserolbak en versprei die rys oor die hoender gevolg deur die sampioene. Los die ekstrak blokkie in die kookwater op en gooi dit oor die hoender, rys en sampioene. Geur met sout. Bedek kasserolbak en bak in   ‘n vooraf verhitte oond teen 180° C vir een uur.

 

Die hoender word heerlik sag en die rys is deurtrek met   ‘n dik sampioen sousie. Dit is veral die rys wat die meeste aftrek kry. As ma wegkyk, maak die kinders skelm die kasserolbak in die oond oop en gooi nog bietjie rys by want die rys is so lekker dat ma maar net sowel die hoender kan los en net die rys gaarmaak.

 

 

 

Kersfeeskos is vir ons die een ete waarin ons poog om die hele gesin se gunsteling resepte te akkommodeer.

 

Kersfees is regoor die wêreld van die Christendom ‘n Christus Fees, maar ook ‘n eet-fees… vir ons gesin is dit dieselfde. Vroutjie-doutjie het deur die jare   ‘n standaard Kersfees spyskaart ontwikkel wat elk van ons vier in die gesin se gunsteling gereg of bykos insluit. Ons wyk nie sommer van die spyskaart af nie en die voorbereiding begin gewoonlik   ‘n dag of twee voor Kersdag.

 

 

Kersfees Spyskaart:

 

Hoof Gereg

Gevulde Hoender

Gerookte Glans Ham

Gegeurde Rys

Benitha se Noodle Slaai

Drie Bone Slaai

Goue Pennie Wortel Slaai

 

Nagereg

Straw Rum Triffle (Koekstruif)

 

Die ‘Drie Bone Slaai’ en die ‘Goue Pennie Wortel Slaai’ kom uit   ‘n bekende resepte boek en daarom gaan ek die resepte nie herhaal nie. Die ‘Ham’ is   ‘n Gerookte Glans Ham wat ons by ons slagter koop. Net voor die feesseisoen kan jy ‘n gerookte glans ham by die meeste supermarkte ook kry maar die ideaal is om die by jou gunsteling slagter te bestel. Jy kan die glasering self doen met appelkooskonfyt en kersies maar dit is makliker as die slagter dit doen want die resep is standaard en dit proe dieselfde.

 

Hier volg egter die resepte van die ander items.

 

 

Gevulde Hoender

 

Kry ‘n lekker groot plaas hoender. Ek weet in die supermark kry ‘n mens hoenders met ‘n etiket wat sê “FREE RANGE CHICKEN” maar ek glo dit is ingevoerde hoender want in Suid Afrika word ‘n “FREE RANGE CHICKEN” binne een dag gesteel. So koop maar eerder jou hoender by die slagter wat eerlik erken sy hoenders is masjien hoenders van ‘n hoender plaas af. Terwyk jy by die slagter is, en indien hy ‘n goeie vriend is wat vir jou ‘n spesiale gunsie sal doen, vra hom om die hoender te ontbeen, anders… as jy die nog nooit voorheen gedoen het nie… vat ‘n dag by die werk af, koop twee ekstra hoenders vir ingeval die eerste verfonkfaai word en ontbeen jou die hoender self.

 

Vir die bestanddele moet jy die volgende hê:

1 Groot handvol maalvleis
1 lekker dit sny brood of twee snye as jy winkelbrood gebruik (sny die korsies af).
1 eier
‘n paar lekker skudde hoender speserye
2 t. Vars gemengde kruie (tiemie, roosmaryn, oreganum) of 1 teelepel droë gemengde kruie
4 of 5 repies spek (streaky bacon) in blokkies gesny
1 ui fyngekap
Sout en swart peper
Olie en botter om in te braai

 

Braai nou die ui en die spek in die olie en botter tot die ui deurskynend is. Skep die ui uit en braai die maalvleis met die kruie, sout en swart peper tot dit gaar is. Laat staan tot die koud is.

 

Was die hoender mooi skoon en droog die buite met ‘n kombuis handdoekie af. Sit die hoender nou met die rugkant na onder op ‘n houtbord.

In ‘n glasbak meng jy nou die koue maalvleis met die brood en die eier – werk die goed deur sodat die eier en brood goed met die maalvleis gemeng is.

Begin nou om die hoender van onder af met die vleis mengsel te stop. As die maagholte vol is, stop die res van die vleis in die krop. Werk al die gate (bo en onder) tydelik met ‘n tande stokkie toe.

 

Nou moet jy en jou gade mooi saam werk. Jy kry voor die tyd vir jou ‘n plastiek emmertjie (2 liter) of ‘n groterige jam blik en jy sny die bodem uit. Nou wat jy net wat jy by jou slagter gebedel het toe jy die hoender gekoop het en jy trek die oor die emmertjie of jam blik. Terwyl die een persoon nou die blik of emmer vashou, werk die ander een die hoender deur die houer terwyl die net terselfdertyd afgetrek word sodat jou hoender binne in die net anderkant uitkom. Bind die twee punte van die net in ‘n knoop, trek die tandestokkies uit en siedaar, jy het ‘n hoender rol! Die rol word nou goed olie gesmeer en in die yskas gehou vir minstens een uur om te rus voor die op die vuur of in die oond gesit word. Ons maak die gewoonlik op die Webber met die roteserie gaar maar indien jy die verkies kan jy die in die oond teen 180°. Ek dink so twee ure behoort genoeg te wees om die goed gaar te kry maar gebruik eerder ‘n vleis termometer.

 

Indien jy nie net in die hande kan kry nie of die jam blik storie lyk te moeilik, kan jy die hoender met ‘n toutjie vas werk.

 

 

Gegeurde Rys

 Olie om in te braai

1 ui (gesnipper)
 

½ groen rissie
 

1 Tamatie (ontpit, geskil en gesnipper)
 

1 koppie rys
 

sout na smaak
 

¼ t. borrie

 

Braai die ui. Voeg die groen rissie, rys en tamatie by en braai tot bruin. Pasop dat die rys nie brand nie.
Bedek met water. Voeg die borrie en sout by en kook tot die rys sag is.

 

 

Benitha se Noedel-slaai

 

 

500 gram skulp noedels
1 Handvol ertjies
1 Klein blikkie ingemaakte perskes 1 pak gesnipperde spek
1 koppie Mayonnaise
Twee teelepels kerrie (verkieslik klaar aangemaakte kerrie pasta)
250 g. cheddar kaas in dobbelsteentjies gesny
Sout

Kook noedels in soutwater tot andante.
Gooi perskesap af en hou eenkant.
Sny perskes in blokkies
Braai spek in   ‘n pan tot bros
Verwyder spek en meng saam met noedels, ertjies, perske blokkies en kaas
Gooi perske sap in pan waarin spek gebraai was, voeg kerrie by en kook vinnig vir   ‘n paar minute.
Meng met noedels mengsel.
Roer die mayonnaise by en bedien

 

 

 


Triffle (Koekstruif)

 

Die Straw Rum in die triffle het ons heel toevallig ontdek. Ons wou die triffle maak en het nie geursel gehad om te gebruik nie.   ‘n Paar maande voor die Kersfees het vriende kom kuier en vir ons   ‘n bottel Straw Rum gegee vir ons gasvryheid. Dit was, vir ons, so sleg en sterk dat ons dit nooit gedrink het nie. Uit nood trek ons toe daardie kersfees die bottel nader as alternatief vir die vir die geursel en ontdek toe dat dit wonderlik werk. Daardie geskenk bottel het ons vyf jaar gehou omdat ons die slegs vir geursel gebruik.

 

Vir die Triffle moet jy die volgende hê:

Twee of rolkoeke – die tipe met die konfyt in wat jy by die supermark kry.
1 blik (400 g.) gemengde vrugte in stroop
1 lt. vla (self aangemaak of gereed-vir-gebruik gekoop – indien jy koop moet jy versigtig wees om nie die goedkoop tipe te koop wat waterig is nie. Die beste is Ultra Mel vlae want dit is lekker dik en goed gegeur.)
1 pakkie rooi jelly (aangemaak)
1 pakkie groen jelly (aangemaak)
neute en/of kersies vir versiering

 

Sny die rolkoek in dun skywe.
Sny nou die jelly fyn deur 
  ‘n mes deur die gestolde jellie te trek.
Lê 
  ‘n diep glasbak uit met   ‘n laag rolkoek skywe. Besprinkel die rolkoek met Straw Rum of ander geursel waarvan jy hou. Dit word nou gevolg deur   ‘n laag rooi jelly, dan   ‘n laag groen jelly en dan gemengde vrugte. Bedek net met vla.
Herhaal al die stappe soos bo tot die bak sowat 25mm van vol is of tot jou bestanddele klaar is.
Versier en laat vir 
  ‘n dag in die yskas staan voor dit bedien word sodat die geure lekker kan deurtrek.

 

Soos ek reeds gesê het, sommige resepte word toevallig ontdek. Dit is soos ons die Eggnog resep gekry het.

 

‘n Mens hoor altyd van die ‘Eggnog’ wat die Amerikaners drink en ons het altyd gewonder hoe maak   ‘n mens dit en hoe smaak dit. My nuuskierigheid het een Kersfees die oorhand gekry.

 

Ons kyk die Ou Kersaand   ‘n program op televisie en die Amerikaners drink te heerlik aan hulle Eggnog, Ek besluit toe net daar en dan nou gaan ek uitvind hoe Eggnog gemaak word. Omdat dit voor die tyd van internet was, was die telefoon my enigste wyse van kommunikasie met die groter wêreld. Dit is hoekom ek toe die telefoon gids vat en die nommer van die Amerikaanse Ambassade in Pretoria bel. Ek vra toe die mannetjie wat antwoord of ek asseblief met die Ambassadeur kan praat. Hy sit my toe deur na   ‘n ou wat klink of hy die hoof van sekuriteit kan wees en ek verduidelik toe vir hom dat ek die Ambassadeur soek om hom te vra hoe maak mens hierdie Eggnog wat die mense van Amerika so op televisie drink. Die ou beveel toe laggend aan dat ek eerder die konsulaat moet bel en hy gee my die nommer. By die nommer antwoord weer   ‘n ou en toe ek hom sê wat ek soek, lag hy ook en sê ek moet wag hy roep sy vrou. Uiteindelik kom ek toe by  ‘n baie vriendelike Amerikaanse tannie uit wat my die volgende resep sommer uit haar kop gee:

 

Eggnog – Eier Drankie (Uit Amerika se konsulaat!)

 

 

(Een bediening)

 

1 eier – geskei
1 eetlepel suiker
¼ koppie room
1 sopie brandewyn, whisky of rum (die Amerikaners gebruik bourbon)

Klits die eierwit styf
Klits die room styf en voeg die suiker en brandewyn by
Vou die eierwit by die room in.

Nou drink ons elke ou Kersaand egte Amerikaanse Eggnog.

Advertisements

2 thoughts on “GESIN GUNSTELINGE

  1. More, jammer ek is so skaars maar het internet probleme gehad. So ‘n getrek is nie altyd maklik nie. Ons groot trek wag end November en mens kan al reeds ‘n verskil in die kinders sien, dit werk op hulle. Lekker week vir julle daar!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s