Daardie Ierse Rub

Ek het die resep nou van 2019 af. Ons kan nie daarsonder nie.

Ons eerste kennismaking met die Ierse Rub het op 30 Oktober 2019 gebeur. Ons was daardie dag, tydens ons Ierland-toer in Cork. Blarney Castle was op die agenda, maar op aandrang van Benitha, ons dogter wat al jare in Dundalk, Ierland bly, kan ons nie Cork verlaat sonder dat ons die English Market besoek het nie.

So, reisplan verander, English Market, hier kom ons!

Hierdie mark oortref alle markte wat ek nog ooit gesien het. Daar is absoluut alles.

Onder andere is daar ʼn slaghuis in die mark, wat boerewors verkoop.

Iewers loop ons ʼn stalletjie, wat speserye verkoop, raak. Soos enige betaamlike Suid Afrikaanse man, loop ek nie verby ʼn spesery-rak sonder om te kyk of daar nie iets is wat die braai kan opvrolik nie. Dit is toe waar ek hierdie rub raaksien.

Terug in Suid Afrika toets ons dit en is onmiddellik spyt ons het nie tien botteltjies gekoop nie.

Ons gebruik dit mildelik en kort voor lank is die botteltjie leeg. Ek google die vervaardiger en kry ʼn epos adres.

Met my beste Engels vra ek of hulle vir my sal stuur as ek ʼn eft doen. Die vriendelike, vinnige antwoord is toe (vertaal) “Ons is verskriklik jammer, maar ons voer nie die rub uit nie. Dit sal ook baie duur wees om ʼn klein hoeveelheid na Suid Afrika toe te stuur. Ek wil egter voorstel dat u die bestanddele, wat op die agterkant van die houer verskyn sal bekom en eksperimenteer met hoeveelhede tot u die regte smaak ontdek.”

Ek (verslaaf aan Google) vat toe die houer en Google ʼn rub-resep met die bestanddele wat die naaste aan die op die houer is.

Die resep wat ek toe kry, waarvan ons die meeste hou, is hierdie een:

Ierland se Rub

Bestanddele:

4 el bruin suiker (donker)

4 el gerookte paprika

1 el fyn sout

2 el varsgemaalde swartpeper

2 tl knoffel poeier

1 tl uie poeier

1 tl mosterd poeier

1 tl fyn koljander

1 tl sumac

1 tl komyn

Aanwysings: Gooi al die kruie en speserye in ʼn bakkie en meng goed. (jy kan die ook in ʼn bottel gooi en dan goed skud.) Die rub kan vir tot ses maande in die kruidenierskas gestoor word, maar pensionarisse braai so baie dat die rub lank voor ses maande opgebruik is. Sprinkel die rub oor enige vleis (hoender en vis ingesluit) en vryf dit behoorlik in. Ons meng dit soms met ʼn bietjie olyfolie en smeer dit dan oor die vleis. Vir skaaptjops kan dit met worcestersous gemeng word.

Die bestanddele bv. gerookte paprika en sumac, is nie alles (hier op Stilbaai) oral beskikbaar nie. Daar is gelukkig winkels soos Woolies en Food Lovers in Mosselbaai wat dit in voorraad hou. Ek het dit al op Takealot se webwerf ook gesien.

Ek hoop jy geniet Ierland se Rub.

5 thoughts on “Daardie Ierse Rub

Lewer kommentaar