… en daar sterf my feetjie!

dying-fairy

… en daar gaan my feetjie dood!

Vandat ek getroud is, het ek ʼn feetjie gehad.

Vir vyf-en-dertigjaar het ek nie een keer my eie klere uit die kas gehaal nie. As ek uit die stort gekom het, het my klere op die bed gereed gelê… my feetjie het dit reggesit. Na ʼn ete was die skottelgoed nooit ʼn probleem nie. As Vroutjie-doutjie die aand gepraat het oor skottelgoed het ek net gesê “Ag los dit vir more.” Die volgende middag, as ek van die werk afkom, was al die skottelgoed gedoen en die volgende ete was gereed. My wonderlike feetjie het die gedoen!

My feetjie kon enige ding doen! Sy kon die braai-rooster was na ʼn aand se gekuier, opruim na ʼn potjiekos-onthaal, stryk… enigiets!

…en toe vrek my fairy… die dag toe ek aftree.

Die eerste oggend na my aftrede lê ons bietjie laat. Ek staan eerste op en gaan stort. Toe ek uit die stort kom lê Vroutjie-doutjie nog in die bed!

“En nou?” vra ek geskok.

“Wat?”

“Waar is my klere?”

“In die kas.”

Ek het nie so ʼn antwoord verwag nie.

Dit het my tyd gevat om by die nuwe verantwoordelikhede aan te pas. Deesdae gaan slaap ek nie as die skottelgoed nie in die skottelgoedwasser gepak is nie. Ek sit foelie onder in die braai voor ek vuur maak want ek moet die volgende oggend die braaier skoon maak. En… en,,, en,,,

ek mis my feetjie!

6 thoughts on “… en daar sterf my feetjie!

  1. Ek moes nou lag, hoor? In al die jare wat ek gewerk het hier in die nuwe millenium het my man toegesien dat my huishouding op geoliede ratte loop. Dan het hy so tussenin tuin gemaak, vrugte ingelê, namens my by die buurvroue gaan skinder … dit het ook tot ‘n einde gekom toe ek afgetree het. Wassit met die blienkieng feetjies wat sommerso saam met ons aftree?

    Like

Lewer kommentaar