Die Mense by die Kuierplek

Na so ‘n paar draaie deur die lewe en kuiers by mense wat jou laat wonder hoe jy jou daarby ingelaat het, is dit goed om ‘n draai by die Kuierplek te maak. Daar waar mense sonder pretensies of omvang van niksseggende woorde, sommer net lekker sit en gesels. Daar is geen vernis nie en die bietjie vernis wat daar was is vroegmiddag al weg gedrink of, die wie se vernis nie maklik afkom nie, is huis toe.

Moet ook nou nie onder die indruk verkeer dat dit alles hartseer stories is wat jou na ‘n sakdoek in jou sak laat grou nie. Nee… meestal is dit amusant en interessant.

Ek dink byvoorbeeld aan wat een van die tweeling my een aand vertel het. Die tweeling is twee broers waarvan die een, nie die een wat die storie vertel het nie, met die kroegmeisie ‘n verhouding het. Die een van die tweeling vertel my hy het so ‘n onderonsie met die bank se kredietkaart-afdeling gehad. Hy sê die bank-meisie bel hom en sê vir hom sy rekening is in krediet. Hy sê maar waar vererg hy hom! Hy sê vir haar dit is dan ‘n kredietkaart rekening! Hy is veronderstel om in krediet te wees!

Hartseer stories in daar ook, maar dit word meestal met soveel naakte, opregte, eerlikheid vertel dat dit eers, na diepe nadenke, minder amusant en meer hartseer klink.

Ek dink nou byvoorbeeld aan Adam (nie sy regte naam nie) wat al lankal vertel het hy sit in die oggende en wag dat die Kuierplek oopmaak en daar sit hy dan, in die Kuierplek, tot by toemaaktyd.

Adam bly so tussen hier by die see en bo in Gauteng, waar hy ook ‘n huis het. Geen vrou nie. Net hy en die kroegmeisie of kroegman (wie ook al aan diens is). Adam vertel my nou die aand hy gaan sy huis hier by die see verkoop en optrek Johannesburg toe om permanent daar te gaan bly. Ek was baie verbaas. Wie op die aarde sal sy huis by die see verkoop en permanent in Johannesburg wil bly?

“Hoekom?” het ek gevra.

“Finansies.” het Adam geantwoord en ‘n sluk van sy dop gevat.

“Jy? Finansies?” het ek verbaas gevra want ek het Adam en finansies nog nooit in verband gebring nie.

“Ja… dit knyp aan elke ou se sak om vyfhonderd rand ‘n dag uit te suip en dan nog jou normale uitgawes te hê.” het Adam geantwoord en doodluiters aan sy dop voort gesuig.

Daar is ook byvoorbeeld die vrou met die sewe-kleure hare. Haar kar het al ‘n paar keer iewers in die dorp gaan staan en dan kom sy Kuierplek toe vir hulp. Ook nou nie beswaard en op moedverlore se vlakte nie… nee sy sit eers en bestel ‘n dop en as een van die manne haar vra hoe dit gaan sal sy van haar kar probleem vertel. Sy vertel dit dan ook op so ‘n manier dat die vraer nie anders kan om, na die volgende dop of twee, hulp aan te bied nie.

As ek by die Kuierplek weg is weet ek… ek het nou saam met ‘n handy man, ‘n munisipale-raadslid, ‘n narkotiseer, ‘n boer en ‘n loodgieter gekuier… en dit was lekker. Geen vernis nie. Nie almal is liefdevolle mense met innemende persoonlikhede nie, daar is die wat sewe soorte rook uit jou irriteer, maar die voordeel van die Kuierplek is dat jy nie in ‘n ou se voorkamer is en met hom mòèt gesels nie! Jy hoef met niemand te gesels nie… of met die ou aan die anderkant van jou… of met die kroegman.

Wat dit wel hartseer maak is dat baie mense die Kuierplekstories sal hoor en dan hulle eie gevolgtrekkings maak en hulle oordele vel. Dit terwyl nie een ou in die Kuierplek ooit iemand iets vra nie en nooit oor die jurie wat hulle veroordeel, praat nie.

een voorbeeld is ‘n vriendin wat by ‘n winkel langs die Kuierplek gaan werk en nou bekommerd is dat die ouens wat uit die Kuierplek kom, haar gaan beloer… toe wonder ek… wat laat haar dink hulle gaan haar raaksien?

Wat wel waar is, is dat elkeen by die Kuierplek ‘n storie het… die kroegmeisie met haar tweeling vriend, ou Adam, die vrou met die sewekleure-hare en al die ander daar…

Advertisements

2 thoughts on “Die Mense by die Kuierplek

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s