Die goue Hek

Witbank huis

In 2009 begin ons huisbou.

Die eerste huis wat Vroutjie-doutjie en ek as eienaar-bouer aanpak. Wat ʼn ondervinding.

Ons bouer, Jacob, is deur ʼn kollega voorgestel. Die ooreenkoms was dat Jacob al die arbeid sou voorsien en ek die materiaal.

Ons eerste ontmoeting met Jacob was vreemd, om die minste te sê. Jacob en ek het ooreengekom om by die erf te ontmoet. Ek het voor die tyd “navorsing” gedoen oor hoe betaling aan die bouer moet geskied. Dit werk, volgens my “navorsing” so; ʼn sekere persentasiebetaling moet na voltooiing van die fondasie geskied, daarna ʼn volgende persentasie wanneer vensterbank hoogte bereik word ens, ens.

Toe ons by die erf kom was Jacob reeds daar.  ʼn Stil ou wat amper nors voorgekom het. Hy het mompelend en met half onvoltooide sinne gepraat. Ek sal, byvoorbeeld, nooit vergeet hoe hy homself aan my voorgestel het nie.

“Ja… ek is Jacob.” was al wat hy vir my gesê het. Nie gegroet of handskud nie. Net die paar woorde en my toe aangekyk asof dit nou my beurt was om iets te sê.

Tydens ons ontmoeting by die erf het dit gelyk of Jakob hom vererg toe ek my betaling metode voorstel.

“Jy sê nie vir my hoe jy my betaal nie.” het hy ergerlik gesê. “Ek sê jou.”

Hy het voor die erf, met die plan voor hom, op die sypaadjie gaan sit en die plan sowat tien minute bestudeer. Vroutjie-doutjie en ek het vir mekaar gekyk, groot oë gemaak en kop geskud.

Hy het opgestaan, gesug, en toe vir my vertel watter persentasies hy wanneer wil hê. Dit was toevallig omtrent dieselfde was as wat ek bereken het.

Dit was egter een van die min kere dat Jacob en ek verskil het. Hy is gelukkig baie bekwaam, eerlik en een van die redes dat huisbou, vir ons, net ʼn plesier was.

Van die min dinge wat nie in Jakob en my ooreenkoms ingesluit was nie, was die alarm en die hek.

Ek het ʼn bekende sekuriteit maatskappy gekontak vir ʼn alarm kwotasie en hulle het hulle verteenwoordiger, George, gestuur om vir my ʼn kwotasie te gee. Dit Kwotasie was twaalfduisend rand, wat in daardie tyd verskriklik baie vir ʼn alarm was. Ek het George bedank vir sy moeite en meegedeel dat sy kwotasie heeltemal te veel is. George het geheimsinnig nader geskuif en my met ʼn fluisterstem meegedeel dat hy dieselfde werk vir vierduisend rand kan doen. Dit was meer aanvaarbaar en ek en George het bladgeskud.

Tydens die installasie vra ek toe vir George of hulle nie sommer elektriesehekke ook installeerder nie? George het gesê hulle doen nie hekke nie maar dat hy ʼn baie goeie vriend het wat dit spotgoedkoop sal doen.

So het dit gekom dat ek Theo, George se goeie vriend en hekinstalleerder, kontak.  Theo het ooreengekom om my die volgende dag te kom sien.

Die volgende dag was ek in die motorhuis besig toe daar ʼn ou Audi stotterend voor die hek tot stilstand kom. Deur die rook kolom kon ek sien die kar is minstens sewe kleure geverf waarvan kanarie-geel, Farari-rooi op die een modderskerm en ʼn blou deur die kenmerkendste was. Daar was ook nog ʼn paar brandewynvlekke om die outentiekheid te bevestig.

Die bestuurder het uitgeklim en met ʼn uitgestrekte hand na my toe aangekom.

“Middag Oom. Ek is Theo die hekinstalleerder.” het hy glimlaggend gegroet.

Dit was ʼn aantreklike jong man. Baie gemaklik in sy werkklere en duidelik dat hy lankal daarmee werk. Dit was ook moeilik om hom in die gesig te kyk want sy bril was gekraak. ʼn Ou kraak, want die stof het al swart geword in die kraak. Ekle keer as ek na sy gesig gekyk het, het my oë onwillekeurig na die kraak in sy brillens gegaan.

“Hoekom skakel jy nie jou kar af nie?” het ek gevra.

“Omdat hy nie weer gaan start nie Oom?” het hy geantwoord.

Om hom brandstof te spaar het ek maar onmiddellik vir hom gewys waar ek die hek wil hê en hy het sommer daar en dan prys gemaak. Sesduisend rand. Vooruit betaalbaar.

Die terme was nie vir my aanvaarbaar nie en ons het ooreengekom dat ek tweeduisend negehonderd rand, sy materiaal koste, vooruit sal betaal en die res sou ek na voltooiing van die werk betaal.

Daardie aand, skuins voor slaaptyd doen ek die oorbetaling. Gewoonlik lees ek nooit die bankbevestiging van betaling nie maar, om een of ander rede, lees ek dit daardie aand. Tot my onsteltenis het ek gesien dat ek nege-en-twintigduisendrand in plaas van tweeduisend-negehonderd rand oorbetaal het! Ek was na aan ʼn hartaanval! Ek was oortuig dat die mannetjie met die stukkende bril en kleurvolle-geduikte kar nooit my geld gaan terugbetaal nie!

Nie ek of Vroutjie-doutjie het daardie nag geslaap nie. Tonele van ʼn jong man met ʼn gekraakte bril, saam met sy vrou en ʼn swetterjoel kleintjies op Durbanse strand met my nege en twintigduisend rand, het die heel nag deur my gedagtes gemaal.

Die volgende oggend, skaars na ses het ek die mannetjie gebel. Hy het doodkalm onderneem dat hy die geld, sodra die bank oopmaak, sal oorplaas na my rekening.

Ek het die vrede nie vertrou nie en die mannetjie se vriend, George die alarm man, gebel en hom van die foutiewe betaling vertel. George het onmiddellik gesimpatiseer en verklaar dat hy ongelukkig nie sal kan help nie want hy ken die hekman nie eintlik nie.

Daardie middag was daar nog geen oorbetaling nie. Ek het die man gebel en hy was reg met ʼn antwoord… wat nogal geloofwaardig was: “Die bank sê die geld wys nog nie in sy rekening nie. Dit sal eers na drie dae wys.”

Ek en Vroutjie-doutjie het die volgende drie dae ook nie geslaap nie.

Die oggend van die vierde dag het ek die mannetjie weer gebel.

“Ek belowe Oom, sodra die bank oopmaak gaan trek ek die geld en betaal dit by Oom se bank in.”

Ek het die foon neergesit en was meer gerus… totdat ek Vroutjie-Doutjie daarvan vertel het.

“Jy’s seker gek?” het sy ontsteld gesê: “Hy sê net hy is beroof en jy sien die geld nooit weer nie!”

Ek het die mannetjie dadelik gebel en gesê die geld mòèt oorbetaal word en nie in kontant getrek word nie. Hy het doodluiters ingestem.

Teen die volgende oggend was daar nog geen betaling nie.

Ek het desperaat ʼn prokureur gebel om raad te vra. Sy het vriendelik die mannetjie se kontak besonderhede geneem en gesê ek moet my nie vêrder bekommer nie.

Daardie selfde middag was daar ʼn betaling in my bankrekening, Drie-en-twintigduisend rand. Die mannetjie het sy sesduidendrand afgetrek. Ek het die prokureer gebel en gevra hoe sy dit reggekry het?

“Ag nee wat.” het sy geantwoord. “Ek het hom net gebel en gesê as die geld nie binne ʼn uur oorbetaal is en die hek nie die volgende dag opgesit is nie, vat ek sy stukkende bril en sy kleurvolle kar.”

Nodeloos om te sê… die volgende middag was die hek, gevaarlik lendelam op.

Ek moes die hek ten duurste, deur ʼn professionele ingenieur laat versterk maar ons het te minste daarna rustig geslaap.

 

 

Advertisements

2 thoughts on “Die goue Hek

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s