Ons aftree-plonspoel

Ons sou vanjaar in September ʼn Salted Ice Cream in Dingle, Ierland eet. Die reis het toe nie gerealiseer nie. Ons spandeer toe die geld en tyd om ons volgende ideaal te verwesenlik; om op warm Stilbaaidae, in ons eie plassiewater te sit. Veral tydens die somervakansies wanneer die strande oorvol pappas, mammas en jillende kindertjies is.

In Empangeni het ons kinders ʼn swembad besit. Net Saterdagoggende, wanneer die terugspoel (backwash) gedoen moet word, was dit my watergat. Daardie bad is gebou terwyl Bitha en ek by die werk en kinders in die skool was. Eendag was dit net daar, vir die kinders om in te om te baljaar.

Hierdie keer dit gaan dit anders wees; dit gaan ons pensioen-speelplek wees. Gebou onder ons inmengende oë.

Met die gedagte aan die speelplek, kyk ek so bietjie rond vir ʼn Speedo. Mr Price Sport het toe nogal ʼn knap enetjie, maar ongelukkig nie in rooi nie. ʼn Vriendin noem toe, dat Faffie vir haar so oulik gelyk met die Landsvlag-nommertjie waarmee hy Prins Harry ontmoet het. Ek wou toe weer by MR Price gaan kyk, maar besluit daarteen want die lawwe winkelassistent het reeds, met die Speedo soekery, heeltyd gestaan en giggel. Regte bakvissie. Ek sal maar eerder kyk of hulle nie iets by Takealot het nie.

Om ʼn swemgaatjie vir pensioenarisse te bou moet verskeie faktore in ag geneem word.

Besluit nommer een: waar?

Op ons Stoep. Maklik bereikbaar en ideaal geleë om net daar, op die rand te sit, en ʼn Weber-tjoppie te braai.

Besluit twee: grootte?

My voorneme is om elke oggend tien lengtes te swem. Drie meter is dus die maksimum lengte wat dit mag wees. Om dit vir die kontrakteur te verduidelik sonder dat hy lag, sê ek ons kan net ʼn derde van die stoep-oppervlakte gebruik. Groot genoeg om te geniet en steeds genoeg spasie vir kuier en buite-braai (hy het my geglo).

Besluit drie: watter tipe bad?

Die vorige besluite laat ons slegs met ʼn keuse tussen ʼn borrelbad (jacuzzi) of plonspoel (splash pool).

In Johannesburg het ons ʼn borrelbad gehad. As nuwigheid is dit baie gebruik. Later selde. Die romantiese idee om met ʼn glasie vonkelwyn by kerslig tussen die borrels te sit, kan nooit die moeite van die instandhouding regverdig nie.

Die keuse is dus voor die hand liggend – ʼn plonspoel. Klein genoeg vir ʼn romantiese interlude en groot genoeg vir tien lengtes swem.

Besluit vier: Sement of veselglas (pasgemaak of voorafvervaardig)?

Voorafvervaardigde veselglas, dit is die goedkoopste opsie.

ʼn Kennis se getuigskrif van John, ʼn swembad-installeerder, beïndruk ons.

John se kwotasie, wat hy en Mevrou John een Sondagoggend vir ons kom gee, lyk goed. ʼn Sonpaneel, teëlwerk om die swembad en ʼn houtprieel is ingesluit.

Net nog iets oor John en Mevrou John; na die besoek maak hy vir haar die kar se deur oop en gee haar ʼn soentjie voor hy dit weer toemaak. Kan jy sulke stuitigheid glo? Hier in Stilbaai. Voor ons huis. Ek het my dood geskaam.

John daag op die afgespreekte tyd op. Vergesel deur ses vriendelike manne.

Met ʼn lughamerboor begin hulle teëls en sement uitkap. Die geraas herinner aan vrese vir die oordeelsdag.

 Buurvrou kom, met ʼn frons en saamgepersde lippe, armswaaiend om die hoek gestorm. Die manne skrik, skakel die lughamerboor af en gee ʼn tree terug.

“Wat de hel maak julle?” skree sy.

“Bou swembad,” antwoord ek.

Sy kyk na die opgekapte stoep en toe na my… en weer na die stoep en weer na my. Die frons verdwyn en die saamgepersde lippe versag in ʼn stoute glimlag. Ek is seker daarvan, in haar geestesoog sien sy haarself, in ʼn g-string met ʼn cocktail in die hand, langs ons nuwe swembad.

Vir die volgende paar dae is dit net stof. In en om die huis, in ons hare en tussen ons tande. Alles kry ʼn vaal kleur, van my whiskey glas tot Milly se spierwit pels.

Na die uitkap, word die gat gegrou. Twee manne, een linkshandig en die ander een regs, grawe rug teen rug.

Die dag waarop die swembad afgelewer moet word, is die bouspan vroeg hier. John kry deurlopend per selfoon inligting oor waar die trok, wat in die nag uit die Kaap vertrek het, is.

Die trok, stop voor ons huis en hou die hele buurt se verkeer op. Die manne maak toue los en begin aflaai.

John bekyk die swembad en skielik gryp hy sy kop vas. “Stop! Stop!” skree hy en alles kom tot stilstand. “Dit is die verkeerde swembad.”

Ons staar verdwaas na hom. Hy haal sy maatband uit, meet en sowaar, die swembad is twee meter te lank. Terug Kaap toe is die enigste oplossing.

ʼn Week later word die regte swembad afgelaai.

 Die Installasie is ʼn skrikwekkende operasie. Die werkers moet, in die min ruimte tussen swembad en die kant, inklim en die bad rondskuif om te verseker dat dit gelyk is.

 ʼn Maand na die swembad bestel is, word dit op ʼn koue, reëndag, met ʼn tjoppie op die Weber en ʼn glasie Chardonnay ingewy… sonder buurvrou of die Speedo.

5 thoughts on “Ons aftree-plonspoel

Lewer kommentaar