Oom Swannie

Wanneer ek hoor van ou mense wat eensaam is, projekteer ek dit instinktief op vrouens. My perspektief is daarin geleë dat die man, oor die algemeen, die lewensmaat is wat eerste tot sterwe kom. Dit is ʼn algemeen aanvaarde feit dat daar meer vrouens as mans in ouetehuise en in bejaarde sorg is.

   Of dit nou vrouens of mans is wat die langste lewe verander nie die feit dat ʼn ou mens se eensaamheid die hartseerste is wat ek nog waargeneem het nie.

   So ʼn paar weke gelede word ek in ʼn kliniek, in ʼn saal met vyf beddens, opgeneem. Kort na my opname, bring ʼn ambulansspan ʼn ou man daar aan. Hy word skuins oorkant my in ʼn bed gehelp want hy kan nie self regkom nie.

   Die verpleegsters wat hom in die bed gehelp het is skaars weg toe is die ou man vas aan die slaap… of is hy dood? wonder ek. Hy lê daar met half oop oë, mond oop gesper en wange ingeduik. Hy is maer.

20170317_054427

  

   Eers steur niemand hulle aan hom nie. So half asof hulle gewoond is aan hom. Later toe die rondes gedoen word vir bloeddruk en pille word uitgedeel, begin die ou man beweeg en die suster gaan staan met ʼn lêer langs hom.

    “Meneer Swanepoel ek moet jou nou opneem.” sê sy “Ek wou jou nie vroeër pla nie want jy het geslaap.”

   Hy antwoord haar nie.

   “Naam?”

   Hy antwoord steeds nie… staar net na haar.

   “Wat is jou naam Meneer Swanepoel.”

   “Wat dink jy Suster?” reageer hy met ʼn krakerige maar duidelike stem “My naam is Swannie. Waar het jy van enige Swanepoel gehoor met ʼn ander naam as Swannie.”

   Oom Swannie kyk na die man wat, in die bed langs hom, die situasie proesend van die lag dophou: “ Ek weet nie hoekom enige Swanepoel se ouers die moeite doen om hulle kinders name te gee nie.” sê hy “Alle Swanepoels word altyd Swannie genoem.”

   “Hoe oud is jy Meneer Swanepoel?” gaan die suster ongeduldig voort.

   “Hoe sal ek nou weet? Ek steur my al jare nie aan ouderdom nie. Ek het geen benul hoe oud ek is nie.”

   “Wat is jou adres Meneer Swanepoel?

   Hy kyk haar ʼn kyk asof sy dom is: “Ek weet nie. My seun het my by die Immergroen-versorgingsoord afgelaai en daar bly ek. Ek het nie ʼn idee waar dit is of hoe om daar te kom nie.”

   Die suster het ʼn paar aantekeninge gemaak, die lêer gevat en uitgestap. Ek dink sy het later ʼn familielid gekontak om die inligting te kry want uit Oom Swannie, kon sy niks kry nie.

   Later daardie middag het ʼn baie dinamiese, gryskop vrou vir ʼn paar minute by Oom Swannie kom kuier. Sy het eintlik net ʼn bottel koeldrank en ʼn pakkie lekkers op die kassie neergesit en geloop. Ons het later uitgevind dat dit Oom Swannie se eks-vrou is. Hy is klaarblyklik meer as twintig jaar gelede geskei maar hulle het steeds kontak.

   Al wat sieke, minder sieke en gesonde in die saal was, het Oom Swannie egter gou leer ken. Hy het die meeste van die tyd met half oop oë gelê en slaap maar wanneer hy wakker was, het hy almal laat skater met sy kwinkslae.

   Hier is onder andere ʼn paar van sy mededelinge:

  • Een oggend toe die nagskof verpleegsters gou die laaste paar goed moes regkry voor die dagskof oorneem snou hy hulle toe: “Julle is vanoggend soos ʼn klomp dronk vlieë in ʼn matroos kombuis.”
  • Die tee word later as gewoonlik uitgedeel en Oom Swannie kyk verlig na die dame wat die tee uitdeel. “Ai ek is so bly om jou te sien.” sê hy “jy weet, as hulle in die weermag die generaal skiet sal geen haan daarna kraai nie maar as hulle die tea girl skiet is daar chaos in die weermag.”
  • Behalwe die dame wat Oom Swannie die eerste dag besoek het, het hy nooit ʼn besoeker gehad nie. Selfs voor die operasie, waarvoor hy opgeneem is, het niemand hom besoek of ondersteun nie. Een dag doen die dokter rondes en stap verby Oom Swannie sonder om te stop. Oom Swannie het die res van daardie dag, sonder ophou, gekla oor die dokter hom “geïgnoreer” het. Die volgende dag het die dokter dit duidelik van Oom Swannie gehoor. “Dokter.” het Oom Swannie hom geroskam “Hy strol gister net hier verby en ignoreer my. Weet jy, as ʼn mens in die hospitaal lê en sy vriende en familie ignoreer hom is dit erg maar as sy dokter hom ignoreer is dit verskriklik!”

   Die arme dokter het nie woorde gehad nie. Hy het net ʼn onbeholpe verskoning gemompel.

   Behalwe dat Oom Swannie vir ʼn blaas probleem in die hospitaal was, hy het ʼn permanente kateder ingehad, het hy jare tevore beroerte gehad en kon, as gevolg daarvan, sy een arm en hand nie gebruik nie. Dit was dus vir hom onmoontlik om self te eet. Die verpleegpersoneel het sy kos op die bedtafeltjie neergesit en later, wanneer iemand tyd gehad het, sou hulle hom kom help om te eet. Ek moet byvoeg dat die hospitaal, na my beskeie mening, te min personeel het. Ten spyte daarvan, het die verpleegsters hul bes gedoen om hul pligte na te kom.

   Soms het Oom Swannie, met die gesonde hand, een van die lekkers uit die pakkie wat die eks-vrou vir hom gebring het, gevroetel en desperaat, met een hand, probeer oopmaak. Vroutjie-Doutjie, wat van vroegoggend tot laataand by my in die hospitaal gesit het, het wanner sy dit gesien het, tot Oom Swannie se redding gekom en die lekker vir hom oopgemaak. Sy het ʼn paar keer daaraan gedink om die kos voor hom neer gesit is, vir hom te voer maar die risiko dat hy mag verstik was net te groot.

   Die oggend van my laaste dag in die hospitaal het oom Swannie, met vroutjie-doutjie se aankoms, nog niks geëet nie. Toe sy verby hom loop het hy haar nader geroep.

   “Wil hy nie by die hospitaal se kafeteria vir my ʼn samoesa gaan koop nie?” het hy gevra “Ek het heel nag van ʼn samoesa gedroom en is nou so honger.”

   Vroutjie-doutjie is dadelik af kafeteria en moes met die slegte tyding, dat die kafeteria nie samoesas het nie, terug kom.

    Ek is daardie oggend teen elfuur ontslaan. Vroutjie-doutjie het daarop aangedring dat ons eers iewers in die dorp samoesas gaan soek en dit vir Oom Swannie hospitaal toe neem.

   Ek is ʼn week later vir nog komplikasies in dieselfde hospitaal opgeneem. Hierdie keer vas daar twee ou ooms in die saal. Weereens sonder familie of vriende vir ondersteuning. Die een is na twee dae ontslaan en die ander is, na ʼn operasie, direk hoësorg toe sonder dat iemand sy hand ʼn drukkie gegee het voor hy die teater in is of, soos vroutjie-doutjie altyd met my doen, hom op die voorkop te soen, Daar was ook niemand om vir hom by die teater deur gewag het toe hy uitkom nie.

Hartseer!

Advertisements