WITBANK

Om terug van Natal af Mpumalanga toe te trek is ‘n baie groter aanpassing as om van Mpumalanga af Natal toe te trek. Die gevoel wat jy kry as jy in Natal is, is baie meer ontspanne en die mense is rustiger. Mpumalanga, soos Gauteng, gee jou die gevoel dat alles ‘n gejaag na wind is en dit voel of niemand hier bly omdat hulle graag wil nie maar eerder net omdat dit die plek is waar hulle hul lewens brood verdien.

 

Gelukkig was daar heelwat van ons ou vriende wat ons in Ermelo, Empangeni en Richardsbaai geken het, wat reeds vroeër Witbank toe getrek het en hulle het ons gou tuis laat voel.

 

Ons was baie gelukkig om… uiteindelik… ‘n baie lekker groot huis met ‘n groot tuin te kry. Die tuin het ons die geleentheid gegee om met ons stok perdjie, die kweek van kruie, waarmee ons in Vryheid begin, het voort te gaan. Min het ons geweet dat vroutjie-doutjie kort voor lank ’n inkomste uit hierdie stokperdjie sou kry.

 

Van hierdie vriende wat ons weer in Witbank raakgeloop het en ons gou tuis laat voel het was byvoorbeeld Gerhard en Rina, met wie ons nou nog baie aande om die vuur sit en gesels, Mark ‘The Gadget Man’ en Tanya wat nou in Standerton bly maar baie van ons belangstellings deel en Mark wat ‘vir ons onthalwe’ elke nuwe ‘gadget’ op die mark toets. Dan was daar Francois en Hester. Dit is nou nie die Francois na wie ek vroeër verwys het, wat die rou pampoentjie en poeding oor sy rys geëet het nie! Hierdie Francois was op Ermelo in ‘n stadium my departementshoof en dit was lekker om hom en Hester hier in Witbank te hê. By hulle het ons al in Ermelo ‘n resep of twee afgekyk en hier in Witbank het hierdie bron van lekker kos resepte nie opgedroog nie. Ons gebruik byvoorbeeld nog gereeld een van Hester se resepte, wat ons in Ermelo by haar gekry het, as ‘n voorgereg met ‘n vleisbraai. Dit is die ‘Strokies Steak’ voorgereg.

 

Strokies Steak Voorgereg

 

Soveel steak as wat nodig mag wees, in dun strokies van 10 sentimeter x 2 sentimeter.

Marinade:

1 k kookolie

1 k druiwe asyn

¾ k bruin suiker

½ k tamatie sous

½ k blatjang

3 t sout

1 t droë mosterd

1 t met die volgende mengsel – gelyke hoeveelhede van – kerrie, borrie, wonderpeper, neutmuskaat en fyn kaneel.

1 e grof gemaalde koljander

4 gekapte knoffel huisies

1 fyn gekapte ui

Vars gemaalde swart peper

 

Meng in ’n voedselverwerker saam en laat dan vir ’n halfuur staan voor gebruik sodat al die geure kan meng.  Gebruik genoeg marinade om die vleis te bedek en marineer vir minstens drie ure maar verkieslik oornag.

 

Die marinade behoort genoeg te wees vir 3 kg vleis maar as jy nie alles gebruik nie kan dit in die yskas gehou word vir die volgende braai. Die kan ook gebruik word vir hoender, tjops of sosaties.

 

Francois en Hester het ‘n wildplaas, Ositele, naby Heidelberg gehad. Hulle het ons een naweek oorgenooi wildplaas toe. Dit was ‘n pragtige plek. Vroutjie-doutjie, Doggie  en ek het in die boskamp met pragtige hout chalets gebly terwyl Francois en Hester in die oorspronklike opstal, sowat ‘n kilometer van die boskamp af gebly.

 

Dit was nou weer ‘n ander onvergeetlike ondervinding!

 

Weereens ‘n eerste vir ons was dat die water met ‘n ‘donkie’ warm gemaak moes word. Francois het gewaarsku dat ‘n mens nie te veel hout in die ‘donkie’ moes pak nie. Die gevolg was dat ons die eerste oggend te min hou gepak het en… in ‘n Hoëveld-winter… ‘n koue stort moes trotseer! Die tweede oggend het ons gesorg vir heelwat meer hout op die vuur. Die water was egter steeds koud en weer moes ons die koue stort trotseer. Sowat ‘n uur later was die water heerlik warm, maar helaas te laat. Ons moes die ‘donkie’ bietjie meer tyd gegee het, het Francois later vir ons gesê.

 

Vroutjie-doutjie en Doggie het veral die aande se vuurmakery in die Boma geniet. Francois het gesorg vir ‘n berg hout wat die twee in twee aande opgebrand het. Die twee het dit so geniet dat ek… met klippe wat Francois van die plaas af aangery het… later by die huis ook ‘n Boma gebou het. Vroutjie-doutjie en ek sit nou in die winter minstens een maal per week langs ‘n lekker warm vuurtjie.

 

Hester het die hout chalets – daar was vier chalets en ‘n gemeenskaplike kombuisie – pragtig versier met hout meubels en helderkleurige gordyne en linne. Langs elke bed was daar vir elke gas ‘n botteltjie sjerrie met ’n etiket op waarop gestaan het ‘Ositele Anti-Freeze’. Ons het heerlik op die hout veranda voor die chalets gesit en met die Hoëveldse winterveld waar troppe blesbokke en swart wildebeeste rustig gewei het, ‘n glasie ‘Anti-Freeze’  geniet.

 

Die Saterdag oggend is ons na die opstal toe genooi en getrakteer op ‘n elfuur drankie genoem ‘Nakita’.

 

NAKITA

 

2 sopies Vodka per gas

1 Bakkie goeie kits koffie poeier

1 Bakkie strooisuiker

Lemmetjies in baie dun skywe gesny.

 

Elke gas neem ‘n lemmetjie skyfie, doop die een helfte in die koffie poeier, draai dit om en doop die ander helfte in die strooisuiker. Sit dit in jou mond en sluk dit af met die vodka.

 

My vorige buurman en goeie vriend, Mark (the Gadget Man), het my en vroutjie-doutjie ‘predictable’ genoem, as gevolg wan ons gewoonte om elke Vrydagaand te braai. Wanneer ’n mens so gereeld braai raak mens moeg om altyd dieselfde snitte en soorte vleis te braai en dieselfde bykosse daarmee saam te maak en jy begin eksperimenteer. Soos ek ook vroeër genoem het, kry ‘n mens oral ook idees vandaan. Ek het byveerbeeld een aand, met inbel-program oor radio, wat gegaan het oor wat mense graag as bykos maak wanneer hulle braai, twee idees gekry wat ek beproef het en verbaas was oor die resultate.

 

Pap met Boerewors.

 

Meng jou pap soos gewoonlik.

Sny boerewors, die hoeveelheid hang van jou smaak af, in twee sentimeter stukkies en roer dit in die pap mengsel in. Laat dit dan saam gaar word.

 

As alternatief vir die boerewors kan gerookte kaas wors, stukkies salami of enige wors van jou keuse gebruik word.

 

Jy sal verbaas wees oor hoe lekker die wors die pap geur.

 

Daar is darem niks so lekker soos ‘n vars gebakte brood nie en as jy eers begin het om jou brood in jou swart platboom-ysterpot te bak, gebruik jy nooit weer ‘n gewone broodpan nie. Dit is nou soos ‘n mens ‘n potbrood bak op die vuur , maar ons gebruik die ysterpot sommer om die brood in die oond te bak.  Dit is so al of die brood meer egalig in die pot bak.

 

Ek was betrokke by ‘n nege kort-putjie golf klub net buite Witbank. Al die lede moes saamwerk om die klub, wat baie min lewe het in stand te hou. So met die saamwerk is die tradisie dat daar eenkeer ‘n jaar ‘n Boere/Engelse dag gehou word. Dit is ‘n dag dat van die lede, en besoekers, hulle aantrek soos Boere uit die Anglo/Boere oorlog en ander hulle weer aantrek soos die Engelse uit daardie dae. Interessant is dat daar soms meer Engels sprekende lede in die Bore span was en meer Afrikaans sprekende lede in die Engelse span was as anders om. Die span waarin jy speel hang meer af van die outydse klere wat jy in die hande kan kry as van die taal wat jy praat.

 

Op die dag word daar dan sommer ‘n potjiekos kompetisie gehou. Teen ‘n nominale bedrag kon enige iemand ‘n potjie inskryf. Die enigste voorwaarde was dat die persoon genoeg gaste moes saambring om sy potjie op te eet. Golfspelers ontvang, saam met sy inskrywing op die dag, ook ‘n ete kaartjie vir ‘n bord potjiekos wat deur een van die komitee lede vir die spelers gemaak word.

 

As klub komitee lid was dit een jaar my werk om die kaartjies vir die golfspelers uit te reik. Vroutjie-doutjie en ek het ‘n paar vriende genooi en ek het besluit om so tussen die kaartjies uitgee deur, ‘n hoenderpotjie vir my gaste te maak. Ek was nie van plan om my potjie vir die kompetisie in te skryf nie, maar ek is omgepraat en het op die ou einde die tweede of derde plek met my potjie behaal.

 

Hier is my Kerrie Hoender Potjie resep.

 

Kerrie Hoender Potjie.

1 hoender – in stukke gesny

1 ui fyn gekap

1 t sout

1 e kerriepasta of 1 e kerrie poeier, Masala al die ander lekker saadjies en goed wat ’n mens by kerrie gebruik.

Olie

3 lourierblare

Water om in te kook

½ suurlemoen sap

1 e appelkoos konfyt

1 blikkie klapper melk

 

Braai die kerrie vir ’n paar oomblikke in die olie om die geur lekker ui te kry. Voeg nou die fyngekapte ui by en braai tot die ui deurskynend is die olie tot deurskynend. Braai nou die hoender tot goudbruin. (Ek braai altyd my vleis eers bietjie voor ek dit kook want ek glo daardie braaismakie gee die gereg altyd ’n beter smaak)

 

Voeg nou die suurlemoensap, appelkooskonfyt, lourierblare en sout by. Voeg water by tot die vleis net-net bedek is en kook tot die hoender van die bene af loskom.

 

Haal nou die pot van die vuur af, voeg die klappermelk by en roer goed deur. Laat die pot so 15 tot 30 minute asemhaal en bedien dan met rys.

  

 

Advertisements

One thought on “WITBANK

  1. Toe ek nog op laerskool was het ons gereeld vir my ouma se sus op Cradock gaan kuier. een van die dinge wat ek goed kan onthou is die vuur maak in die donkie, ons het dennebolle opgetel want dit brand die beste. laat jy my nou baie ver terug dink. Julle moet ‘n geseende week he!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s