Nina se trots

Willem se laaste gedagte toe Nina se kis in die graf sak was hoe trots sy op die meubels was wat sy oor die jare bymekaar gemaak het.

Die meeste het sy by ou Mevrou Muller gekry, ander by die Muller-kinders, maar baie het sy self by tweedehandse winkels in Mosselbaai gekoop en dan veels te veel betaal om dit op die plaas te laat aflewer.

Soos ou Mevrou Muller, was Nina baie lief vir egte hout. Die eike-eetkamerstel, die sitkamer se bal-en-klou-stel waarvan die kussings al verbleik en hier en daar verweer was, swarthout-koffietafeltjies en die pragtige eike-bedkopstuk in hulle slaapkamer. Dit was Nina se trots.

Nina was ʼn sterk vrou. Nie eens die borskanker kon haar onderkry nie. Maar die nag toe sy haar trots verloor het, het Nina alle wil verloor. Dit het gebeur asof dit so beplan was.

Eers het Meneer Muller die gedeelte van die plaas waarop Willem gewerk het, en waarop hulle huis ook was, aan die Oosthuizens verkoop. Oosthuizen wou toe nie die werkers permanent op die plaas hê nie en Willem en Nina moes ʼn ander heenkome soek.

Willem kry toe ʼn plekkie langs die Gourits-Mosselbaaipad. ’n Klein huisie, maar met die kinders uit die huis, was dit net-net groot genoeg vir Willem en Nina en Nina kon haar geliefde meubels hou.

Toe kom die nag van die vuur. Soos van nêrens. Nina het eerste wakker geword van die geskree van Petrus Arendse wat naas hulle gebly het. Sy het Willem wakker geskud en toe hulle uitkyk was die vuur sowat tweehonderd meter weg. Hulle het eers die klere, kos en beddegoed oor die pad gedra en daarna, met die bure se hulp, kon hulle die meeste van Nina se meubels ook oor die pad kry.

Maar die vlamme was groot en die wind was sterk! Die vuur het oor die pad gespring en almal moes vlug vir hulle lewe. Vir die draak wat alles voor hom opvreet. Al hulle besittings! Klere, beddegoed, kos… en ook Nina se ggeliefde meubels.

Die volgende dag, moeg en vol roet en stof, met net die klere aan hulle lywe, het hulle by die kinders op Albertinia aangekom.

Dit was nag toe Nina opgegee het. Daardie nag het sy met ‘n vêr uitdrukking op haar gesig gewag op die dood om haar te kom haal. En hy’tgekom… en sy’t Willem alleen gelos by die kinders.

Nou hier langs die graf, met trane op sy wange, wonder Willem hoekom hy nie vir Nina gelukkiger kon maak nie? Hoekom hy nie kon plan maak om die meubels vêrder weg van die pad af te dra nie? Hoekom hy nie opgehou drink het toe Nina hom so gesmeek het nie want dan sou hy dalk gouer wakker geword het om die meubels te red!

Advertisements

8 thoughts on “Nina se trots

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s